Undercover Farming: Verhoog jou produksie en gehalte

undercover 1
Die ontwikkeling van kweekhuistegnologie het met rasse skrede gevorder oor die afgelope dekade of twee. Die dae van beperkende smal tonnels, watervermorsing, raaiwerk en alles regspuit met chemiese middels is verby.
By die Undercover Farming-konferensie in Pretoria het die landboukundige, Lindie Grobler van Agri Alchemi, aan boere verduidelik hoe belangrik dit is om saam met die tye te verander. Sy sê: “Dit gaan nie meer oor wat jy as boer kan voorsien nie, maar wat die gebruiker wil hê.”

Lindie Grobler van Agri Alchemi sê verandering is moeilik, maar om nie te verander nie, is fataal.
Lindie sê in ’n poging om produksievolumes te jaag, het gehalte in die slag gebly. Onlangse toetse het getoon dat kos nie meer dieselfde voedingswaarde het as wat dit dekades gelede gehad het nie. Dit is ongelukkig so dat handelaars ’n voedsame, organies geproduseerde bondel spinasie sal afkeur, omdat daar ’n insekbytplek op ’n blaar is. Sy sê ’n volhoubare multidissiplinêre benadering is die enigste pad vorentoe.
Dit behels:
- Opvoeding van personeel en handelaars om goeie waardes te handhaaf en raak te sien
- Wisseling van gewasse en groenbemesting om grond te voed
- Volhoubare grondvoorbereiding
- Die regte keuse van variëteite vir jou groei-omstandighede
- Behoorlike waterbestuur
- Verantwoordelike gebruik van chemikalieë
- Kombinasie van organiese en chemiese bemesting met geïntegreerde pesbeheer
- Die gebruik van vierdegenerasieprodukte soos blaarvoeding, plantgroeistimulante, humate, gekombineerde organiese sure, ensieme en koënsieme
Martin van Holdt van Greener Solutions sê in 1996 het jy gedink jy is tegnologies ver vooruit met jou Nokiabak-steenselfoon in jou hand. Vandag is jy ver agter as jy nie ’n plat slimfoon het wat al jou rekenaarwerk ook kan doen nie. Net so het die tegnologie met betrekking tot kweekhuise baie ontwikkel.
In die begin was daar slegs alleenstaande tonnels en die standaardwydte was ses meter. Vandag is multispantonnels die standaard en daar kan tot 16 meter ruimte tussen stutpale wees. Daar is ook baie navorsing gedoen oor die hoogte van die dakke veral met die oog op energiebesparing. Dakke is nou maklik tot 6,5 meter hoog en daar is ’n gemiddelde 44% verhoging in volume om voorsiening te maak vir meer stabiele temperature en beter lugvloei. Elektroniese beheer van insette soos watervloei, toediening van kunsmis, lugvloei en beligting is ook nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.
Ander tegnologiese ontwikkelings sluit in die hersirkulasie van water. Boere kan nie meer bekostig om water en die voedingstowwe wat in water oorbly verlore te laat gaan nie.

Ockie van Niekerk van Optima Agrik het verduidelik dat dit wel moontlik is om 100% hersirkulasie van water wat nie deur plante opgeneem word nie in ’n hidroponiese stelsel te verkry, maar die tegnologie moet voorsiening maak vir behoorlike meting, ontsouting en herdossering van water.

Herbert Stolker van Delphy SA sê nuwe tegnologie met betrekking tot saailingontwikkeling in blokkies wat net so oorgeplant kan word, kan jou help om tot drie weke vroeër te oes.
Herbert Stolker van Delphy SA het ’n hele reeks praktiese wenke gegee oor die verbetering van produksie onder beskerming. Hy het boere gemaan om baie aandag te gee aan goeie praktyke en higiëne om siektes te voorkom. Wit bedekking oor grondoppervlaktes help baie om grondsiektes soos fussarium te voorkom en is ook goed vir beter ligverspreiding.
Nog ’n belangrike saailingontwikkeling is die enting van plantjies op plantstamme en wortels wat weerstand bied teen grondsiektes en sorg vir vinniger groei. Dit word veral in Europa gebruik vir komkommers en tamaties. In Suid-Afrika raak dit ook al hoe meer gewild.
Groenteboere se toegang tot markte is deur dr Sjoerd Alkema van GROW Fresh Produce bespreek. Hy sê 30% van alle varsprodukte wat in Suid-Afrika geproduseer word, beweeg steeds deur die munisipale varsproduktemarkte. Die grootste faktore wat jou verkope op die markte beïnvloed, is jou verhouding met jou markagent en die volume en betroubaarheid van jou lewering.
Vir lewering regstreeks aan winkelgroepe moet jy baie seker maak van verpakkingsvereistes en aanbieding. Hy sê die hele bedryf se prysbepaling word steeds deur die Johannesburgse mark vasgestel, waar daar gemiddeld R25-miljoen se produkte per dag verhandel word.

Shiman is ’n verspreider van Haifa se reeks voedingstowwe met wateroplosbare middels vir hidroponiese boere. Shiman bied ook nuwe biologiese produkte en biostimulante as deel van hulle reeks oplossings aan. Jaco Blom, Johan du Plessis, Ute Jacobs en Gerrit Burger is gereed om boere met raad en daad by te staan.

Dudley Pohl sê SunPerl is die enigste maatskappy in die land wat sowel vermikuliet as perliet vervaardig. Vermikuliet absorbeer omtrent 200% van sy gewig in water en perliet sowat 80%. Albei help ook met deurlugting van die groeimengsel sodat wortels beter kan ontwikkel, beter dreinering plaasvind en die mengsel ook ligter is. Die fabriek is in Germiston, maar SunPerl lewer landwyd af.

Plante se ligbehoeftes verskil en verskillende kleure ligte kan ook in die verskillende groeistadiums ’n verskil maak. Mark Easter van Giantlight sê hulle sal uitgaan plaas toe en ’n boer help om die regte ligspektrum te kies.

Hortimax se moniteringstelsel word ook as deel van Greener Solutions se oplossingspakket aangebied. Rob Veenstra sê daar is nie meer ruimte vir raaiwerk in intensiewe produksie nie, maar boere kan elektroniese beheer van elemente geleidelik in gebruik neem soos wat hulle groei. Die masjien kan byvoorbeeld die lugvoggehalte meet en self die luike oop- en toemaak soos nodig.

Haygrove het nie net ’n bewese rekord in Suid-Afrika vir gehalte kweekhuise en kweekhuisoplossings nie; Andrew Wood en Jana Loubser sê hulle is ook bekend vir die bekostigbaarste oplossings.