Van Zyl Staalwerke bied produkte van onskatbare waarde aan boere

WhatsApp Image 2026-05-28 at 09.03.10 (2)
Vir die afgelope 41 jaar werk Van Zyl Staalwerke (VZS) reed nou saam met boere om oplossings te vind vir hul boerderyprobleme.
Oudergewoonte het VZS weer hierdie jaar by NAMPO Bothaville hul wye reeks produkte uitgestal asook ’n paar ou bekendes wat nou ’n nuwe baadjie dra.
“Ons doen baie besigheid saam met die boere en ons lewer regoor Suid-Afrika. Die meeste van ons produkte was by NAMPO uitgestal en ons was trots om te wys wat ons het,” het Nico van Wyk van Van Zyl Staalwerke gesê.
Oor die jare heen het hulle baie nou bande met boere gesmee. Nico sê: “Ons bou tussen 900 en 1 300 implemente per jaar, en baie van die implemente ontstaan as gevolg van kliënte wat sekere behoeftes het rondom sekere produkte. Met ander woorde, regdeur die jaar, elke jaar is daar aanpassings wat ons maak aan implemente om hulle beter en sterker te maak en so die beste implement vir die plaas te ontwikkel.
“Die beste implemente word op ’n plaas gebou en nie in ’n fabriek nie, want ’n boer weet wat werk op sy plaas,” verduidelik Nico.

VZS se rolsif kan boere geld en tyd bespaar deur hulle te help om die beste graad graan na die mark te neem.
Rolsif
VZS se rolsif is reeds baie jare lank in hul stal en volgens Nico is dit ’n uiters belangrike deel van elke boerdery-opset.
Die sif word gebruik om klein pitte en ander materiaal soos groen peule by sojabone uit te sif. Hierdie sif is beskikbaar as ’n dubbel- of enkeldrom-weergawe. Die dubbeldromsif is meer geskik vir sojabone terwyl die enkeldrom beter werk vir mielies en sonneblom sowel as sojabone.
Die sif kan tussen 30 en 40 ton graan per uur sif reg langs jou veld. Die rolsif verwyder ongewenste elemente en kleiner graanpitte om te verhoed dat boere se graan as swakker gekwalifiseer word by die silo’s.
Die kleiner pitte wat uitgesif word kan weer as veevoer gebruik word. Hierdie sif het die potensiaal om jou graangehalte met een tot twee grade te verbeter.

VZS se Semi Inline Ripper belug boere se grond en berei saadbeddens voor.
Subsoiler
Een van ons die produkte wat Van Zyl Staanwerke bied is die Semi Inline Ripper wat ook bekendstaan as die Subsoiler. Hierdie implement is van onskatbare waarde vir boere.
Een van die belangrikste veranderinge wat aan hierdie implement aangebring is, is die gebruik van kronkelvere (coil springs) in plaas van bladvere om te sorg dat daar behoorlike grondpenetrasie is. Die skeurploeg se wegbreek-aksie is op 2,2 ton en die slytdele op die skeurploeg se tande is betreklik goedkoper in vergelyking met ander produkte op die mark.
“Hierdie skeurploeg doen baie goed, hy deurlig jou grond en as jy dit behoorlik gedoen het, hoef jy dit net elke vier of vyf jaar te doen,” vertel Nico.
Jy kan direk agter die trekker met hom werk en omdat die semi inlyn gespasieër word, veroorsaak dit dat die skeurploeg ook ligter trek en jou materiaal makliker deur.
Hierdie implement het ’n werkdiepte van 450 mm of 650 mm met langer tande, benodig ongeveer 40 tot 47 pk (30 tot 35 kW) per tand en het ’n tandspasiëring van 760 mm. Die tande het ’n vervangbare slytstuk aan die voorkant en die skeurploeg kom met opsionele swaardiensrolle om grondkluite op te breek en die saadbed weer gelyk te maak.

VZS se nuwe tapkar. Dit is ’n 45 000 liter- en 35 ton-bielie.
Tapkar
Die nuutste toevoeging tot die VZS Tapkar-reek is die 45 000 liter-meneer. Hierdie tapkar het dus ’n bakkapasiteit van 35 ton. Hy het tandem-aste, wat die bestuur van die tapkar makliker maak as jy oneweredige grond in jou lande het.
Die uitlaaikapsiteit van die tapkar is baie hoog. Net soos die 25 ton- en 20 ton-tapkarre van VZS het dié een ’n uitlaaikapasiteit van vyf ton per minuut op luier (idle) as die trekker ’n PTO-spoed van 1 000 rpm het.
Gevolgik laai die tapkar vinnig uit en as alternatief kan hy ook onder uitlaai met ’n silinder wat van die trekker af werk. Die ander opsie is dat boere die hidrouliese sluis kan oopmaak en dan toe kan stel sodat die tapkar maklik volgemaak kan word sonder om te mors.
VZS se tapkarre kom ook standaard met seiltjies.
Indien jy meer wil leer oor enige van hierdie produkte, VZS se wye reeks implemente wil besigting of met die span kontak wil maak, kan jy hul webtuiste besoek by https://vzsgroup.co.za/
