Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 11th June 2024

Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

By 6 min read
1160 words

siloking-selfline-system-1000

Siloking se selfaangedrewe Etruck se kapasiteit is verhoog deur die enkelbak te verruil vir 'n dubbelbak wat vragte van 12 tot 20 m3 kan hanteer.

‘n Robothond wat plante op sy eie natgooi

Die hond bly maar die mens se beste vriend. ՚n Groep tegnologiegeesdriftiges in Italië, bekend as B-AROL-O, het ՚n robothond ontwikkel wat outonoom na plante omsien deur ՚n sprinkelaarstelsel aan boord te aktiveer. Sy tegnologie vergemaklik plantmonitering deur te onderskei tussen gesonde en swak blaartoestande. Meer ontwikkelings is nodig voordat dit prakties in landbou toegepas kan word, maar selfs goeie idees word soms klein gebore.

Die B-AROL-O-span is ՚n groep vriende wat werk of voorheen vir ՚n Italiaanse maatskappy in die verpakkingsbedryf gewerk het. Barolo is ook ՚n wynstreek. Die hond heet FREISA, ՚n akroniem vir Four-legged Robot Ensuring Intelligent Sprinkler Automation. Met hierdie nuwe integrasie van robotika, KI en landbou, sê die span dit beoog om ՚n nuwe era van slim tuinmaakoplossings bekend te stel. Die robothond “loop” met sy vier ledemate. ՚n Kameramodule word gebruik om die nabye omgewing waar te neem. Plante word met behulp van KI geëvalueer en deur FREISA natgegooi as hulle te droog lyk.

“Ons robot toon goeie vermoëns om ՚n teikenplant te identifiseer, daarheen te navigeer en sy blare te ondersoek voordat hy sy posisie presies aanpas om die plant doeltreffend nat te lei,” sê Gianluca Teti, lid van die groep. Aanvanklik het die span dit oorweeg om wingerde as ՚n omgewing vir die hond te gebruik. Hierdie keuse het egter sekere uitdagings gebied. Die wingerdblare groei hoofsaaklik op ՚n hoogte van minstens 40 cm van die grond af, te hoog vir die prototipe robothond. Die terrein waar wingerde tipies verbou word, veral in Italië, is geneig om ongelyk te wees, wat navigasieprobleme vir ՚n robot veroorsaak. Daarom het die span ՚n meer beheerde omgewing gekies: ՚n klein tuin met tamatieplante.

Maar, sê die span, hierdie besluit sluit nie die moontlikheid uit om sy projek voort te sit en moontlik die robothond in die toekoms aan wingerde bekend te stel nie. Die span se doel was om ՚n plant se vogtoestand te oordeel deur die toestand van sy blare en stingels te ontleed. Die span moes ՚n groot verskeidenheid beelde versamel en dan verskillende netwerke en modelle oplei.

Die span glo dat vierpotige platforms ideaal is vir ՚n reeks buitelugtoepassings as gevolg van die vermoë om ingewikkelde terrein te navigeer. Dit is ook die rede waarom hulle besluit het teen ՚n robot wat op wiele en spore loop. Die groep het ook ՚n hommeltuig oorweeg, maar het gereken sy battery en loonvrag sal te veel uitdagings bied.

Die span het die robot vir minder as 500 dollar gebou, met behulp van gratis beskikbare sagteware. FREISA het die “Grand Prize” in die 2023 OpenCV AI-wedstryd gewen. Die span het reeds potensiële verbeterings geïdentifiseer, soos die gebruik van die OAK-D Lite se stereokamera om ՚n teiken se afstand te skat. (Bron:Future Farming)

FREISA is ‘n honderobot wat jou groentetuin outonoom kan natlei. (Foto: B-AROL-O)

Siloking: Etruck nou groter en beter

Kverneland se jongste nuus handel oor die opdaterings van die Siloking-voerhanteringsreeks. Dit sluit in ՚n traplose ratkas vir die awegaars van die sleepmodelle, ՚n opgeknapte weergawe van die batteryaangedrewe Etruck, terwyl die dieselaangedrewe masjiene nou met hidrobehandelde groenteolie (HVO) kan werk. Daar word gesê dat die Variospeedratkas in die TrailedLine-awegaarmengers baie minder wringkrag benodig om dinge aan die beweeg te kry en dus die kragvereistes verminder. Drie voorafbepaalde awegaarsnelhede kan gekies word om te sny, te meng en uit te voer met die druk van ՚n knoppie, tesame met die opsie van afstandaktivering vanaf die masjien wat die mengsel laai.

