Categories: Artikels, Meganisasie, SA294-meganisasiePublished On: 7th August 2024

Valtrac maak boneboerdery maklik en lonend

By 3 min read
579 words

8416

Valtrac bied wêreldklastoerusting en -oplossings aan Suid-Afrikaanse boneboere.

Reeds twintig jaar lank maak Valtrac, die toonaangewende verskaffer van landboutoerusting, ՚n diepgaande impak op die bonebedryf en in die Suid-Afrikaanse landbou. Deur voortdurende vernuwing en toewyding aan die verbetering van boerderypraktyke in die bonebedryf, het Valtrac ՚n toonaangewende rol in die bedryf gespeel.

Valtrac se reis in die bonebedryf

Sedert hulle intrede in die bonebedryf, het Valtrac onvermoeid gewerk om boere te ondersteun met hoogs gespesialiseerde toerusting wat die hele produksiesiklus dek, van plant tot oes. Hulle toerusting sluit in die nuutste tegnologie en bied oplossings wat boere help om hulle opbrengste te maksimeer en kostes te verminder.

Toerusting wat Valtrac aan boere verskaf sluit in: Valtra-trekkers ook toegerus met trustuur wat kan werk met Pickett bone-uithalers, die Colombo-reeks werktuie, plukkers, uithalers, planters, grondbewerkingstoerusting, balers, harke, snymasjiene en spuite.

Attie de Villiers, nasionale verkoopsbestuurder van Valtrac, vertel: “Die heel eerste Colombo Double Master-grondbonestroper het in 2003 hier begin werk, en hy loop nou nog. Die eerste masjien was vir grondbone, maar in 2004 is daar masjiene ingebring vir grond- en droëbone. Rofweg geskat is daar tans sowat 500 masjiene in die land.”

Wêreldklas tegnologie wat boere se lewe verander

“Colombo Double Masters is alombekend in die bonebedryf en die mees gekose plukkers vir boere en saadkwekers as gevolg van die sagte hantering, die skoon monsters en verminderde huidbeskadiging,” verduidelik Attie.

Colombo-plukkers is by uitstek vir grondbone, droëbone en klein witbone. Colombo het ook grondboonuithalers en verskeie suikerboonsnyers. Attie voeg by: “Modelle wat ingevoer word is die Colombo Double Master 2, Double Master 6, Twinmaster en Avanti selfaangedrewe plukkers, asook Colombo C200 en C400 grondboonuithalers.”

“Tydens nat seisoene, tot twee jaar gelede, het boere nog sojabone met die hand getrek en in windrye gepak waar grond te nat was, en met die Double Master die sojabone gedors. Groot stropers was te swaar en het vasgeval.

“Ons nuutste toevoeging tot ons bonereeks is die Avanti C400 selfaangedrewe stroper (wat grondbone, mielies, sojabone, koring en droëbone kan stroop). Hierdie stroper kan toegerus word met ՚n 8-ry grondbone-opteltafel met ՚n onafhanklike ry-opteller. Hierdie stroper is ook toeganklik vir mielieplukkerkoppe, “flex headers” vir die stroop van sojabone en koring, en ՚n droëboontafel kan ook opgesit word,” brei Attie uit. Een van die groot voordele van Valtrac se Pickett-boneuithalers is dat dit arbeid verminder en minder seisoenale werkers benodig word om die bone te trek.

Vooruitsigte in die bonebedryf

“Tans is daar ՚n groot oplewing in die produksie van grondbone, wat nuwe boere lok en ook voordelig is vir wisselboupraktyke,” vertel Attie.

“In nat jare het boere, veral in die Oos-Vrystaat, baie houe gevat en baie boere het uitgeklim uit die bonebedryf. Dit het egter vir boere in die Noorde van die land geleenthede geskep om toe te tree in die mark. Daar is baie ruimte vir die produksie van grondbone en droëbone; boere moet dit net reg benader en aangryp,” sluit Attie af.

In die afgelope twee dekades het Valtrac van ՚n verskaffer van landboutoerusting gevorder tot ՚n integrale deel van die Suid-Afrikaanse landboutoneel. Valtrac is ook een van die hoofborge van die Droëboneprodusente-organisasie. Hulle onwrikbare verbintenis tot vernuwing en ondersteuning het hulle gehelp om boere se lewens en produksiepraktyke te verander, wat uiteindelik ՚n positiewe impak op die hele land se voedselveiligheid en ekonomie het.

Vir meer inligting oor Valtrac se wêreldklastoerusting, kontak een van Valtrac se kundiges by (+27)56-817-7308, stuur ‘n e-pos aan Attie de Villiers by attiedev@valtrac.co.za, of besoek www.valtrac.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0