Suksesvolle boeredag vir groenteboere

IMG_5464reg
Die Department van Landbou het op Donderdag, 9 Maart 2023 ‘n suksesvolle boeredag vir Groenteboere in Bredasdorp aangebied. Die boeredag is bygewoon deur sowat 60 kleinboere en voornemende boere.
Dr. Ian Godie van Nooitgedacht Vars Produkte het gesels oor die ontstaan, groei en huidige stand van sake van die Hidroponiese plaas by Bredasdorp Park. Die projek is in September 2019 as ‘n demonstrasie-projek vir NAMPO Kaap begin. Die eerste direkte lewering van produkte in die plaaslike markte het November 2021 ‘n aanvang geneem.
Die plaas beslaan vandag sowat ‘n halwe hektaar, waarvan net minder as die helfte beskutte plant-area is. Tussen 500 en 1000 kg produk word maandeliks geproduseer, en bestaan hoofsaaklik uit kersie-tamaties, slaaie, kruie en spinasie. Dr. Goldie het die realiteite teen die geleenthede af gespeel om voornemende boere van hulp te wees wanneer hulle soortgelyke projekte aanpak.
Byron Booysen van Booysen Tunnel Farming in Kraaifontein het sy ondervinding met tonnelboerdery gedeel, asook die impak wat dit op sy gemeenskap gehad het. Hierdie onderneming het sedert 2015 gegroei tot 7 tonnels. Hy gebruik beide hidroponika en tradisionele grond verbouingsmetodes gebruik om heel jaar kwaliteit vars produkte te lewer.
Hardie Brink van RealIPM het die boere toegelig oor geïntegreerde plaag- en pesbeheer, en het die verskillende metodes met mekaar vergelyk.
Prof Gideon Wolfaard van die Stellenbosch Universiteit het ‘n oorsig gegee van nuwe eie ontwikkelde moniteringstoerusting wat van nut kan wees in grondlose boerdery Debbie Theunissen van Bovenvlei het haar ervarings as ‘n suksesvolle vroulike boer uiteengesit, en redes aangevoer hoekom dit haalbaar was. Haar onderneming wat in 2010 begin het, het gegroei tot een van die grootste granaat produserende please in Suid Afrika.
Die dag is afgesluit met ‘n besoek aan die Nooitgedacht tonnels op Bredasdorp Park. Hier kon die boere die praktiese werking van ‘n hidroponiese boerdery van nader beskou.
Dr. Ian Goldie het hulle gewys op die verskillende materiale wat gebruik is om die hidroponiese stelsels te bou en verduidelik watter aanpassings gemaak moes word om die uitdagings wat beurtkrag meegebring het die hoof te bied.