Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA295-gewasproduksiePublished On: 5th September 2024

Van saad tot tafel: Die All Gold-verhaal

By 3 min read
651 words

IMG_8932

Tamatiesaailinge word uitgehaal en reggemaak om na die boere toe te gaan.

Of daar nou 36 tamaties in ՚n bottel All Gold tamatiesous gaan of meer, niemand kan stry dat die sous die meeste kossoorte verbeter nie. Bo-oor jou skyfies of as deel van jou sous, in Suid-Afrika weet elke mens op elke hoek en straat wat All Goldtamatiesous is. All Gold is ՚n produk van Tiger Brands, en die maatskappy se eerste oorweging is gehalte.

Tiger Brands is een van die grootste rolspelers in Suid-Afrika se tamatiebedryf. Hulle tamaties word hoofsaaklik in Musina in Limpopo en Lutzville in die Wes-Kaap gekweek. Dit is ook hier waar hulle twee verwerkingsfabrieke is. Hier word die tamaties in die gesogte tamatiesous omskep voordat dit na Tiger Brands se fabriek in Boksburg geneem word vir verpakking. 108 boere verbou tamaties in Musina vir Tiger Brands; 38 kommersiële boere en 70 kleinskaalse boere. Hierdie 108 boere verskaf werk aan 600 permanente werkers en 4 000 seisoenale werkers. In Lutzville is daar 58 boere wat onder Tiger Brands gekontrakteer is en van hierdie is 50 kommersiële boere en agt kleinskaalse boere.

Om ՚n boer vir Tiger Brands te wees beteken dat jy net die beste gehalte tamaties moet lewer. Dit begin natuurlik alles by die saad. Vir hierdie doel word Riverside Kwekery in Musina ingespan. Omdat All Gold-tamatiesous net van sekere tamatie-kultivars gemaak word, verskaf Tiger Brands die saad aan Riverside Kwekery wat saailinge aan die Tiger Brands-boere lewer. Riverside plant die saad in polistireen-plantbakke met ՚n mengsel van bas en TS1-substraat om te ontkiem. 242 sade word per plantbak geplant. Riverside Kwekery gebruik ՚n plantmasjien wat die saad akkuraat en ewe diep plant.

Die saadbakke word na die ontkiemingskamer geneem waar die temperatuur tussen 23 en 26 grade gehou word. Dit duur tussen 24 en 36 uur vir die tamatiesade om te ontkiem en dan word hulle geskuif na die kwekery. So 28 tot 32 dae later word die saailinge na die boere gestuur. Die saailinge word behandel om te verseker dat hulle siektevry is wanneer hulle na die boer gaan. Sipho Modiba, landboubestuurder van Tiger Brands, vertel dat hulle wel voorheen natuurlike produkte probeer het, maar dat die chemikalieëprogram wat hulle gebruik, getoets is om veilig vir die plante en die verbruiker te wees. Hulle probeer ook om hierdie saailinge so gehard as moontlik te maak sodat hulle sal floreer wanneer hulle op die plase uitgeplant word.

Dus is daar nie ՚n spesiale hoekie teen die wind en weer nie, maar hierdie saailinge trotseer van die eerste dag af reeds die elemente. Hier in die kwekery kyk hulle reeds na die tamaties se brix-inhoud. All Gold-tamatiesous word net gemaak van tamaties met ՚n brix-inhoud tussen 5 en 5,5. Die perfekte hoogte vir die saailinge om na die boere te gaan, is so 15 cm. Indien hulle te klein is, sal hulle doodgaan as hulle uitgeplant word, en indien hulle te groot is, sal hulle ook eers moet doodgaan en weer van voor af moet begin groei. Op 15 cm is die wortel groot genoeg om hom in die grond te vestig, maar die plant is nie te groot sodat die spanning hom sal doodmaak nie.

Riverside is een van vyf kwekerye wat deur Tiger Brands gebruik word en boere kan kies by watter kwekery hulle graag hulle saailinge wil kry. Die saadjie vir All Gold is geplant in 1908 toe die Skotse chemikus, John Semble, die unieke resep na Suid-Afrika gebring het. Oorspronklik is die produk vervaardig deur ՚n moeseliensak met kruie en speserye in potte varsgeparste ryp tamaties te laat insak. Dit het later so gewild geraak en massaproduksie vir All Gold tamatiesous het in 1959 begin. Teen 1985 het Tiger Brands reeds 250 miljoen bottels tamatiesous verkoop en in 1992 het hulle ’n goue toekenning gewen by die Monde Quality Awards in België.

Die volgende jaar het hulle sommer die All Gold Light- en All Gold Spicy-weergawes ook bekend gestel en later in 2000 het hulle die Pasta Pronto reg-om-te-eet souse op die rakke geplaas. In die volgende paar uitgawes bespreek ons die plantproses, vervaardigingsproses en verpakking.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0