Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 9th April 2024

TLU SA Jongboerkonferensie: Die toekoms van landbou saam onder een dak

By 4 min read
845 words

DSC_0779

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“Die toekoms van landbou.” Dít is hoe mooi Belinda Labuschagne van Belinda Boer die klomp jongboere in die vertrek opgesom het. Sy het verwys na die jongboere wat die TLU SA Jongboerkonferensie bygewoon het. Die geleentheid het op 15 Maart 2024 by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind.

Vanjaar se konferensie het gefokus op die tema om te boer vir die toekoms. Na lekker boeretroos en varsgebak het dominee Tiaan Jordaan die dag uit die Woord geopen. Sy boodskap het gegaan oor die hoop wat boere moet hê as hulle vaste anker.

“Ons glo nie net in hoop nie, ons het hoop.” Daarna het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, die jongboere aangemoedig om deel te neem aan georganiseerde landbou. Hy het genoem dat georganiseerde landbou iets is wat jy aktief moet kies om aan deel te neem, anders beteken dit nie veel nie. Hy sê dat grondvlakstrukture die belangrikste is, want as jy dít sterk maak, maak dit die hele gemeenskap sterk.

“Kom ons hê hoop en entoesiasme. Wees trots, bou brûe. Dit is ’n wonderlike voorreg om aan landbou deel te neem,” is die raad wat hy aan die jongboere gegee het.

Hy het afgesluit deur die hoofdoel van TLU SA uit te lig: Om landbou te laat leef, en om die regte redes. Een van die merkwaardigste spre-kers van die dag was Sean Welman, van Agri Skills Transfer. Agri Skills Transfer bied die geleentheid aan jongboere om landbou in die praktyk te leer. Jongboere kan op hulle opleidingsplase gaan bly om te leer.

Hy sê: “Ons hande is oop, ons harte is oop. Ons wil deel wees van die gemeenskap.” 2024 is hulle 20ste bestaansjaar. Hulle bied volle diplomakursusse sowel as korter kursusse aan. Agri Skills Transfer bied ses beurse vir kort kursusse aan. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking daarvoor te kom, is om ’n opstel van 400 woorde oor die onderwerp “Boer vir die toekoms” te skryf. Sean het ook aangekondig dat daar ’n beurs ter waarde van R200 000 beskikbaar is vir 2025 vir iemand om ’n volledige kwalifikasiekursus by Agri Skills Transfer te volg. Dit sluit in kos en verblyf. Sean het genoem dat hulle spesifiek vir iemand die geleentheid gee wat reeds die blootstelling het, maar die kwalifikasie kort. ’n Belangrike onderwerp vir die dag was kunsmatige intelligensie. Irmarie Taljaard van PICRSA en Christian Zimelka van ZedWorks het veral hieroor uitgebrei.

Irmarie is ’n kenner op die gebied van seleksie, veral in varke. Sy het die jongboere ingelig oor nuwe interessante tegnologieë wat gebruik kan word in boerdery. Daar is byvoorbeeld kameras wat die varke in hulle hokke dophou en data aanteken van wanneer hulle staan, lê en eet. Die tegnologie van FertiBoar het die vermoë om die testes van ’n vark te ondersoek en te bepaal hoe die beer se produksiestelsel ontwikkel is en of daar enige afwykings is. Sy het boere aangemoedig om tegnologie in die boerdery te verwelkom.

“Tegnologie maak die boer se hande los dat hy kan fokus op ander aspekte van sy onderneming.” Christian het beaam wat Irmarie gesê het. Hy sê as jy enigiets kan gebruik om jou te help, is dit ‘n wyse besluit. Hy het aan die gehoor verskillende maniere gedemonstreer hoe kunsmatige intelligensie gebruik kan word, en hoeveel krag dit eintlik dra.

Hy vergelyk kunsmatige intelligensie met die ontdekking van vuur: “Ons weet dit is ’n kragtige ontdekking, maar ons besef nog nie dit kan ons warm hou nie.” Nicky van der Linde van Geelbos Boerdery het in 2023 die Jongboer van die Jaar-toekenning ontvang. Hy het die toekenning opgedra aan sy pa. Volgens hom is ’n suksesvolle Boerdery ’n fyn berekende spel met baie uitdagings en geloof.

Hy sê: “Ons moet op ons knieë bly en ons koppe op die vloer hou. Hy sal voorsien.” Nicky is opgewonde oor die toekoms en het die jongboere daarop gewys dat almal saam kan kla, maar nie almal wil deel wees van die oplossing nie. Die laaste spreker van die dag was GP van Reede van Coppertop Consulting. Hy het die gehoor aan die skater gehad met sy grappies en gesingery. Die hooffokus van sy boodskap was hoe om te maak as jy wil vooruitgaan. Hy se: “Ons moet nuut dink en ons koppe oopmaak”.

GP het die jongmense veral aangespoor om te gaan dink oor die rigting waarin hulle wil beweeg, hoe om dit te omskryf en watter stappe geneem moet word om daar uit te kom. Uitnemendheid is volgens hom die een ding waarna almal moet streef en wat niemand van jou kan ontneem nie.

Henry Geldenhuys is die president van TLU SA. Hy het die dag afgesluit met die volgende woorde: “Jongboere, julle is die leiers van toekomstige landbou. Ons wil vir julle hoop gee om te doen wat julle moet doen. Gaan bid jou knieë deur. Daar is baie teen ons, maar ons sal sukses behaal in geloof.” Die dag is op ’n hoogtepunt afgesluit met ’n feesmaal vir almal om te geniet. Aartappels, slaai, legendariese paptert en massas vleis het die skare se monde laat water!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0