Categories: Artikels, NuusPublished On: 7th August 2023

Tuks Landbou se jong dames hoopvol vir die toekoms van landbou

By 6 min read
1206 words

IMG_0032

In vandag se dae kry ‘n mens te doen met soveel voorslagvroue, plaas-vroue, boervroue wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Vroue wat weet van koeie melk, beeste dip, tweelingskapies die lewe inhelp, draadspan, trekker bestuur en wat met mening werk en woeker.

Ons het onlangs gaan inloer by ՚n paar van Tuks Landbou se damestudente. Hierdie dames is vol geesdrif oor die landboubedryf en sien uit daarna om binnekort die stadsliggies vir ՚n beroep in landbou te verruil.

Van ՚n baie jong ouderdom af het Anelie Joubert ՚n liefde vir diere. Haar droom was nog altyd om ՚n wildbewaarder te word, maar vroeg in haar hoërskoolloopbaan het sy besluit om eerder ՚n rigting in veekunde te volg. Anelie is tans ՚n meesterstudent in Veekunde by Tuks Landbou. “Wat ek die meeste geniet van die landboubedryf, is die uiteenlopendheid daarvan. Een van my grootste liefdes is die natuur en om met diere te werk. Om te sien hoe iets van ՚n klein kalfie af groei tot ՚n volgroeide bees wat op die ou einde bydra tot voedselvoorsie-ning, is ongelooflik.

“Boerdery verg aanpasbaarheid, en ek dink ՚n mens kan werklik so baie leer by boere in vandag se dae om te moet aanpas by jou streek, jou klimaat en die ras waarmee jy boer,” vertel Anelie.
Sy sê: “Ek is baie opgewonde en po-sitief om te sien dat vroue al hoe meer betrokke raak in die landboubedryf – 70% van ons finalejaarsgroep was damestudente, so ՚n mens kan werklik sien dat die belangstelling onder dames in die bedryf ook toeneem.

“Ek is regtig opgewonde en passievol oor die bedryf en wat dit ook vir my en my beroep inhou. Ek voltooi op die oomblik my meestersgraad in Dierevoeding en hoop regtig om in die nabye toekoms ՚n groot bydrae en impak in die bedryf te maak,” voeg Anelie by.

“Landbou is kardinaal. As ek dink aan ՚n wêreld sonder landbou, gaan baie dinge tot niet gaan soos werksgeleenthede, voedselsekuriteit en meer. Ek kan nie ՚n wêreld sonder landbou indink nie!” sê Anelie ter opsomming.

Anelie Joubert, meesterstudent in Veekunde.

Lana Strydom, ՚n derdejaar Veekundestudent by Tuks Landbou, vertel dat haar grootste hoogtepunt van kindsbeen af is om saam met haar pa te boer. Van vroegoggend tot laataand boer is ՚n groot hoogtepunt van haar vakansies. Toe Lana ՚n loopbaanbesluit moes neem het sy eendag met ՚n ouer oom gesels wat vir haar gevra het, wat doen jy in jou vakansies en in jou vrye tyd, waarna sy geweet het dat sy gelukkig sou wees as sy kan boer vir die res van haar lewe.

“Die landbou- en boeregemeenskap is regtig merkwaardig; die saamstaan en kameraadskap van ՚n boeregemeenskap kry ՚n mens nie sommer elders nie. Almal in die landboubedryf het ՚n gemeenskaplike doel en drif,” vertel Lana.

Lana stel meer belang in vee as in saaiboerdery. Sy vertel dat sy onlangs ook ՚n belangstelling in landbou-ekonomie ontwikkel het.

Wanneer Lana gevra word oor die rol van vroue in die bedryf, antwoord sy: “Ek dink nie die bedryf kan opgedeel word in mans en vroue se onderskeidelike rolle nie. Elke indiwidu het sy sterk- en swakpunte en dit hang van jou af of jy gaan floreer en ՚n sukses maak van dit wat jy aanpak.”

Lana ag haar pa as haar rolmodel en iemand na wie sy opkyk. Sy vertel: “My pa is vir my so ՚n goeie voorbeeld van aanhou, aanhou, maak nie saak hoe moeilik dit raak nie. Hy het my ook geleer dat geloof in jou boerdery uiters belangrik is.”

