Categories: Artikels, Vee en Wild, WildPublished On: 8th November 2023

Van plaaskind tot wildboer van die jaar

By 9 min read

tienie 9

Nie al die wild by Warthog Safari’s is so mak soos die twee jagluiperds nie, maar stel jou ՚n besoeker se opwinding en verbasing voor as dié twee kom kennis maak.

Tienie Bamberger is pas aangewys as Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Wildboer van die Jaar.

Hy het Warthog Safari’s van ‘n wildsplasie van minder as 200 ha op ‘n taai begroting oor twintig jaar ontwikkel in verskeie wildsplase van meer 10 000 ha wat vandag al die aspekte van die wildwaardeketting benut.

Meerkaaie en tarentale

Tienie het grootgeword op die plaas Rietkuil in die Ottosdal-omgewing in die destydse Wes-Transvaal.

“My belangstelling in jag het begin toe my pa my en my Tswana-maats gebruik het om probleemdiere te beheer – van rotte in die stalle tot waaierstertmeerkaaie, tarentale en ystervarke wat die mielielande verniel het, tot die jakkalse wat die lammers gevang het.”

Na hy aan die Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit matrikuleer het, is hy staatsdiens toe, maar het net ‘n paar jaar uitgehou voor hy en vriende ‘n selfoononderneming begin het. Later het hy op een na van die selfoonwinkels ontslae geraak en begin soek na grond om ‘n wildsplaas te begin. Hy het ook ‘n jag- en wildvangkursus gedoen.

“Ek was in my twintigs en het nie noodwendig ‘n groot stuk grond gesoek nie, eerder iets met potensiaal wat my kon laat kwalifiseer vir ‘n banklening, maar die banke wou niks weet nie …”

Tienie Bamberger en, sy vrou Ananja en hulle seuntjie JP.

Warthog Safari’s

Dit het hom nie van stryk gebring nie en in 1998 het hy Warthog Safari’s geregistreer en ‘n professionele jagkursus gedoen.

“Aanvanklik was Warthog Safari’s net ‘n stokperdjie: ek het begin om plaaslike jagters as groepe na wildsplase te neem om te jag. Dit is goedkoper as ‘n groep die koste deel en darem iets vir die pot skiet.”

Tussen 1998 en 2000 het Tienie begin probeer om buitelandse jagkliënte in Europa en Amerika te werf. Die eerste poging was onsuksesvol, maar later dieselfde jaar het hy darem drie kliënte gekry. Deur die jare het die netwerk gegroei.

Tienie is in 2001 met Ananja Laubscher getroud en 19 jaar later is hulle enigste kind JP te midde van die Covid-19-pandemie gebore.

In 2004 het ‘n gedeelte van 189 ha van die plaas Olifantskop in die Bosveld in die mark gekom en Tienie het dit gekoop en dis waar die gesin steeds woon.

Die plaas Olifantskop is destyds deur ‘n prokureur van Ellisras onderverdeel en as kleiner plase verkoop. Destyds was daar net ‘n plaashuis, twee houthuisies en ‘n sinkdakstoortjie.

Soos wat die ander gedeeltes en buurplase in die mark gekom het, het Tienie dit ook aangekoop. Dit het goeie beplanning en ‘n streng begroting gekos, maar stelselmatig het alles in plek geval. Nou, twintig jaar later, besit hy 10 000 hektaar in die hartjie van die Bosveld, asook die plaas Fransina in die Olyfhoekgebied in die Korannaberge in die Vrystaat.

Tienie Bamberger van Warthog Safari’s is deur WRSA aangewys as 2023 se Wildboer van die Jaar. Hier oorhandig hy ՚n tjek van R100 000 aan WRSA se
bestuur. Van links is Malan Davey (WRSA se ondervoorsitter), Colin Engelbrecht (WRSA se voorsitter), Charl Du Toit (WRSA se finansiële direkteur)
en Tienie.

Wildteling

Op albei plase word wild geteel om jagdiere te voorsien. In Vrystaat word vlaktewild soos swartwitpense, bastergemsbokke, rietbokke, swart rooibokke, swartwildebeeste, rooi lechwe’s en springbokke, asook leeus geteel.

Op Olifantskop word wild geteel wat eie is aan die Bosveld. Dit sluit ‘n groot trop buffels, renosters, rooiribbokke en klipspringers, rooibokke, blouwildebeeste, sebras en veral koedoes, asook vrylopende leeus in.

