Uilkraal: Bewaringsboerdery waar uile help

uilkraal 2
՚n Besproeiingsdam op Uilkraal op die oewer van die Olifantsrivier.
Jaco Meiring en sy seun Braham boer op Uilkraal langs die Olifantsrivier in die Calitzdorpdistrik in die Klein-Karoo. Die plaas kry sy naam na aanleiding van die klomp uile wat hulle hier tuisgemaak het.
Dit is asof hulle weet hulle is veilig hier, want hier word met omsigtigheid en sorg na die ekostelsel en biodiversiteit omgesien. Jaco en Braham is bewaringsboere in murg en been en hulle boer in simbiose met die natuur. Toe Jaco die plaas in 1995 gekoop het, het die groot aantal uile op die plaas hom opgeval. Die plaas is terstond Uilkraal gedoop.
“Die uile broei in die rivierbedding waar erosie deur vloedwater die walle uitgekalwe het,” vertel Jaco. Hy weet nie hoeveel uile daar is nie, hulle is mos in die nag aktief, maar hy skat daar is seker tien of meer van die gevlekte ooruile.
Op die plaas van 44 ha word waatlemoene en spanspek, uiesaad vir die saadmaatskappy Starke Ayres, lusernhooi en
-saad in die diep leemgrond geproduseer. Hulle het ook ՚n mooi klompie dorpers. Die produkte word op hulle Facebookblad bemark en hulle produkte word plaaslik en in die Tuinroete gelewer.

Die Meirings van Uilkraal: Van links, Braham, Anmari, Cornell, Jaco, JC en sy vrou Kyala-Ann met Hanna-Mari.
Water
Die plaas is ingelys by die Stompdift-Kammanassie Waterverbruikersvereniging se besproeiingskema, maar hier aan die stertpunt van die skema naby die Calitzdorp Spa waar die Oilfants amper in die Gamkarivier loop op pad na die Gouritsrivier, is water uit die skema skraps, veral tydens droogte.
“’n Tekort aan water is ons grootste uitdaging – ons het nou ՚n sewe jaarlange droogte beleef. Al die landerye is onder drupwater, wat ons baie doeltreffend aanwend. Die uielande word met vogmeters gemoniteer.”
Met ՚n jaarlikse neerslag van 250 mm in die Klein-Karoo is reën ook nie juis oorvloedig nie. Maar as dit die slag goed reën in die opvanggebiede bokant die Kammanassie- en Stompdriftdam en die riviere kom af, oorstroom die landerye op die oewers. Dit dra daartoe by dat die walle uitkalwe en plek skep vir die uile om te broei.

Op Uilkraal word met waatlemoen en spanspek geboer. Jaco plant twee rye waatlemoene vir die ystervarke.
Muise
Wanneer dit so uitmergelend droog is, sukkel die Meirings met ՚n muisplaag. “Die muise vreet ons druppers stukkend,” vertel hy. Dit is wanneer die uile natuurlike plaagbeheer doen sodat dit nie nodig is om die knaagdiere op ՚n ander manier vankant te maak nie. Hy het ook ՚n omgewingsvriendelike plan met die ystervarke wat mos nie by ՚n waatlemoen kan verbyloop nie. “Ek plant vir hulle twee rye. As hulle van myne eet, dan vat ek van hulle s’n.”
- Braham boer met bye en noem sy heuning “Byna Goud”.
- Braham met Kerneels, sy Australiese herdershond.
- Op Uilkraal help die uile wat natuurlik hier voorkom om die muise te beheer wat aan die besproeiingstelsel knaag.
Bewaringsboerdery
Sy belangstelling in die natuur is geprikkel deur wat hy om hom raakgesien het. “Ek het gesien hoe die grond agteruitgaan weens te veel chemie en begin lees en soek hoe die natuur werk. Dit is opwindend om grond se lewe deur ՚n mikroskoop te sien.
“Ons probeer die grond so min as moontlik versteur en ons gebruik nie kunsmis wat lewe in die grond doodmaak nie. Geen chemie is goed vir die natuur nie. Ons maak kompos van enige plantmateriaal en voerreste op die plaas, wat ons gebruik om lewe in die grond te sit. “As jou grond gesond is, is jou plante gesond. Dieselfde geld vir mense: As jou gees gesond is, is jou lewe gesond …”
Hoe hanteer hy die uitdagings? “Ons bid vir wysheid om die uitdagings te oorkom.”
Meer oor die Meirings
Jaco en Cornell, sy vrou van 32 jaar, het albei op of naby Calitzdorp grootgeword. Hy het aan die Hoër Tegniese Skool Oudtshoorn, vandag Oudtshoorn Gimnasium, matrikuleer. Daarna het hy Meganiese Ingenieurswese aan die Kaapse Technikon, vandag Cape Peninsula University of Technology (CPUT), studeer. Cornell het op Stellenbosch Huishoudkunde studeer en is ՚n onderwyseres in Verbruikerstudie aan Hoërskool Calitzdorp. Al drie die kinders was in Langenhoven Gimnasium. “Braham was altyd die gebore boer – dit is in sy bloed!” sê Jaco.
- Op Uilkraal word ook met lusern vir saad en hooi, uiesaad en dorpers geboer.
Hulle drie kinders het ook hier skoolgegaan. JC, hulle oudste seun, is ՚n meganiese ingenieur in die Paarl. Hulle dogter Anmari is ՚n maatskaplike werker in Bloubergstand in Kaapstad, en Braham, die jongste boer saam met sy pa.
Vir meer inligting kontak Jaco op 082-775-6651, stuur ՚n e-pos na uilkraal1398@gmail.com






My swaer, inderdaad n wyse man