Tegnologienuus uit ander oorde

pic1
ProAgri laat hom nie stuit in sy roeping om landboutegnologie onder die boer se aandag te bring nie. Met landbouskoue wat wêreldwyd aangeskuif of gekanselleer is, het aanlynnuus al hoe belangriker geword.
ProAgri se tegnologiespan het so ’n paar interessante brokkies oor toerusting in die res van die wêreld bymekaargemaak.
Werk wyd met Pöttinger se nuwe 17-meter deurlugter

Die nuwe sleepmodel-deurlugter van Pöttinger, die HIT16.18T, lig gesnyde hooi in ’n baan van 17 meter met sy 16 rotors op en skommel dit vir vinnige afdroging sodat die boer kan baal voordat die reën kom. Elke Dynatech-rotor met ‘n deursnee van 1,42 m beweeg onafhanklik om grondglooiings getrou te volg. Elke rotor het ses arms wat die deurlugtingsvingers vashou. Die twee rotors heel regs kan hidroulies vanuit die kajuit 15 grade invou om ‘n skoon strook aan die kant van die land te laat. Die hele werktuig vou toe na agter en dan na voor om op sy eie drarak te pas vir vervoer tussen lande. (Bron: Pöttinger)
360 werktuie vir een plaas

Ons dink ons boer groot! In Oesbekistan het ’n katoenplaas 360 werktuie by die CNH-groep bestel. Die bestelling van Case-toerusting sluit in: 120 Puma-trekkers, 46 Cotton Expresskatoenplukkers en 23 Axial-Flow 4088-stropers.
New Holland lewer 40 BC5070-balers en 120 ploeë af en dan is daar nog baalhanteringstoerusting ook bestel. As gevolg van vervoerbeperkings rondom COVID-19 word die werktuie op verskillende maniere en van verskeie plekke af gestuur om betyds vir oestyd te wees. Die finansiering is verskaf deur CNH Industrial se eie finansiële been. Katoen is die grootste kontantgewas in Oesbekistan. (Bron: CNH Industrial)
Väderstad se onderdelefabriek groei

Meer verkope van toerusting beteken ook dat meer onderdele beskikbaar moet wees. Die fabriek van Väderstad-komponente, ’n afdeling van die Väderstad-groep, word groter gemaak en gemoderniseer met ’n nuwe outomatiese produksielyn. Die fabriek sal nou meer geharde sleutelkomponente kan vervaardig na die belegging van R75-miljoen.
Die fabriek is naby die dorp Överum geleë en verskaf tans werk aan 50 mense. Die bykomende uitbreiding van 2 000 m2 sal teen vroeg volgende jaar gereed wees vir produksie. Onderdele soos skywe, beitelpunte, rollers, skrapers en laers word vervaardig. Väderstad is die grootste gebruiker van hoëgehalte Sweedse boron-staal in die Nordiese streek. Vitamech is die verspreider van Väderstad se toerusting in Suid-Afrika. (Bron: profi)
John Deere se 7R-reeks kry ’n nuwe grootboet

In Suid-Afrika is boere nog besig om maats te maak met die hoë-tegnologie 8R-reeks van John Deere met die 8RX as die ster van die reeks met sy vier rusperbande. In Europa geniet boere al die afgelope agt maande die nuwe 7R-reeks, maar die grootboet in die reeks, die 7R350, is pas onthul. Die 260,9-kW trekker lewer sy 289,3 kW krag met behulp van Intelligent Power Management. Die vorige topmodel in die reeks was die 7R330. Die 7R350 is standard toegerus met gladde AutoPower-kragoordrag.
Al die tweedegeslagmodelle in die 7R-reeks (7R250, 7R270, 7T290, 7R310 en 7R330) spog met ’n groter en meer moderne kajuit as hulle voorgangers. Die deure is wyer, die deurhandvatsel is laer en geriefliker om van buite te bereik, die sitplekke is nog geriefliker as vroeër en die 360° LUD-ligstelsel is 60% meer doeltreffend. Die gevorderde ActiveCommand Steering 2 is ’n elektroniese stelsel wat ’n giroskoop gebruik om enige gierbeweging vroegtydig waar te neem en daarvoor te kompenseer sodat die trekker presies in sy spoor bly. (Bron: profi)
Absolute presisiepitplasing

Horsch was ’n paar jaar gelede aan die voorpunt van presisieplantwerk met sy elektriese saaduitmeetstelsel. Nou is die stelsel nog verder verfyn met die AirSpeed (X)-oordruksaaduitmeter vir die volgende geslag Maestro-presisieplanters. Die nuwe stelsel sluit aan by die AirVac (V) stelsel wat by Agritechnica bekendgestel is. AirSpeed-oordruk (druk bo die normale atmosferiese druk) vir saaduitmeting: Die resultaat is perfekte plantspasiëring teen ’n spoed van tot 12 km/u.
’n Graansensor verskaf inligting oor die uitmeetakkuraatheid en aangesien albei stelsels elektries aangedrewe is kan tegnologie soos SectionControl en VariableRate steeds vir elke ry ingespan word. AirSpeed en AirVac word gebruik vir ’n wye verskeidenheid gewasse soos mielies, suikerbeet, sonneblom en sojabone.