Swartvrot op koolgewasse: Wat om te weet

Cabbage Head With Green Leaves
Swartvrot op koolgewasse is ’n groot uitdaging, en veral in seisoene waar ons bogemiddelde reënval kry is die patogeen veral geneig om meer moeilikheid te veroorsaak. Swartvrot word deur die bakterie Xanthomonas veroorsaak, en is opsigself ’n moeilike siekte om te beheer as hy in jou lande is. Dit is dus belangrik om swartvrot voorkomend te bestuur.
Die patogeen of siekte verkry toegang tot die plant deur middel van hidatodes, wat openings op die blaar se rand is. Snags, wanneer daar geen transpirasie plaasvind nie, druk die plant xileemsap uit hierdie openings uit, ’n proses genaamd guttasie. Wanneer hierdie druppels weer soggens deur die plant teruggetrek word, wanneer transpirasie weer begin, kan Xanthomonas saam die druppel die plant binnegaan. Dit is as gevolg hiervan dat swartvrot deur middel van ’n V-vormige simptoom geïdentiseer kan word in die land.
- Die resultaat van die guttasieproses waar die plant sy interne turgordruk balanseer deur vloeistof deur die hidatodes te druk.
- Die infeksieptroon van die bakterie Xanthomonas kan op hierdie foto duidelik gesien word – die infeksie vind plaas op die “roete” wat die uitgedrukte druppel volg soos hy teruggetrek word in die plant.
As jou gewas se selwande sterk is, is dit baie moeiliker vir die patogeen om groot skade te veroorsaak. Chemiese elemente soos kalium, kalsium en boor is baie belangrik vir die dikte van selwande. Hoëgehalte-formulasieprodukte kan help om tekorte hier baie effektief aan te vul. Om gereeld silikonblaarbespuitings by jou spuitbeplanning in te sluit is ook ’n goeie voorkomende maatreël. Geregistreerde koperprodukte en ontsmettingsmiddels bied ook goeie werking teen die patogeen.
In Suid-Afrika is sekere kultivars minder gevoelig vir swartvrotinfeksie op ’n genetiese vlak, soos Optima en Powerslam van Sakata, so maak seker jy plant van hierdie kultivars in die seisoene wanneer swartvrot voorkom en ’n probleem is.
Kontak jou naaste Novon-verteenwoordiger vir meer inligting, of besoek Novon se webtuiste by www.novon.co.za


