SWARTSTAM IN KANOLA

Banners
Voorkomende beheer is jou wapen tot sukses
Kanola vorm ’n belangrike deel van produsente se wisselbouprogramme en die volhoubare produksie van gewasse in die Wes-Kaap. Swartstam (Leptosphaeria maculans/Phoma lingam) is een van die kanola-siektes wat tot groot opbrengsverliese kan lei. Waar die swam die weerstand van kultivars oorkom het, kan verliese van 50% tot 90% voorkom.
Lewensiklus van swartstam
Verskeie faktore kan bydra tot die ontwikkeling van die siekte. Die hoofbron van die primêre infeksie is kanolaresidu. Die inokulum kan egter ook deur die saad oorgedra word (Diagram 1). Die impak tussen seisoene as gevolg van saad is egter klein as dit vergelyk word met die inokulum van besmette stoppel van vorige jare. Seisoenale omstandighede speel ’n groot rol by die vlak van infeksie wat verwag kan word.
Reën en koel weer stimuleer die ontwikkeling van spore, en klam toestande veroorsaak die vrystelling van swartstamspore van kanolastoppel wat op die oppervlak voorkom. Swartstamspore word hoofsaaklik deur die wind versprei met die hoogste persentasie binne 500 meter van enige kanolastoppel. Spore word vanaf die stoppel vrygestel totdat die stoppel heeltemal afbreek.
Dit kan tot vier jaar neem voordat die stoppel afgebreek het (Diagram 2). Die swartstampatogeen kan die plant op enige stadium infekteer, maar die vroeë saailinginfeksie het die grootste kans om tot kroonkankers later in die seisoen te ontwikkel, wat die grootste impak op opbrengsverlies het.

Diagram 1: Die lewensiklus van swartstam.

Diagram 2: Die vrystelling van spore oor vier seisoene in Wes-Australië. (https://www.agric.wa.gov.au/canola/managingblackleg-canola).
Tipe infeksie: blaar- en kroonkanker
Blaarinfeksie het byna geen impak op opbrengs nie, maar dit is hier waar die patogeen vanaf die letsel op die saailingblaar deur die blaarpetiool en teen die stam af na die kroon van die saailing groei om later in die seisoen kroonkanker te vorm (Figuur 1, 2 en 3).
- Figuur 1: Swartstamletsel op die blaar.
- Figuur 2: Swartstaminfeksie in die stam.
Swartstam-blaredakinfeksie
As spore later in die seisoen vanaf die stoppel vrygestel word, lei dit tot blaredakinfeksie (BDI) (upper canopy infection). Dit is moontlik dat swartstam alle dele van die kanolaplant kan affekteer. BDI is ’n kollektiewe term wat gebruik word om die infeksie van die blomme, stam, peule en sytakke te beskryf.
BDI het oor die laaste paar jaar in Australië toegeneem en kan geassosieer word met ’n vroeër blomperiode omdat kultivars vroeër geplant word en die gewas ’n vinniger fenologiese ontwikkeling gedurende die warmer herfs en winter ondervind. Hierdie infeksie het ook al in Suid-Afrika waargeneem.
Die effek op opbrengs hang af van wanneer die plant en watter deel van die plant besmet is. Blomverlies as gevolg van infeksie van die blomme of pedunkels het nie so ’n groot effek op die verlaging van opbrengs nie, want die kanolaplant kan kompenseer deur meer blomme te produseer. Wanneer die swam egter die geassosieerde sytakke besmet, kan saadset en graanvul van die peule geaffekteer word.
Infeksie van die peule of pedunkels nadat die peule gevorm het kan groot oesverliese tot gevolg hê. Ernstige infeksies kan stamme en sytakke laat afbreek wat tot voortydige rypwording kan lei en wat dan die oopspring van peule veroorsaak. Dit kan ook veroorsaak dat die korrekte plantsnystadium moeilik is om te bepaal omdat daar verskille is tussen plante wat besmet is met swartstam – en dié wat hierdie siekte vrygespring het.
- Figuur 3: Kroonkanker by kanola wat tot die afsterwing van die plant kan lei.
- Figuur 4: Tipiese simptome van blaredakinfeksie. Foto’s: Steve Marcroft.
Swambeheer vir swartstamkroonkanker
Swambeheer moet toegepas word wanneer die 4- tot 6-blaarstadium bereik word. Die rede vir die vroeë bespuiting is omdat infeksie reeds vroeg kan plaasvind wat dan tot kroonkankers later in die seisoen lei.
Swambeheer van blaredakinfeksie
Indien BDI voorkom, is daar gevind dat swammiddels wat vir Sclerotinia-beheer gebruik word kan lei tot die verlaging van die infeksiedruk. Wanneer die plant sowat 30% blom, kan die toediening van Prosaro® en/of Aviator® Xpro™ teen Sclerotinia ook beskerming teen swartstam-BDI bied.
Weerstandsbestuur van chemiese groepe uit Australië vir swartstam en sclerotinia
• Groep 3 – Demetileringsinhibeerder (DMI)
•Groep 7 + 3 – Suksinaatdehidrogenase-inhibeerder (SDHI)
•Groep 11 – Kinoon- buite-inhibeerder (QOI)
• Groep 11 + 3 – Buite-inhibeerder (QOI) + DMI
Belangrike feite oor gebruik van swammiddels
•Swammiddels moet eerder voorkomend gebruik word. As die siekte reeds gevestig is, kan optimale beheer nie verwag word nie en die moontlikheid om vir weerstand te selekteer, raak groter. Sclerotinia- toedienings moet gedurende die blomperiode gedoen word. Sclerotinia-swammiddeltoedienings kan seleksiedruk op swartstam-populasies plaas.
•In hoëdruk-omgewings moet geïntegreerde bestuur toegepas word om swammiddelweerstand te verlaag. Dit behels die aanplant van kanola 500 meter weg vanaf die vorige jaar se stoppel, die gebruik van weerstandbiedende kultivars (wissel kultivars met verskillende weerstandsgene af), die gebruik van alternatiewe swammiddels uit verskillende groepe en die toepassing van stoppelbestuur.
•Die risiko om swamdoderweerstand te ontwikkel kan verlaag word deur swamdodergroepe vir swartstambestuur as mengels, gekombineerde formules of gekombineerde groepe af te wissel.
•As ’n Groep 7-saadbehandeling met blaaraktiwiteit vir swartstam gebruik word (soos op die etiket bepaal), moet die swammiddel wat aangewend word as bespuiting in die 4- tot 6-blaarstadium nie ’n Groep 7-swammiddel wees nie.
•Moenie meer as twee swammiddels per seisoen gebruik wat in Groep 7 val nie.
•Moenie meer as twee opeenvolgende toedienings van Groep 3-swam-middels toedien nie.
•Moenie meer as EEN swammiddel wat in Groep 11 val per seisoen gebruik nie.
•Indien ’n tweede sclerotiniatoe-diening gedoen moet word, moet die tweede swammiddel uit ’n ander swammiddelgroep wees.