Die selfaangedrewe Etruck se kapasiteit is verhoog deur die enkele awegaarbak te verruil vir ՚n dubbelbak wat vragte van 12 tot 20 m3 kan hanteer. Die loodsuurbatterypak is verander na een met litiumioonfosfor wat twee tot vier mengsels kan hanteer sonder om te herlaai, met ՚n geprojekteerde lewensduur van 3 000 tot 5 000 volle laaisiklusse.

Pryse begin by £188 000 (R4,5-miljoen) vir die 12 m3-weergawe. In 2019 het Siloking aangekondig dat hy meer as 100 van die battery-aangedrewe voerders verkoop het wat in 2016 as ՚n konsep by EuroTier vertoon is. Toe was die kapasiteit 8 m3, wat in 2017 tot 10 en 14 m3 vergroot is. (Bron: profi)

WeLASER: Nog ‘n stap nader aan plaagdodervrye landbou

Lede van die WeLASER-konsortium moniteer die werking van hulle prototipe in veldtoestande.

Na drie jaar se werk het ՚n internasionale vennootskap waarby agt Europese lande betrokke is, ՚n presisie-onkruidlasermasjien vrygestel wat bewys dat landbou sonder die gebruik van chemiese onkruiddoder binne ons bereik is. Die vennootskap wat gevorm is deur navorsingsentrums, universiteite, private maatskappye en boere organisasies uit Spanje, Duitsland, Denemarke, Frankryk, Pole, België, Italië en Nederland het die eerste fase van die ontwikkeling van die presisieonkruidprototipe-masjien voltooi wat lasertegnologie gebruik om onkruid uit te roei. Die doel is om produktiwiteit en mededingende gewasproduksie te verbeter, terwyl gesondheidsrisiko’s en skade aan die omgewing deur chemikalieë, uitgeskakel word.

Die prototipe sluit ՚n outonome voertuig in wat deur die land ry, toegerus met ՚n gevorderde opsporingstelsel gegrond op kunsmatige intelligensie (KI) deur beeldverkryging en dataverwerking, wat dit in staat stel om die onkruid wat uitgeroei moet word, te onderskei

en te plaas. Sodra dit deur die kamera geteiken is, lei dit die hoë-kragvesellaserbron na daardie punt. Met hierdie vinnige modulasiekonsep kan presiese energiepulse gerig word vir hoogs doeltreffende onkruidvernietiging. Data word bestuur deur ՚n wolkrekenaar.

Alhoewel hierdie projek tans hierdie eerste fase van ontwikkeling afsluit, sal verdere werk nodig wees, byvoorbeeld om die tyd wat nodig is om in die veld te werk te verminder, om die prototipe makliker te hanteer en om produksiekoste te verminder om ՚n bemarkbare model beskikbaar te stel.

Behalwe die ontwikkeling van die prototipe, het hierdie projek gelei tot die ontwikkeling van verskillende skeppings met verskeie toepassings, insluitend:

  • ՚n Hoëkragvesellaserbron vir die beheer van onkruid deur presiese energiepulse.
  • ՚n Nuwe pomp- en verkoelingskonsep wat die energiebehoefte van die laser vir die onkruidproses tot die minimum beperk.
  • ՚n Verbeterde kragtoevoerstelsel vir outonome robotplatforms.
  • ՚n Intelligente navigasiebestuurder vir outonome robotte wat van toepassing is op presisieboerdery en wat navigasie regoor die plaas moontlik maak, nie net op lande nie.
  • Die integrasie van verskillende metodologieë van kunsmatige intelligensie (AI) om verskillende soorte gewasse te identifiseer, insluitend wye en smal gewasse.
  • ՚n KI-gegronde laseronkruidbeheerstelsel vir indiwiduele plantbehandeling in gewasse van verskillende soorte, terwyl dit voldoen aan alle veiligheidsregulasies wat nodig is vir die werk met lasertegnologie.

In Europa alleen word ongeveer 130-miljoen ton sintetiese onkruiddoders elke jaar gebruik (sonder om ander chemikalieë te tel). Hierdie stowwe onderskei nie tussen voordelige plante en insekte in die grond wat nie hulle teiken is nie en kan ՚n uitwerking op die gesondheid van diere en mense hê. Daarbenewens ontwikkel onkruid weerstand, wat beteken dat bestaande onkruiddoders al hoe minder doeltreffend word.

González de Santos, een van die spanlede, sê: “Die WeLASER-konsortium is gemotiveerd om slimmer boerderymetodes aan te neem en meer volhoubare voedselproduksiestelsels te bou terwyl die omgewing en gesondheid bewaar word. WeLASER maak ՚n betroubare en veilige opsie beskikbaar en bied deurbrake om ՚n wêreldwye probleem op te los.”

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0