Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 18th June 2018

Suidwes Landbou skitter by NAMPO!

By 4 min read
823 words
suidwes

suidwes 1

Een van die indrukwekkendste ma-sjiene wat hierdie jaar by NAMPO vertoon is, weeg maar 8,5 kg en pas agter jou bakkie se sitplek in, maar daar is sekerlik nie ‛n boer in die land wat nee-dankie sal sê vir die handige Multiplaz 3500 plasmasweis- en -snymasjien nie!

Jy kan al jou duur gasbottels, sweisstawe, soldeersel, spesiale gesigmaskers en verskillende masjiene vir verskillende take, asook massiewe kragrekenings, aan jou knaendste buurman skenk en die res van jou lewe nooit weer sukkel met enige staalwerk nie.

suidwes

Gert Blom, invoerder van Multiplaz, met die rewolusionêre Multiplaz 3500 voor ’n banier wat uitspel waarvoor Suidwes Landbou staan.

Ruimtetegnologie in ‛n boks

Gert Blom, invoerder van die Multiplaz sê die tegnologie is deur die Russe ontwikkel om sweiswerk in die ruimte te kan doen. Die Amerikaners het die tegnologie verfyn en vir gewone mense verpak.

Die Multiplaz 3500 is ‛n groen produk wat geen gifgasse vrystel nie. Water word verdeel in suurstof en waterstof. Die suurstof word vrygelaat, wat beteken jy kan in klein ruimtes werk sonder suurstofgebrek. Die waterstof is hoogs vlambaar en word omgeskakel in ‛n plasma met ‛n hittestraal van tot 8 000˚C. Deur bloot die intensiteit van die masjien te stel, kan enige iets van 0,4 mm dun tot 5 cm of twee duim dik gesweis word.

Jy kan dus letterlik van ‛n koeldrankblikkie se wand tot jou trekker se onderstel, of jou koolstoof se gietysterblad herstel as jy wil.

Dit werk vir ysterhoudende en nie-ysterhoudende metale. Jy kan koper aan staal vassweis of aluminium aan vlekvry staal en as daar ‛n gaping is tussen die twee stukke metaal wat aan mekaar moet vaskom, kan jy sommer ‛n stuk bloudraad insmelt.

Hier is wat jy alles met die Multiplaz kan doen: wolframtraegassweiswerk (TIG of tungsten inert gas); metaaltraegassweiswerk (MIG of metal inert gas), plasmaboogsweis (plasma arc welding), silwersoldeerwerk en sweissoldeerwerk (brazing).

Die masjien gebruik maksimum 3,5 kW krag en net 12 ampère om die dikste staal te sweis. Dit beteken jy het nie driefase krag nodig nie; jy kan selfs sonkrag gebruik, of ‛n kragopwekker of twee trekkerbatterye as jy ‛n 24 voltomskakelaar het.

Met die masjien en batterye agter op jou bakkie, kan jy ook nog met ‛n verlengde kabel 20 meter ver onder die planter induik sonder om spanning te verloor. Hy werk tussen 100 volt en 254 volt en die masjien is slim genoeg om homself aan te pas by die voltlewering. En jy kan onderstebo werk.

Die Multiplaz in aksie:

Hy sny ook

Saam met die Multiplaz 3500 kry jy twee handtoestelle. Die een wat met rooi gemerk is, is vir sweis en die een wat met groen gemerk is, is vir plasmasnywerk. So, jy kan ook maar jou suurstof- en aseteleenbottels wat jy vir jou ou snyer nodig gehad het wegsit; gooi net 60 ml water agter in die handtoestel.

Die water hoef ook nie spesiaal of gedistilleer te wees nie, sê Gert. “Gebruik sommer damwater of boorgatwater of bottelwater as jy dit in die bakkie het. Die masjien is gebou vir Afrika.”

Hy sê die operasionele koste is ongeveer R3,90 per uur vir sweis, en snywerk kos maar 90 sent per uur. Die Multiplaz gaan homself dus sommer gou betaal.

Suidwes Landbou het die alleenreg bekom om die Multiplaz 3500 vir landboudoeleindes in Afrika te versprei en hulle bied ‛n geldterugwaarborg aan, asook ‛n 48-uur diensruilooreenkoms.

Gert sê: “As die masjien nie doen wat ons sê hy kan doen nie, dan bring jy hom terug en ons gee jou geld terug. Hy moet darem net nog lyk soos wat hy gelyk het. As hy sou breek, sorg ons dat jy binne 48 uur ‛n werkende masjien het om mee voort te werk, want ons weet as hy gaan staan is dit so goed soos vyf of ses ander masjiene wat gelyk gaan staan.”

suidwes

Suidwes Landbou se uitstalling was voorwaar ’n miernes van bedrywighede
sonder ‛n enkele stil oomblik!

Suidwes Landbou kook by NAMPO

Die sweismasjien was net een van die aantreklikhede wat mense na Suidwes Landbou se uitstalling laat stroom het. Deon Badenhorst, korporatiewe bemarkingsbestuurder, sê hulle het vanjaar vir die eerste keer hulle eie gebou en terrein gehad en al hulle afdelings kon uitstal.

Alles is ingerig om soos ‛n regte koöperasiewinkel te lyk, met heerlike koffie, sitplek op die stoep en musiek. Suidwes Landbou is bedrywig in die Noordwesprovinsie en ‛n gedeelte van die Vrystaat. Onder die afdelings wat uitgestal het, was menslike hulpbronne, die Agricapital-finansieringsbeen, Suidwes Graan vir graanverhandeling, Terratek-landboukundige en plaagbeheerdienste en natuurlik die kleinhandel-afdeling met al die mooi ware en lekker speelgoed vir groot en klein.

Deon sê: “Ons was eers bekommerd omdat ons geskuif het, maar teen die tweede dag het ons al ons omset van verlede jaar verbeter.”

Kontak Willie Wiggett by 018-581 1087 of Sane Kritzinger by 018-581-1085. Kyk hier na die wye reeks dienste wat Suidwes Landbou boere bied.  

Annetjie Liebenberg van Suidwes en Ross Forsyth van ECM wys dat die ATN MARS-teleskoop waaroor ons in ProAgri 219 berig het, ook by Suidwes beskikbaar is.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0