Categories: NuusPublished On: 10th April 2024

Tuinroete en Klein-Karoo: Boere hou asem op oor nog reën

By 5 min read
1064 words

henry 1

Die Moordkuilrivier in die bolope van die Klein-Brakrivier het in vloed afgekom en die laagwaterbrug op die pad na Botlierskop oorstroom en gate uit die teerpad gespoel.

Boere in die Suid-Kaap en Klein Karoo is positief oor die plantseisoen wat voorlê. Dit het gereën, die veld is nat en die planters staan gereed. Maar te veel reën kan die plantery in die wiele ry.

Een goeie jaar trek nie ‘n streep deur sewe swak jare nie

Laubscher Coetzee van Volmoed buite Oudtshoorn en Agri Wes-Kaap streeksbestuurder in die gebied,  is  vol moed vir die seisoen wat voorlê. “Dit het tussen Sondagoggend en nou (Maandagoggend) 80 mm by my op die plaas gereën.”

Volgens hom het dit op plekke in die berge tussen 120 en 150 mm en selfs meer gereën en die riviere loop. Meiringspoort en die Swartbergpas is toe, en selfs Outeniquapas was ‘n ruk lank gesluit. Op die dorp waar dit volgens ‘n Facebook-inskrywing 80 mm gereën het, is die laagwaterbrûe oorstroom.

“Ons kry gewoonlik rondom die Paasnaweek reën, en hierdie reën is vir ons normaal. Een goeie jaar trek nie ‘n streep deur sewe droogtejare nie, maar ek het ‘n voorgevoel gehad vanjaar gaan ‘n goeie jaar wees. Ons kan die lusern wat deur die droogte geknou is, weer opbou en ons voorraadvlakke opbou.”

Wat HPAI betref, is onlangs nog vyf uitbreke in die gebied aangemeld. “Die uitbreke bly ‘n uitdaging, maar ons het ‘n manier gekry om rondom dit te werk. Volstruispryse is goed, dalk omdat ons verlede jaar weens die baie reën min kuikens kon grootmaak, so ons hoop die prys bly hoog.”

Meiringspoort en die Outeniquapas is Dinsdag weer oopgestel, maar die Swartbergpas bly gesluit.

Die amptelike reënval vir Oudshoorn is 65 mm, en Ladismith 40 mm. Oudtshoorn se twee besproeiingsdamme het ook water gekry. Die Kammanassiedam is 73% vol, terwyl die Stompdriftdam 25% water het. Die Calitzdorpdam is 95% vol.

Die Koumarivier, wat ook in die Klein-Brakrivier vloei, het landerye oorstroom en paaie onbegaanbaar gemaak.

Sonder hulp het ons lankal ons gat gesien

In die Sentraal-Karoo het dit tussen 40 en 100 mm+ gereën en die Gamkadam by Beaufort-Wes is 77% vol en die Oukloofdam by Prins Albert 85%. By Murraysburg het dit meer as 60 mm gereën.

“Hier by my het ek 65 mm reën oor die naweek gehad,” sê Lukas Botes van die Koup in die Laingsburgdistrik. “Ek was nog nie by ander plekke, sit agter ‘n rivier vasgekeer. Ek weet nie hoeveel dit by Merweville gereën het nie, maar ek glo dalk bietjie meer. Al die riviere was vol.”

Volgens Lukas het hy so 14 dae gelede ook tussen 16 en 20 mm reën gehad. “Dit was die eerste noemenswaardige reën sedert September verlede jaar. Ek voer my vee al die afgelope ses maande.”

Hy sê hy was op die punt om maar sy grond te verkoop. “’n Mens kan nie boer as jy net een keer in ses maande reën kry nie. As dit nie was vir die banke en die koöperasie wat ‘n mens help nie, het ons almal al ons gat gesien. Veral ons wat nie kan besproeiing doen nie,  en ons is aangewese op die skaap. Ek het nog nie ‘n manier gekry om sonder reën te boer nie. Ons sal nou kyk hoe ver ons kan kom, dit het darem nou weer gereën.”

Laubscher Coetzee van Volmoed buite Oudtshoorn het 80 mm reen op sy plaas Kandrift gemeet.

Dan klap die skoot

“Omstandighede lyk goed na goeie somerreëns, wat eintlik vreemd is vir ons,” sê Pieter de Jager van Tartouwa Boerdery by Albertinia, verlede jaar se Graanboer van die Jaar.

“Ons het die afgelope paar dae tussen 30 en 60 mm gekry en sowat 100 mm gedurende die vorige agt weke en die ondergrondse vog is baie goed. Ons wou die naweek kanola begin plant en ons wag net dat dit opklaar, dan klap die skoot.”

Die Duiwenhoksdam by Heidelberg is 125% vol.

Geld in landbou, net nie vir die boer nie

Henry Meyer, wat in die omgewing van Mosselbaai boer, en Agri Wes-Kaap se verteenwoordiger in die Suid-Kaap is, sê omstandighede lyk goed. “Die weer maak uier, dit kan reën vannag, maar ek hoop nie ons kry daai vreeslike weer soos Kaapstad se kant toe nie. Dis nou ‘n baie kritieke tyd en die toestande is gunstig om te begin plant, maar ‘n klomp reën gaan dinge verander,” het hy Maandagmiddag gesê.

“As dit te nat is, soos laasjaar, kan ons nie die mespuntskaar vir minbewerking gebruik om ‘n klein saadbed te skep nie, want die grond is te nat om oor die saad toe te val. Laasjaar moes ons die saad met ‘n grondbreker toekrap.

Weens die oorvloed reën verlede jaar is baie grondvog opgegaar. “Ons moes spuit om die onkruid wag vog onttrek dood te kry, maar die deklaag het help keer dat die grond afdroog.”

Volgens hom het dit die afgelope naweek tussen 18 en 40 mm in die Tuinroete geval. In 2023 het 1200 mm geval – dubbel die gemiddeld van sowat 650 mm. In 2022 het net sowat 350 mm geval, net die helfte van die langtermyn gemiddeld.  Verlede jaar se reën en dit wat nou val het die ondergrondse berg-akwifers gevoed.

Mosselbaai het 102 mm reën gekry en die Wolwedansdam loop oor.  By George het dit 158 mm gereën, by Wildernis 163 mm en by Knysna 79 mm. Die Tuinroetedam loop oor.

“Die grootste uitdaging nou is as dit ‘n paar dae bewolk was, kla die boere dat die sonpanele nie werk nie…”

Aan die einde van die reënboog: Goeie reens beteken baie vir boere in die Murraysburg-omgewing waar dit vir die eerste keer in baie jare behoorlik gereen het. (Bron: Juanita Bellinghan, Facebook)

Versigtig optimisties

Henry meen daar is baie geld in die landbou, maar nie vir die boer nie.

“Baie saaigrond word byvoorbeeld by Heidelberg verhuur. Kleiner boere kan dit net nie meer bekostig om te boer nie, die insetkoste is te hoog.

“Interessant genoeg is dit veral jong boere wat toetree en wat groot gaan – daar betaal hulle sommer vooruit sowat R50 miljoen om grond oor die langtermyn te huur!  Hulle meen dis meer ekonomiese om 6 000 ha te plant as net 3 000 ha. Hulle sien daarvoor kans; ek kan nie so groot en so ver dink nie…”

Waar verlede jaar ‘n swak jaar vir aanplantings was omdat hulle nie met die trekkers in die lande kon inkom nie, is hy vanjaar “versigtig optimisties”. Maar dit bly taai. “Ouens dreig om hulle skape of melkbeeste te verkoop – maar wat anders kan ‘n mens doen?”

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0