Categories: NuusPublished On: 5th July 2018

Tabakboere word deur onwettige sigarethandel bedreig

By 2 min read
tobacco

tobacco

Agri SA doen ‘n beroep op die regering om dringend te reageer op die skokbevindings van ‘n studie oor sluikhandel in sigarette wat vandag vrygestel is. Die Ipsos-studie het bevind dat ‘n aansienlike persentasie sigarette onwettig verkoop word –  waarop geen aksynsbelasting betaal word nie. Die studie wys ook op ‘n duidelike verband tussen sluikhandel en buitelandse tabak. Suid-Afrikaanse tabakboere loop die risiko om, indien die tendens voortduur, uit die waardeketting gesny te word.

“Die implikasie van die bevindings strek verder as tabak,” sê Pietman Roos, hoof van Korporatiewe Sake by Agri SA. “As kriminele organisasies elke jaar miljarde Rande verdien deur aksynsbelasting te omseil, is die volgende stap om die waardekettings van ander kommoditeite te infiltreer. Onwettige handel maak reeds plaaslike tabakboere en die Suid-Afrikaanse dorpe wat van hierdie arbeidsintensiewe gewas afhanklik is, seer. Stel jou voor dat dit regoor die land gebeur.”

Volgens die Ipsos-studie, wat in opdrag van die Tabakinstituut van Suidelike Afrika (TISA) gedoen is, word 26,8% van sigarette in Suid-Afrika onder die R17,85-minimum – wat betaalbare aksynsbelasting en BTW  is – verkoop. Die verantwoordelikheid is op die sigaretvervaardigers – die maatskappy wat die handelsmerke besit – om die aksynsbelasting en BTW op elke pakkie sigarette te betaal. Deur hulle volumes nie behoorlik te verklaar nie en dus nie die volle belasting te betaal nie, kan hulle die mark met onwettige goedere oorstroom.

“Die Ipsos-navorsing toon dat byna 8 miljard sigarette vanjaar onwettig verkoop sal word, wat tot ‘n verlies van meer as R7-miljard aan die fiskus sal lei,” sê Francois van der Merwe, die voorsitter van TISA. “Dit is ‘n skande in ag genome die land se finansies en die wankelrige ekonomiese herstel.”

Die tabakbedryf ondersteun meer as 108 000 werksgeleenthede, insluitend 8 000 – 10 000 plaaswerkers. Tabak word in Noordwes, Limpopo en Mpumalanga gekweek en het bewys dat dit ‘n uitstekende gewas is om transformasie in die landbou te dryf. TISA is ‘n lid van Agri SA.

Agri SA versoek die betrokke staatsdepartemente om in te gryp en konsekwente wetstoepassing te verseker.

Bron: Agri SA

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0