Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 27th June 2025

Turksvye as veevoer deel 4: VOERPRODUKSIE

By 9 min read
1753 words

erika-lowe-2xpw5lAl9x4-unsplash

Net soos die vrugte van die turksvyplant op verskeie maniere benut kan word, is die blare van groot waarde. Daar is baie moontlikhede om hierdie plant in die veeproduksiebedryf aan te wend, maar dit is nog nie ten volle in Suid-Afrika ondersoek of ontgin nie. Boere kan baie leer by lande soos Brasilië en Mexiko, waar turksvy al vir eeue ‘n belangrike rol speel en dikwels as die hoofbron van veevoer gebruik word.

Een van die hoofredes waarom turksvy as ‘n waardevolle voergewas beskou word, is dat dit:

• Droogtebestand is en produseer wanneer ander voergewasse misluk;
• Wyd aanpasbaar is ten opsigte van klimaat en grondvoorkeur;
• Hoër produksie lewer as weidingsgewasse omdat hulle waterverbruiksdoeltreffendheid hoër is;
• In verskeie vorms van voer gebruik en verwerk kan word;
• Maklik is om te vestig;
• Vestigingskoste laag is;
• Geskik is vir gebruik vir kleinboere en makro-ondernemings;
• Goeie gehalte voer is;
• Baie smaaklik is; en
• Hoogs verteerbaar is

Voedingswaarde

Turksvye dien hoofsaaklik as ՚n bron van energie en bevat relatief min ruproteïen (ongeveer 2 tot 3%). Wanneer bemesting egter toegedien word, kan die ruproteïenvlak tot sowat 8% verhoog. Navorsing bevestig dat turksvye ՚n nuttige onderhoudsvoer kan wees. In droë streke is die plant se hoë voginhoud veral van waarde. Tot 90 000 liter water kan in die blaaie op een hektaar geberg word wanneer 100 ton droëmateriaal per hektaar geproduseer word.

Aan die ander kant kan hierdie voginhoud die opname van genoegsame voedingstowwe beperk. Die droogproses van turksvyblare word verder bemoeilik deur die teenwoordigheid van slymgom, ’n wateroplosbare, pektienagtige polisakkaried wat water bind. Hierdie slymgom speel ‘n sleutelrol in die kaktus se vermoë om vog vas te hou tydens strawwe klimaatstoestande, soos droogtes.

Die voedingswaarde van turksvye

Hoewel kladodes (turksvyblare) wyd as droogtevoer gebruik word, is daar steeds beperkte kennis oor hulle waarde in hoëproduksiediëte vir vee. In 2005 het Desirée Zeeman ՚n studie uitgevoer waarin sy jong Dorperhamels gevoer het met diëte waarin lusernhooi gedeeltelik vervang is met songedroogde, grofgemaalde turksvyblare teen vlakke van 0%, 12%, 24% en 36%. Selfs by die hoogste insluiting (360 g/kg dieet) was daar geen negatiewe uitwerking op groeiprestasie nie, inteendeel, verteerbaarheid het verbeter namate die turksvyvlak toegeneem het.

Hierdie bevindings is in 2008 bevestig deur Ockert Einkamerer in ‘n soortgelyke proef oor ‘n tydperk van 63 dae met jong Dorperhamels. Diereprestasie sowel as karkasgehalte is nie negatief beïnvloed deur turksvyinname nie.

Nog ՚n belangrike insig uit die navorsing is dat slymgom in die kladodes bydra tot die ontstaan van nat mis. Omdat dit nie in die spysverteringstelsel afgebreek word nie, hou dit water vas wat andersins deur die dunderm opgeneem sou word. Die ekstra waterinname wat waargeneem is by skape wat gedroogde kladodes verbruik het, is dus nie via die niere uitgeskei nie, maar grootliks in die vorm van waterige mis (De Waal et al, 2015) — ’n toestand wat soms verkeerdelik met laksering verwar word.

Smaaklikheid

Turksvye is uiters gewild onder diere vanweë die smaaklikheid, en juis daarom is dit belangrik om aanplantings goed teen beweiding te beskerm. In gebiede waar wild soos koedoes maklik heinings oorsteek, is dit amper onmoontlik om ՚n suksesvolle aanplanting te vestig. Diere soos hase, ystervarke en selfs skilpaaie geniet ook die sappige blare, wat beteken dat behoorlike heinings en beskerming noodsaaklik is vir volhoubare produksie.

