Categories: GewasproduksiePublished On: 31st March 2026

Swartstam in kanola: Voorkomende beheer is jou wapen tot sukses

By 4 min read
742 words

djnyanko-garden-5000582

Kanola vorm ’n belangrike deel van produsente se wisselbouprogramme en die volhoubare produksie van gewasse in die Wes-Kaap. Swartstam (Leptosphaeria maculans/Phoma lingam) is een van die siektes in kanola wat tot groot opbrengsverliese kan lei. Waar die swam die weerstand van kultivars oorkom het, kan verliese van 50% tot 90% voorkom.

LEWENSIKLUS VAN SWARTSTAM

Verskeie faktore kan bydra tot die ontwikkeling van die siekte. Die hoofbron van die primêre infeksie is kanola-residue. Die inokulum kan egter ook deur die saad oorgedra word (diagram 1). Die impak tussen seisoene as gevolg van saad is egter klein as dit vergelyk word met die inokulum van besmette stoppel van vorige jare.

TIPE INFEKSIE: BLAAR- EN KROONKANKER

Blaarinfeksie het byna geen impak op opbrengs nie, maar dit is hier waar die patogeen vanaf die letsel op die saailingblaar deur die blaarpetiool en teen die stam af na die kroon van die saailing groei om later in die seisoen kroonkanker te vorm.

Figuur 1: Swartstamletsel op die blaar.

Figuur 2: Swartstaminfeksie in die stam.

Figuur 3: Kroonkanker by kanola wat tot die afsterwing van die plant kan lei.

SWARTSTAM-BLAREDAKINFEKSIE (BDI) (BLACKLEG UPPER CANOPY INFECTION – UCI)

As spore later in die seisoen vanaf die stoppel vrygestel word, lei dit tot blaredakinfeksie. Dit is moontlik dat Swartstam alle dele van die kanolaplant kan affekteer. Blaredakinfeksie (BDI) is ’n kollektiewe term wat gebruik word om die infeksie van die blomme, stam, peule en sytakke te beskryf.

BDI het oor die laaste paar jaar in Australië toegeneem en kan geassosieer word met ’n vroeër blomperiode omdat kultivars vroeër geplant word en die gewas ’n vinniger fenologiese ontwikkeling gedurende die warmer herfs en winter ondervind. BDI is ook al in Suid-Afrika waargeneem.

Figuur 4: Tipiese simptome van blaredakinfeksie. Foto’s: Steve Marcroft

Navorsing het aangedui dat opbrengsverliese tot 30% kan wees. Die effek op opbrengs hang af van die tyd van besmetting en watter gedeelte van die plant geïnfekteer word. Blomverlies as gevolg van infeksie van die blomme of pedunkels het nie so ’n groot uitwerking op die verlaging van opbrengs nie, want die kanolaplant kan kompenseer deur meer blomme te produseer.

Wanneer die swam egter die geassosieërde sytakke infekteer, kan saadset en graanvul van die peule geaffekteer word. Infeksie van die peule of pedunkels nadat die peule gevorm het, kan groot oesverliese tot gevolg hê. Ernstige infeksies kan stamme en sytakke laat afbreek en voortydige rypwording laat plaasvind wat die oopspring van peule veroorsaak. Dit kan ook tot gevolg hê dat die korrekte plantsnystadium moeilik bepaalbaar is omdat daar verskille is tussen plante wat geaffekteer is deur Swartstam, al dan nie.

SWAMBEHEER VIR SWARTSTAM – KROONKANKER

Swambeheer moet toegepas word wanneer die 4–6-blaarstadium bereik word.

Die rede vir die vroeë bespuiting is omdat infeksie reeds vroeg kan plaasvind wat dan tot kroonkankers later in die seisoen lei.

SWAMBEHEER VAN BLAREDAKINFEKSIE

Indien BDI voorkom, is daar gevind dat swammiddels wat vir Sclerotiniabeheer gebruik word effektief is om die BDIinfeksiedruk te verlaag. Aanwending van Prosaro® en/of Aviator® Xpro™ vir Sclerotinia by ongeveer 30%-blom kan ook beskerming van BDI-swartstaminfeksie bied.

WEERSTANDSBESTUUR VAN CHEMIESE GROEPE UIT AUSTRALIË VIR SWARTSTAM EN SCLEROTINIA

/// Groep 3 – Demetileen Inhibeerder (DMI)

/// Groep 7 + 3 – Suksinaat Dehidrogenase Inhibeerder (SDHI) + Demetileen Inhibeerder (DMI)

/// Groep 11 – Quinone buite-inhibeerder (QOI)

/// Groep 11 + 3 Quinone buite-inhibeerder (QOI) + DMI

– Swammiddels moet eerder voorkomend gebruik word. As die siekte reeds gevestig is, kan optimale beheer nie verwag word nie en die moontlikheid om vir weerstand te selekteer raak groter. Sclerotinia-toedienings moet gedurende die blomperiode gedoen word. Sclerotinia-swammiddeltoedienings kan seleksiedruk op swartstampopulasies plaas.

– In hoëdruk-omgewings moet geïntegreerde bestuur toegepas word om swammiddelweerstand te verlaag. Dit behels die aanplant van kanola 500 meter vanaf die vorige jaar se stoppel, die gebruik van weerstandbiedende kultivars (wissel kultivars met verskillende weerstandsgene af), die gebruik van alternatiewe swammiddels uit verskillende groepe en die toepassing van stoppelbestuur.

– Die risiko om swamdoderweerstand te ontwikkel kan verlaag word deur swamdodergroepe vir swartstambestuur as mengels, ko-formulasies of -groepe af te wissel.

– As ’n Groep 7-saadbehandeling met blaaraktiwiteit vir Swartstam gebruik word (soos op die etiket bepaal), moet die swammiddel wat gebruik word as bespuiting tussen 4–6-blaarstadium nie ’n Groep 7-swammiddel wees nie.

– Moenie meer as twee swammiddels per seisoen gebruik wat in Groep 7 val nie.

– Moenie meer as twee opeenvolgende toedienings van Groep 3-swammiddels toedien nie.

– Moenie meer as EEN swammiddel wat in Groep 11 val per seisoen gebruik nie.

– Indien ’n tweede Sclerotinia-toediening gedoen moet word, moet die tweede swammiddel uit ’n ander swammiddelgroep wees.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0