“Ons boer met die wildspesies wat endemies aan die twee gebiede is en waarvoor die klimaat en habitat gunstig is,” verduidelik Tienie. Manlike diere wat die genetika van die bestaande wild sal verbeter word aangekoop. Wild soos blesbokke of gemsbokke wat nie by hulle aard nie, word ook aangekoop as daar jagters is wat daarvoor vra.

“Ons koop weinig wild in, maar maak meer gebruik van konsessies rondom die plase wat as basiskampe vir die jagsafari’s gebruik word. Tussen dié plase het ons tot 90% van al die spesies wat in Suid-Afrika jagbaar is tot ons beskikking.”

Die grootste deel van die teling is ekstensief, maar daar is ‘n paar intensiewe kampe waar spesies geteel word wat nie so goed aard nie of waarvan nog nie genoeg is om te jag nie. “Ons moet ons wild beskerm teen jagdiere – hier is baie luiperds!’ Renosters word ook in ‘n kampstelsel aangehou waar hulle gemoniteer kan word.

Tienie Bamberger van Warthog Safari’s ontvang die trofee as 2023 se Wildboer van die Jaar van Colin Engelbrecht, WRSA se voorsitter.

Uitdagings

Die grootste uitdagings is droogte, voer en siektes. “My pa het altyd gesê jy het drie seisoene: ‘Een jaar maak jy geld, een jaar breek jy gelyk en een jaar verloor jy. Die geheim is dat jy die jaar wat jy geld maak, meer moet maak as in die jare wat jy gelyk breek of verloor.’

“Droogtes en siektes hou vir alle sektore van boerdery risiko’s in, dis hoekom ons so na aan ons Skepper moet lewe en altyd op ons knieë moet wees. Daar is ‘n paar faktore wat jy nooit buite berekening moet laat nie en al hoe jy daarvoor voorsiening  kan maak is om vooruit te beplan. Wanneer jy geld en stoorplek het, moet jy voer opgaar en bêre vir swak en droë jare. Vanjaar met die brande trek baie boere swaar en die wat voorsiening vir voer kon maak kan ‘n bietjie langer uithou en hulle diere langer aan die lewe hou.

“Al die natuurelemente hou ‘n uitdaging in. In droë jare is die diere maer en vrek van die honger; in goeie reënjare is die parasietlading baie hoog.”

Jag

Alle vorme van wettige jag word toegelaat en buitelandse sowel as Suid-Afrikaanse jagters jag met ‘n boog, ‘n geweer, of ‘n kamera.

“In die jagseisoen gebruik ons skuilings of jagtershutjies, wat buite die seisoen baie geskik vir fotografiese safari’s is. Die diere is die skuilings gewoond en kom drink by die watergat reg by die besoekers met hulle kameras.”

Tussen 100 en 130 kliënte kom jag in ‘n goeie seisoen. Tot 80% van die jagters is buitelanders en kom van oral in die wêreld. Die meeste is Amerikaners, maar daar is ook Kanadese, Dene, Duitsers, Spanjaarde, Pakistani’s, om maar enkele te noem.

Trofeewild maak sowat 15% uit van die wild wat gejag word en dit is gewoonlik ouer, manlike diere wat nie meer produktief is nie. Trofeejag word meestal deur buitelandse jagters gedoen, maar daar is ook Suid-Afrikaners wat belangstel – en wat hou van ‘n stukkie biltong!

Tussen 20% en 30% van die jaarlikse aanwas moet bestuur word, hetsy deur plaaslike biltong- of vleisjagters, of bestuursjag, wat die personeel self hanteer.  “Bestuursjag beheer wildgetalle en voorkom dat plase oorbewei en die habitat versteur raak en dit beskerm ander spesies waarvan die getalle nog te laag is om gejag te word. Geen lammers of onvolwasse diere word gejag nie.

“Die meeste biltongjagters kom uit die ‘voorwêreld’ of stede, of uit gebiede waar daar nie baie wild vir jag beskikbaar is nie. ‘n Plaaslike jagter kyk na sy begroting en jag spesies soos rooibokke of wildebeeste wat die beste waarde vir geld bied – dus hoeveel rand per kilogram se vleis hy kan huis toe vat. Die prys per kilogram vleis regverdig die kostes van so ‘n jagweek of -naweek.”