Benuttingsmoontlikhede

Turksvye kan hoofsaaklik op twee maniere benut word: Vars of gedroog, met elkeen wat verder verwerk kan word volgens behoefte. Tydens droogtes kan alle dele van die plant — insluitend die wortels, stingels en blaaie — as veevoer aangewend word. In uiterste voedseltekorte kan alle blaaie en sytakke afgesny word tot op ongeveer 0,5 meter bo die grondvlak. Om langtermynproduktiwiteit van die aanplanting te verseker, is dit raadsaam om in die daaropvolgende seisoen slegs ligte snoeiwerk toe te pas.

Indien dikker stingels benut moet word, is dit nodig om dit in kleiner dele te kerf sodat diere dit makliker kan vreet. In tradisionele praktyke word vars kladodes (turksvyblare) in repe gesny of in blokkies gekap en direk aan vee gevoer. Soms word hierdie materiaal eers gekerf of gesnipper en gedeeltelik gedroog voordat dit as voer gebruik word.

Die hoë voginhoud van vars kladodes veroorsaak egter uitdagings met hantering, verwerking en die hoeveelheid wat diere doeltreffend kan inneem. Praktiese en doeltreffende maniere om die blare te sny en te droog, kan die verdere verwerking aansienlik vergemaklik. In droë vorm bied kladodes ook die voordeel dat hul voedingstofsamestelling
makliker aangepas kan word om gebalanseerde veevoerdiëte saam te stel. ՚n Gedeeltelike droogproses kan ook gebruik word om van die oortollige waterinhoud ontslae te raak voordat verdere verwerking plaasvind.

Blaarproduksie of kladodes

Wanneer aanplantings jaarliks gesnoei word, kan ‘n verwagte opbrengs van sowat 100 ton vars materiaal per hektaar gelewer word, wat ooreenstem met ongeveer 10 ton droëmateriaal per hektaar. Dit is gebaseer op ՚n plantdigtheid van 666 plante per hektaar. In intensiewe produksiestelsels waar turksvye uitsluitlik as veevoer aangewend word,
is opbrengste van tot 400 ton vars kladodes per hektaar (gelykstaande aan 40 ton droëmateriaal per hektaar) al aangeteken.

Kerwing en droging van kladodes

Verskeie soorte toerusting, soos veeldoelige snyers of aangepaste kerwers, kan gebruik word om vars kladodes doeltreffend te sny. Die doel is om die blaaie in dun repe of skywe te sny sodat die droë oppervlakte vergroot, wat die droogproses in die son versnel. Hoe dunner die snitte, hoe vinniger droog die materiaal, maar daar moet versigtig te werk gegaan word om te voorkom dat die kladodes verpulp word. Wanneer die pulp te veel beskadig word, stel dit slymgom vry wat stol op die oppervlak en so vogverdamping aansienlik vertraag.

Omdat hierdie slymgom water bind, is dit ook nie moontlik om die kladodes te pers om van die vog ontslae te raak nie. Die gesnyde materiaal word in direkte sonlig gedroog op droogvloere of rakke wat bo die grondvlak geplaas is om voldoende lugsirkulasie moontlik te maak. Die duur van die droogproses wissel tussen vier en veertien dae, afhangende van die dikte van die snitte, weerstoestande en verdere verwerking. Die gebruik van skerp lemme is belangrik om skade aan die selstruktuur van die blare te beperk — indien die materiaal te veel gekneus word, stel dit slymgom vry wat die materiaal taai en moeilik hanteerbaar maak.

Die volgende fase in die benutting van kladodes behels die formulering van spesifieke produksiediëte wat met gedroogde materiaal saamgestel word, en dan op diere in verskillende produksiefases getoets word soos melkproduksie of afronding. Soos die navorsing vorder, sal die toepassingsgebied verder uitgebrei word om ook beeste in te sluit. Die wisselwerking tussen slymgom en water, sowel tydens droog as in die herkouer se verteringstelsel, bly ‘n belangrike fokus vir verdere studie.

Beweiding van turksvye

Die gebruik van turksvye as direkte beweiding, veral in droogtetye, is vroeër jare aanbeveel, maar dit het mettertyd duidelik geword dat hierdie praktyk sekere nadele inhou. Opportunistiese beweiding het dikwels gelei tot swak benutting van die plantmateriaal en ‘n afname in die langtermynproduktiwiteit van die aanplantings. As gevolg hiervan het kenners later aanbeveel dat turksvye nie meer direk bewei moet word nie.