Lana sien haarself in die volgende paar jaar ver van die stad af: “Dalk selfs terug plaas toe; ek sal nie omgee nie,” voeg sy by. Sy glo en vertrou ook dat sy uiteindelik sal beland in die bedryf waar sy moet wees, en sy wil graag ՚n bydrae in die bedryf lewer hoe en waar sy ook al kan. “Landbou is definitief ons almal se toekoms,” sluit Lana af.

Lana Strydom, derdejaar Veekundestudent.

Sanja Schaap vertel dat sy nog altyd geïnteresseerd was in die landboubedryf en van kleintyd af was dit ՚n hoogtepunt vir haar om by haar oupa en ouma te gaan kuier op die plaas naby Settlers op die Springbokvlakte.

Hier het sy geleer van trekker bestuur, saam in die stroper ry en vroegoggend eiers uithaal. Sanja is ՚n meestergraadstudent in Produksiefisiologie en Produkgehalte by Tuks Landbou. Sanja doen tans haar
studiefokus op rooibokvleisproduksie. “Ek dink dit is belangrik om mense bewus te maak van die waarde wat daar in wildsvleis is en ook dat daar ՚n geleentheid in die mark is om kommersieel te produseer,” meen sy.

Sanja sê dit is belangrik dat dames van ՚n jong ouderdom af blootgestel word aan die landboubedryf sou hulle ՚n beroep daarin wou najaag.

“Landbou is ‘n baie belangrike en volhoubare bedryf. Ek dink die toekoms in landbou hou soveel meer in as wat ons besef. Ek moedig enige jong dame wat hierdie bedryf wil betree aan om dit te doen. Daar is ՚n toekoms vir vroue in die bedryf, en ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou,” sluit Sanja af.

Sanja Schaap, meesterstudent in Veekunde.

Monét Kleynhans is ՚n derdejaar Veekundestudent by Tuks Landbou. Monét se droom is om mense en diere te help. Nadat Monét nie keuring vir veeartsenykunde gekry het nie, het dit haar nie teruggehou om steeds haar droom en liefde na te jaag nie.

“Ek is baie geïnteresseerd in verskillende grootveerasse, hulle funksionaliteit en aanpasbaarheid by verskillende omgewings en klimate, en hoe hulle vleisproduksie daardeur beïnvloed word,” vertel Monét.

Sy voeg by: “Ek dink ՚n groot ding wat ek nou al van die bedryf geleer het, is dat dit baie onvoorspelbaar is en ՚n bedryf met baie risiko’s. Die landboubedryf leer jou om op jou voete kan dink, om planne te maak, met oplossings te kom en aan te pas. Dit verg harde werk, maar alles die moeite werd!

“Vroue in die landbousektor is nie ՚n vreemde neiging nie. Dit is duidelik sigbaar aan hoe ek en mede-damestudente aanvaar word en nie snaaks aangekyk word nie. Hoewel die toekoms
bietjie onvoorspelbaar is, hoop ek om in die nabye toekoms ՚n impak  in landbougemeenskappe te maak; nie net groot gemeenskappe nie, maar ook kleiner gemeenskappe, om dit wat ek geleer het te gebruik om boere te help en hulle te adviseer in terme van optimalisering van vleisproduksie – van genetika tot kruisteling en volhoubare grootveeboerderypraktyke.”

“Ek dink min mense besef dat landbou die primêre produksie is van die pap, spek en eiers wat jy soggens eet, tot die klere wat jy dra. Sonder landbou sal die mensdom nie kan oorleef nie,” sluit Monét af.

Monét Kleynhans, derdejaar Veekundestudent.

Case IH is toegewyd daartoe om jong, opkomende studente van albei geslagte te bemoedig en aan hulle te wys watter geleenthede daar vir hulle in die sektor beskikbaar is. Case IH is aktief betrokke by Tuks Landbou en ondersteun die landboustudente deur hulle te bemagtig en bloot te stel aan die landboubedryf buite net hulle studiegidse en kampus. As landbou in jou bloed is, moenie dat iets jou daarvan weerhou om jou liefde na te streef nie!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0