Warthog Safari’s se kliënte en besoekers kan in een van drie luukse verblyfplekke in die Bosveld en nog een op die Vrystaatse plaas Fransina
tuisgaan.

Gevaarlike wild

Ses van die sewe diere wat buitelandse jagters as gevaarlike wild beskou kom hier voor, al word nie almal gejag nie. Dit sluit die groot vyf, naamlik buffels, renosters, luiperds, leeus, seekoeie en krokodille in, maar nie olifante nie. Omdat olifante nie gejag mag word nie, is dit nie lonend om hulle aan te hou nie.

Koedoes is bo-aan buitelandse jagters se lys, maar groot en veral wit koedoes is skaars, net soos koning-njalas, wat soos die wit koedoes ‘n kleurvariant en nie ‘n afsonderlike spesie is nie. Die diere word geteel, maar dit neem ‘n koedoe byvoorbeeld tot tien jaar om uit te groei, en hulle is baie vatbaar vir droogtes en parasiete.

Bosbokke en bosvarke is ook nog te min om te jag, asook die sogenaamde Bosveld-gemsbokke waarvan net ou bulle gejag mag word.

Hulle het rooihartbeeste, gemsbokke en elande, maar die spesie aard nie regtig in die Bosveld met die hoë parasietlading nie. Die bosluise beskadig die vroulike diere se spene sodat sy nie ‘n kalf kan grootmaak nie. Die behandeling met aalwyn- of Ivermectin-blokke is ook net deels suksesvol. Natuurlike brande kan parasiete vernietig, maar dit is steeds nie ekonomies om met hierdie spesies te boer nie.

Ekotoeriste kan met ՚n boot op die Hans Strydomdam in die Mokolorivier uitgaan en visvang, of rondry en wildkyk. Vanuit strategies geleë
skuilings by watergate kan ook foto’s van die wild en voëls geneem word.

Ekotoerisme

Vroue en kinders wat saam met die jagters kom maak ‘n groot deel van ekotoerisme uit. Al jag hulle nie, geniet hulle dit om saam te ry, die dorp en omgewing te verken, of dagbesoeke na Pilanesberg, Sun City of Madikwe onderneem.

Lede van fotografiese safari’s vertoef tussen drie en vyf dae en daarna kan hulle ook  bogenoemde bestemmings, die Krugerwildtuin of die Victoria-waterval in Zimbabwe besoek.

Die grootste uitdaging vir oorsese besoekers is die rompslomp by lughawens en die land se hoë misdaadsyfer. “As Suid-Afrika daaraan kan werk om ‘n vriendelike en veilige atmosfeer vir besoekers te skep, sal nog meer buitelanders ons besoek.”

Besoekers kan in die dam in die Mokolorivier visvang, op wildbesigtigingsritte gaan of sommer net in die luukse boshuise uitspan.

Lerekhureng Primêre Skool ontvang gereeld skenkings van Warthog Safari’s.

Taksidermie

Buitelandse jagters laat al die wildsprodukte verwerk: ‘n rooibok se vel word gelooi en ‘n handsak, kussings en voetkussings gemaak, en die kop word opgestop. Die verwerkte produkte mag uitgevoer word en sodoende maak hulle gebruik van die hele waardeketting van die wildbedryf.

Die vleis van al die diere word in koelkamers op die plaas verwerk. Dit wat die buitelandse jagters nie huis toe neem nie word in die restourante gebruik, aan personeel uitgedeel of aan ‘n skool geskenk. Wat oorbly word verkoop.

Warthog Safari’s het ՚n volledig toegeruste taksidermie-eenheid wat trofees en velle vir jagters verwerk.

“WRSA se toekenning is vir my ‘n groot voorreg. Sonder my vrou en personeel sou hierdie toekenning nie moontlik gewees het nie. Dit is ‘n groot genade en seëning van God dat ons gekom het waar ons vandag is.

Hy meen wildboerdery lewer ‘n groot bydrae by tot die land se ekonomie en hy beplan om Warthog Safari’s verder te ontwikkel en uit te brei. “Die marginale grond wat ons gebruik en die wild wat ons teruggebring het na gebiede waar dit uitgeroei was, is omskep in ‘n juweel.”

Kontak Tienie Bamberger by 082 859 4224 of warthogsafaris@gmail.com. Besoek die webtuiste by https://warthogsafaris.com/

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment