Sprinkane in Karoo is ‘n ramp
Sprinkane verwoes tamatieplantjies
Springkaanswerms wat deur die Sentraal-Karoo getrek het en alles wat voorkom opgevreet het, het ook die Klein Karoo binnegeval.
Sentraal-Karoo
“Die skade wat die sprinkane in die Sentraal-Karoo aangerig het, is eintlik die volgende ramp wat, naas die droogte, ook deur die nasionale regering verklaar behoort te word,” het Déan Gous, voorsitter van Agri Sentraal-Karoo, Woensdagoggend gesê.
“Hier is die uitbraak baie erg en die beheerbeamptes spook elke nag om darem ‘n klompie swerms onder beheer te kry. Ons ontvang daagliks hordes oproepe van groot swerms wat inkom.”
Hy sê die beheerspanne wat gif spuit, kan nie voorbly nie. “Weens die terrein doen hulle dit onder uiters moeilike omstandighede. Die meeste van hulle dra die afgelope drie maande die koste uit hulle eie sakke. Betalings vanaf die regering is eenvoudig net hopeloos weens die baie rompslomp.”
Hy sê die enigste manier hoe die grondspanne die sprinkane doeltreffend kan bestry is met die ondersteuning van lugbespuiting. “Die vraag bly egter waar die geld vandaan gaan kom.”
Die toestand van die bespuitingstoerusting is ook bedenklik. “Dit is in ‘n haglike toestand en beheerbeamptes probeer hulle bes om dit uit hulle eie fondse te laat versien. Ons hoop maar daar is iewers ’n ligpuntjie in dié donker tonnel.”
Agri Wes-Kaap het in ‘n mediaverklaring gesê die swerms in die Sentraal-Karoo kom hoofsaaklik in die omgewing van Beaufort-Wes, Prins Albert, Murraysburg, Merweville en tot ‘n mindere mate in Laingsburg voor.
“Agri Wes-Kaap kon met behulp van Agri SA se rampfonds lugondersteuning vir die Murraysburgstreek bewerkstellig. Agri Wes-Kaap is ook tans in die proses om in samewerking met die Nasionale Departement van Landbou ‘n helikopter vir die Prins Albert- en Beaufort-Wes-omgewing te reël.”
Swerms is ook in die omgewing van Aberdeen en Willowmore opgemerk.
Die grootste uitdaging is ‘n tekort aan geregistreerde sprinkaangif wat lugondersteuning onmoontlik maak.
Klein Karoo
Calitzdorp
Lohan Fourie, wat in beheer is van die poging om die sprinkaanplaag in die Calitzdorpomgewing onder beheer te bring, sê die eerste swerm was klein en hulle was nie besonder bekommerd daaroor nie. Die volgende oggend het die prentjie heeltemal verander toe miljoene sprinkane oor die gebied begin neerdaal het en die ganse Calitsdorpstreek en Gamkavallei beset het.
Dié swerms het vermoedelik deur Seweweekspoort by Zoar die Klein Karoo binnegekom.
Grondspanne het saam met Agri Wes-Kaap en die Departement van Landbou begin om die sprinkane in die nag te bespuit.
“Die sprinkane is almal vlieërs wat rondvlieg en eiers lê. Hulle is nie kruipers (voetgangers) wat op die grond sit en wat ‘n mens deur die dag kan bespuit nie.”
Net toe hulle dink die sprinkaanswerms is verby, het nog ‘n groot vlaag uit die veld die gebied binnegekom. Spuitspanne, ook een van Laingsburg, het verbete die swerms op landerye en in die veld wat op die moeilike terrein bereik kon word, gespuit.
Volgens Lohan kon die skade nog nie bepaal word nie. “Ek weet van een boer wie se jong wortelplantjies opgevreet is, en tussen drie en vier hektaar van ‘n opkomende boer se tamatieplantjies is verniel. Die sprinkane het ook wingerdblare opgevreet, maar omdat die wingerd nou begin blare verloor, was die skade nie te erg nie.”
Volgens hom kan ‘n wyfiesprinkaan tot sewentig eiers op ‘n keer lê. Die eiers bly dormant tot toestande gunstig is vir uitbroei en daar is geen manier om voorkomend op te tree nie.
Erna Torr, ‘n boer van Calitzdorp, sê: “Dis baie erg. My hele tefland en weiding is tot niet gevreet. Ek sou in hierdie week tef gesny het. Nou kos dit om hawer en lusern aan te koop.”
Lohan sê dit lyk asof die uitbreking vir nou verby is. “Op die oomblik lyk dit asof die uitbraak onder beheer is.”
De Rust
“Die swerms by Matjiesvlei het in dieselfde week die lug gevat en begin deurbreek na Oudtshoorn toe. ‘n Swerm van tussen 40 km en 50 km lank het met die Swartberge langs in die rigting van Oudtshoorn begin beweeg,” het Lohan gesê.
Omdat sprinkaanplae in die Klein Karoo ongekend is, is personeel van die departement van landbou nie opgelei om dit te beheer nie.
Laubscher Coetzee, verteenwoordiger van Agri Klein Karoo, het aan ‘n plaaslike koerant gesê die sprinkane is ‘n groot probleem in die Klein Karoo waar saadproduksie ‘n belangrike bedryf is. “Dit is nie iets waarmee ons al in ons streek te doen gehad het nie,” het hy gesê.
Cobus Neethling van J P Schoeman Boerdery het gesê die boere brand motorbande in ‘n poging om die sprinkane te laat terugkeer in die rigting van die Swartberge.
JC du Preez van Spitskop by Oudemuragie sê die sprinkane het tussen 25 en 30 ha weiding opgevreet. “Ons het nou al 7 000 liter aangemaakte gif gespuit, en dit het gelyk of ons wen. Maar hier is nou weer ‘n swerm…”
Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die Kango Boerevereniging, het gesê daar is steeds groot swerms in die Klein Karoo, veral dié wat op pad is na Spitskop in die rigting van De Rust.
“Ons het bystand en gif van Agri Klein Karoo gekry en wil vir Laubscher Coetzee dankie sê daarvoor. Ons wil ook dankie sê vir Charles Salmon van die Departement van Landbou wat ons nagte lank help om die sprinkane te bestry.”
Coetzee het ‘n versoek om geldelike hulp aan ondernemings in die streek gerig. “Ons moet hierdie plaag so spoedig moontlik beveg en om dit reg te kry is daar kostes in die vorm van gifaankope sowel as vergoeding vir spuitspanne,” lui ‘n versoek om hulp.
“Die groot probleem is omdat die Nasionale Departement van Landbou traag is met betalings aan die spuitspanne. Ons moet die probleem so spoedig moontlik aanpak om die impak daarvan te verklein, dus kan ons nie wag vir betalings deur die departement nie.”
Intussen het die Wes-Kaapse Departement van Landbou R5 miljoen beskikbaar gestel vir beskermende toerusting, spuitpompe en ondersteuning deur lugbespuiting aan spanne wat die sprinkaanswerms in die provinsie bekamp.
Enige iemand wat finansiële hulp wil en kan bied, word versoek Helen Butler by Agri Klein Karoo se kantoor in Oudtshoorn te kontak by info@agrikleinkaroo.com