Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 23rd May 2024

Stap die pad (sonder slaggate) met Myburgh Toerusting se nuwe padskraper

By 2 min read
434 words

DSC_0109

Dit is mos hoe ’n padskraper moet lyk! Hierdie outjie stryk tjoef-tjaf die gate uit jou pad uit.

“Ons is ’n familie-onderneming van Ermelo. Ons bou toerusting wat óns nodig het. Net die boer weet wat die boer nodig het,” sê Jannie Myburgh, direkteur van Myburgh Toerusting.

Myburgh Toerusting hou daarvan om dinge interessant te hou. Dít is hoekom hulle elke jaar met NAMPO ’n nuwe produk bekendstel. Op die metaforiese rooitapyt met NAMPO 2024, was die padskraper.

In Suid-Afrika is ’n onrybare pad ’n gegewe. Daarmee saam kom natuurlik ’n hele klomp frustrasies, vernielde bande en dalk selfs ’n kragwoordjie of twee. Die boere sal moet ingryp en hulle paaie self onderhou, en Myburgh Toerusting het vir hulle die masjien gebou.

Hierdie padskraper is die definisie van eenvoudig en sonder geite. Dit het geen hidroulika op nie om dit so maklik as moontlik vir die verbruiker te maak. “Een van die groot uitdagings wat ons met padskrapers gesien het is dat ons operateurs sukkel om dit te gebruik omdat daar so baie verstellings is. Hulle is mos nie opgelei daarvoor nie.”

Die padskraper is so ontwerp dat dit bittermin verstellings het. Dit is so maklik soos haak en ry! Aangesien die padskraper minder bewegende dele het is die slytasie em onderhoud ook minder. Die padskraper benodig ‘n 100 kw trekker. Aangesien die padskraper so kompak is pas hy op ‘n bakkie sleepwa, en word dus ook deur Myburgh Toerusting verhuur.

“Almal van ons het dieselfde probleem: ons paaie is onrybaar. Die meeste van ons kan nie ’n padskraper regverdig nie. Wat ons gedoen het is om ’n padskraper te bou wat eenvoudig en bekostigbaar is. Ons het dit reggekry om ’n goedkoper padskraper te maak, sodat al die boere dit kan bekostig om hulle eie paaie te skraap.”

Jannie Myburgh en Stefan Davel fokus daarop om te weet wat die boer regtig nodig het.

Jannie verduidelik hoe hulle dit reggekry het om hulle padskraper so goedkoop as moontlik te maak: “Ons het al die hidroulika afgehaal. So, jy sit met ’n padskraper met ’n vasgesweisde lem. Ons het twee sewe-voet lemme opgesit so jy het ’n lekker groot skraper.”

Hy verduidelik verder dat daar twee dieptebeheerwielietjies is waarmee jy die lem se helling kan stel. “Dit is so maklik om te gebruik, jou werker kan nie ’n fout maak of jou pad beskadig nie.”

Dít is hoe Myburgh Toerusting dit doen – sonder tierlantyntjies en iets wat wérk. Jannie som dit op: “Eenvoudig, duursaam. Soos al ons ander produkte ook is.”

Kontakbesonderhede

Om vir jou só ’n lekker padskraper aan te skaf, of selfs te huur, besoek die Myburgh Toerusting-webtuiste by www.mtoer.co.za, of gaan loer na hulle sosialemediaplatforms.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1