Soos met enige intensiewe produksiestelsel, hou die gebruik van turksvye vir veevoer sekere risiko’s in, veral wanneer dit kom by oorbeweiding, onegalige benutting en die negatiewe impak daarvan op die lewensduur van die boord. Tog is die voordele van ՚n goed bestuurde turksvy-voerprogram groot. Wanneer dit nie net as noodvoer nie, maar as ՚n volhoubare komponent van die plaas se voerproduksiestrategie gebruik word, bied dit waardevolle ondersteuning vir die veevoerbehoeftes deur die jaar.

In lande soos Brasilië word sulke programme reeds baie jare suksesvol toegepas. Daar is bewys dat turksvye in intensiewe stelsels hoë opbrengste kan lewer met uitstekende benutting, veral in jong plante, en langdurige
produktiwiteit van die boord wanneer dit behoorlik bestuur word.

Gebruik van turksvyvrugte in diereproduksie

Wanneer vrugte nie die hoofproduk van die aanplanting is nie, kan ‘n beduidende gedeelte van die oes vir veevoer aangewend word. Verskeie studies dui daarop dat tussen 25 en 30 ton vrugte per hektaar geproduseer kan word. In sommige gevalle fokus boere uitsluitlik op saadproduksie, wat beteken dat die pulp van die vrugte as ՚n byproduk ontstaan en dan vir dierevoeding benut kan word.

Volryp turksvyvrugte bevat ongeveer 12% natuurlike suikers, hoofsaaklik glukose en fruktose, wat dit ՚n uiters smaaklike en energiedigte voerbron maak. Die grootste uitdaging met die gebruik van vrugte as veevoer lê egter
in hulle kort rakleeftyd — slegs enkele dae ná oes. Dit noodsaak dus vinnige benutting of bewaring. Geskikte metodes om die vrugte te preserveer sluit in die vervaardiging van kuilvoer of die verwerking tot voerblokke.

Voerblokke

In die landboubedryf ontstaan daar dikwels verskeie afvalprodukte of byprodukte by verwerking, wat andersins verlore gaan. Voorbeelde hiervan sluit in olyfoliekoek, druiwedoppe, sitrusskille, tamatiepulp en turksvyvrugte. ’n Groot uitdaging met hierdie materiaal is hulle beperkte raklewe, wat beteken dat dit gou benut moet word. ’n Interessante en praktiese toepassing van hierdie byprodukte is die vervaardiging van voerblokke.

In lande met beperkte hulpbronne word voerblokke beskou as ’n belangrike vernuwing in dierevoeding (Nasri, 2008; Nefzaoui, 2007). Die verhouding van die verskillende bestanddele hang af van die gewenste voedingsgehalte van die voerblokke. Oorskietvrugte of afval vanaf sorteertafels word dikwels as ՚n energiebasis in die samestelling gebruik.
Gedroogde voerblokke het die voordeel dat hulle lank geberg kan word, wat dit uiters geskik maak om in droogtetye gebruik te word. Verder kan hulle ook gedurende die winter en vroeë lente as ’n aanvullende voerbron ingespan word om die voedingstatus van diere te ondersteun.

Kuilvoer van turksvy

Sommige boere gebruik vars turksvyblaaie vir die produksie van kuilvoer, maar hierdie metode vereis praktiese vaardigheid en deeglike bestuur. Omdat kladodes ՚n hoë voginhoud het, is die kans groot dat die kuilvoer gou kan bederf. Die sukses van die proses hang ook af van die suikerinhoud van die materiaal wat ingekuil word. Wanneer die blare gedeeltelik afgedroog word voor dit ingekuil word, verbeter die uitkoms aansienlik.

՚n Algemene praktyk is om die gesnyde kladodes met ՚n droër ruvoer, soos mieliestronke of gras, te meng om die voginhoud te balanseer. ՚n Doeltreffende mengverhouding is vyf dele ryp, verpulpte vrugte tot een deel droë materiaal. Indien nodig, kan aanvullings soos voer-ureum en mikrominerale bygevoeg word. Die mengsel word dan volgens standaard kuilvoertegnieke verwerk. Om hoë gehalte te verseker, is dit belangrik dat die kuilvoer so min as moontlik aan lug blootgestel word, aangesien suurstof bederf bevorder.

Indien korrek uitgevoer, kan turksvyvrugte ՚n uitstekende basis vorm vir hoëgehalte kuilvoer, sonder die behoefte aan ekstra melasse (De Waal, 2015).

In deel 5 kyk ons na turksvye vir menslike gebruik. Vir enige ander navrae, besoek Witkraal Boerdery se webwerf by www.witkraal.co.za.

Bronverwysing

Witkraal. (2022, Maart). Turksvye as veevoer [PDF]. Witkraal Boerdery.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0