Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld
Die GROOT stryd
Dit lyk of die stryd om groter en kragtiger trekkers besig is om vinnig op te warm, berig profi, ’n toonaangewende landboutegnologietydskrif in Europa. Hulle sê daar is ‘n paar foto’s wat die rondte doen van ‘n nuwe en kragtiger Case IH Quadtrac en ‘n moontlike nuwe John Deere RX.
“Terwyl daar baie gepraat word van kleiner outonome voertuie wat in swerms werk, is daar steeds ‘n groot wêreldwye vraag na ekstra perdekrag om wyer werktuie te sleep. Net ‘n paar weke gelede het Claas sy grootste trekkerreeks ooit onthul, die tweemodel Xerion 12-reeks met die vlagskip met ‘n 15,6-liter Mercedes-Benz-enjin met ‘n piekkrag van 653 pk (486,9 kW).
“As deel van die ontwikkeling van die nuwe Xerion het Claas huidige en potensiële kliënte ondervra en een van die vrae wat gevra is, was hoeveel krag hulle wou hê. Die konsensus was dat 650 pk voldoende was, maar dit blyk dat Case IH- en Deere-gebruikers selfs meer krag eis. “Daar is niks amptelik van Case IH en John Deere nie, maar dit lyk asof albei vervaardigers gereed maak om deur die 700 pk-versperring te breek.” In Duitsland is “spioenasie”-foto’s geneem van ‘n Case IH met die nommers 715 op die enjinkap. Daar is selfs sprake van ‘n nuwe Quadtrac wat 780 pk (581,6 kW) sal lewer.
Dowwe steelfoto’s doen ook aanlyn die rondte van wat lyk na ‘n John Deere met groter spore, raam en enjinkap as die huidige John Deere 9RX640. Bespiegeling is dat daar ‘n 10RX met ‘n 18-liter-enjin op pad kan wees. profi berig: “Die nuwe Quadtrac sal na bewering einde vandeesmaand by die Farm Progress Show in Illinois vertoon word, gevolg deur die Europese première by Agritechnica in November. “Ons sal moet wag en sien of John Deere soortgelyke bekendstellingsplekke vir die nuwe, groter RX uitgestippel het, hoewel een trekker van die drie wat ons met vertroue verwag om by Agritechnica te sien die nuwe Claas Xerion is.” (Bron: profi)
New Holland gee om:
TL5 vir rolstoelgebruikers
New Holland het ‘n TL5 ontwikkel wat toeganklik is vir mense wat gestremd is en nie kan loop nie. New Holland is waarskynlik die eerste hoofstroomvervaardiger wat ’n trekker ontwikkel wat toeganklik is vir rolstoelgebruikers. Die TL5 Accessible is by CNH Industrial se Curitiba-aanleg in Brasilië geskep, met die hulp van ‘n New Holland-kliënt wat ‘n rolstoel gebruik en maatskappye wat spesialiseer in mobiliteit vir gestremdes. Dit is opsioneel beskikbaar op die nuwe 80-, 90- en 100-pk- (59,6, 67 en 74,5 kW) -modelle. Die aanpassing is beskikbaar vir trekkers vanaf die 2019-jaarmodel.
Hoe dit werk:
Die hysplatform stel die operateur in staat om sonder hulp in of uit die trekker se kajuit te beweeg. Hy kan dan toegang tot die trekkersitplek kry en die aangepaste kontroles gebruik. Die binneruim is dieselfde as ‘n standaard TL5. “Mense met gestremdhede, insluitend diegene wat op die platteland woon en werk, wil so onafhanklik as moontlik bly,” sê Eduardo Kerbauy, adjunkpresident van New Holland Landbou vir Latyns-Amerika. Hy het bygevoeg dat die gewysigde TL5 sal help om hindernisse uit te skakel wat dit vir baie boere onmoontlik maak om op ‘n trekker te klim. (Bron: CNH)
LEMKEN:
Werk 10 meter wyd met die nuwe Rubin 10
LEMKEN het sy topreeks van die beproefde Rubin-kombinasiewerktuie aangevul met ‘n Rubin 10 wat tien meter wyd werk, met ‘n skyfdeursnee van 645 millimeter. Soos die kleiner Rubin 10-modelle met tot sewe meter werkwydte, spog die Rubin 10/1000 met ‘n simmetriese skyfrangskikking vir brandstofdoeltreffende werking sonder sytrek.
