Categories: NuusPublished On: 18th June 2019

Tweede Agri-Expo leier verkies in internasionale landbouraad

By 3 min read
518 words

Breyton Milford Dr Ivan Meyer

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, wens Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, geluk met sy aanstelling as trusteeraadslid van die “Royal Agricultural Society of the Commonwealth” (RASC).

‘n Senior bestuurslid van Agri-Expo is verkies as trusteeraadslid van die Statebond se koninklike landbougenootskap, die “Royal Agricultural Society of the Commonwealth” (RASC). Breyton Milford (33) is die tweede lid van Agri-Expo, en een van net twee uit Afrika, wat in dié raad dien.

Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo en voorsitter van die Nasionale Landbou Jeugvereniging, is sedert 2008 ‘n lid van die RASC se “Next Generation”-forum vir boere jonger as 40 jaar. Daar is slegs twee stoele vir “Next Generation”-lede op die RASC-trusteeraad, ‘n amp waarin Milford verkies is tydens die RASC se algemene jaarvergadering op 10 Junie 2019 in Trinity, Jersey in die Kanaaleilande.

Volgens Milford is dit die eerste keer dat ‘n “Next Generation”-lid uit Afrika in die Trusteeraad dien. Hy glo alle eer kom Agri-Expo toe: “Agri-Expo ontgin as RASC-lid al vir langer as ‘n dekade voortdurend hierdie platform om ‘n positiewe beeld van Suid-Afrikaanse landbou internasionaal uit te dra.”

Milford volg in die voetspore van Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, wat reeds sedert 2017 ‘n RASC-trusteeraadslid is. Milford en Ehlers is tans die enigste twee raadslede uit Afrika.

Ehlers sê die RASC is die enigste spreekbuis van landbou in die Statebond. “Die RASC werk nou saam met die Statebond-sekretariaat en sy filiale. Die organisasie verteenwoordig sowat 60 landbouverenigings, -genootskappe en navorsingsinstansies uit meer as 20 Statebondlande.”

Afrika-lede van die RASC kom uit Botswana, Kameroen, Tanzanië, Kenia, Zambië, Malawië, Uganda en Mauritius, met Agri-Expo en die Royal Skou in Natal die enigste lede uit Suid-Afrika. Agri-Expo is die handelsnaam van Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, wat in 1831 gestig is en die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika is.

Ehlers sê die RASC skep waardevolle geleenthede vir internasionale samewerking binne landbou. “Agri-Expo het reeds in 2018 as gasheer opgetree vir die eerste Next Generation-Ondersteuning-en-Begripmissie na Suid-Afrika. Milford was die leier van dié missie na Suid-Afrika met die tema ‘Om die gaping tussen opkomende en kommersiële boere te oorbrug’.”

Die Statebond se tweejaarlikse Landboukongres is volgens Ehlers die RASC se belangrikste platform. Beide Milford en Ehlers was sprekers by die mees onlangse kongres in November 2018, in Edmonton, Kanada. Die 29ste kongres vind van einde Junie 2020 in Norwich, Norfolk, Engeland, plaas en die 30ste kongres van 13 tot 18 November 2022 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS).  

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, sê Agri-Expo se aanwysing as gasheer vir die Statebond se 30ste Landboukongres in 2022 – die eerste keer in Kaapstad – skep ‘n ideale geleentheid om die wêreld te laat fokus op Suid-Afrikaanse landbou. “Ek is baie trots op Milford se aanstelling as RASC-trusteeraadslid, want sodoende word Suid-Afrika se boere internasionaal erken vir hul bydrae, passie en toewyding tot ons landbou.”

Vir geleenthede om by die 30ste Statebond Landboukongres in 2022 betrokke te raak, kontak Agri-Expo by 021-975-4440 of admin@agriexpo.co.za. Besoek ook www.agriexpo.co.za en volg Agri-Expo op Facebook, Twitter of Instagram.

Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo, is ‘n nuutverkose trusteeraadslid van die “Royal Agricultural Society of the Commonwealth” (RASC). Van links na regs is vier van die trusteelede, Will Prichard en Aled Jones (albei van Wallis), Breyton Milford en William Hyde (van Engeland).

Bron: Agri-Expo

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0