Hierdie nuwe kompakte skotteleg kan met ‘n balkoppeling of trekstangoog gehaak word, en hidrouliese ondersteuning is beskikbaar om aan- en afhaak makliker te maak. Die twee rye gehapte, konkawe skywe laat deeglike inwerking van materiaal oor die volle werkwydte vanaf ‘n gronddiepte van sewe sentimeter toe.
Die skottelspasiëring van 14 sentimeter verseker vrye vloei van materiaal, selfs met groot volumes organiese materiaal. Elke konkawe skyf van die Rubin 10/1000 is toegerus met ‘n gedempte uitskop- en terugslagaksie, wat die las op die raam verminder. Die nuwe Rubin bied baie meer voordele, byvoorbeeld sy werkgedeeltes beskik oor ‘n pendulumtipe vering om optimale volg van grondglooiings te verseker. Wanneer op baie ongelyke terrein of teen hellings gewerk word, waarborg die opsionele iQ-Contour aanpassing optimale oppervlakvolging.
Boonop maak die hidrouliese diepteverstelling dit moontlik om op veranderende toestande te reageer, en die werkdiepte kan verander word terwyl jy ry. Tydens die draaiproses word die werktuig deur die roller met sy besonder sterk laers ondersteun. Danksy sy wye kontakarea word die werktuig stewig ondersteun en word grondverdigting tot die minimum beperk. Die masjien word vanaf die kajuit tot ‘n vervoerwydte van drie meter ingevou. (Bron: LEMKEN)
Nuwe vasbytrekord vir Bednar
769,36 hektaar. Dit is hoeveel grond met die Bednar Swifterdisc XE 18400 MEGA-skotteleg en ‘n John Deere 9RX 640-trekker bewerk is tydens ‘n 24-uur rekordpoging in Roemenië. Die trekkerwerktuig-kombinasie het ‘n aansienlike 125,36 hektaar op die 2007-rekord verbeter. Hierdie 24-uur rekord is behaal tydens ‘n geleentheid wat deur Bednar in samewerking met die Roemeense Bednar en John Deere verspreider, IPSO Agricultură, gereël is. Roemenië is gekies vanweë die groot lande. Om die werklike gebruik en potensiaal van die kombinasie te wys, het die rekordpoging in ses verskillende landerye plaasgevind waar koring, winterkanola en ertjies kort vantevore geoes is. Die grootste land het ‘n oppervlakte van 161,36 hektaar beslaan. Die netto werktyd was 23 uur en 36 minute.
Veldtoestande en masjieninstellings
Die gemiddelde werkspoed was 32,6 hektaar per uur, en die brandstofverbruik was 3,1 liter per hektaar gedurende die werktyd van 23 uur en 36 minute. In daardie tyd het die kombinasie ‘n afstand van 450,7 kilometer afgelê, en die totale brandstofverbruik was 2 355,6 liter. Die werkdiepte wat op die skyfsnyer gestel is, was 7 sentimeter. Stilstaantyd benodig vir noodsaaklike instandhouding en hervulling was slegs 24 minute. Die bestuurders het uitgeruil wanneer die masjien op die wenakker draai.
Groot werkwydte
Bednar het van die begin af in die vervaardiging van wye masjiene gespesialiseer. Die eerste een is in 2003 vrygestel: die wyespan Swifter SMsaadbedmaker. “Ons kan die toenemende belangstelling vir sulke masjiene sien, wat daartoe gelei het dat ons die Swifterdisc XE_MEGA-reeks in 2021 bekendgestel het,” sê David Ryčl, bemarkingsdirekteur van Bednar.
“Dit bestaan tans uit drie modelle met ‘n werkwydte van 14,4 tot 18,4 meter. Ek is baie bly en trots op wat ons reggekry het om met ons masjien tydens die 24-uur-operasie te bereik. Dit bevestig nie net die masjiengehalte wat so ’n hoë las weerstaan het nie, maar ook die masjien se hoë produktiwiteit en doeltreffendheid.”
Die werktuig kan vinnig op die wenakker draai danksy die vermoë om die skyfwerkgedeelte op te lig. Dit draai met behulp van die agterste rollers, die voorste steunwiele en die vervoeras. Tydens werk word die voorste as gelig om ‘n hoër afwaartse druk op die skyfgedeelte te verkry. (Bron: World Agritech)
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=gjaJEkH4DXE.