Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 3rd August 2023

Sojabone 2023/24-seisoen — Noordwes “El Niño”

By 9 min read
1713 words

P71T74_3

P71T74

deur Philip Fourie, landboukundige, Pioneer

Die afgelope dekade het die westelike somersaaigebied deur ՚n gedaanteverwisseling gegaan met die verbouing van sojabone. Dié gewas wat eens as onaangepas beskou is het gegroei tot ՚n volwaardige, winsgewende gewas in die weste.

Vanwaar ՚n klein groepie boere in 2010 in ՚n skuur op Schweizer-Reneke op sojabone besluit het as ՚n alternatiewe gewas om mielie-monokultuur te breek, het aanplantings die afgelope dekade soveel uitgebrei dat selfs mieliehektare onder druk gekom het in noordweste. In die vroeë 2010’s is daar maar ՚n geraamde 10 000 tot 15 000 ha sojabone aangeplant in die Noord-Weste. Die NOK se derde verslag vir die 2022/23-seisoen skat die aangeplante aantal hektare op 155 000 met ՚n gemiddelde opbrengs van 2,5 t/ha in Noordwes.

P71T74

Seker die grootste faktor wat bygedra het tot die ongekende groot aanplantings van sojabone die afgelope twee tot drie seisoene was die hoë kunsmispryse, maar die hoë kommoditeitsprys vir die gewas was die kersie op die koek. Die afgelope twee seisoene se hoë reënval, matige temperatuur en vroeë aanplantings was ook die resep vir goeie, hoë opbrengste.

Weervooruitsigte

Volgens mnr Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, is El Niño besig om vinnig te ontwikkel. Meimaand se reën, wat veroorsaak het dat sojabone met rukke en stote klaar gestroop kon word, is presies wat El Niño veroorsaak. As die weermodelle reg voorspel word, behoort die Noordwes gedurende Augustus, September en Oktober reën te kry. El Niño sal steeds sterker ontwikkel met gepaardgaande negatiewe vooruitsigte vir reën vanaf November.

Die afgelope seisoen het groot gedeeltes gebuk gegaan onder ՚n droogte van vyf tot ses weke gedurende Desember en Januarie. As gevolg van die vroeë aanplantings in November, het soja- en mielieblomtyd reg in die middel van die droogte geval. Boere moet versigtig optimisties wees oor die moontlikheid van reën vir die volgende seisoen en veral in Noordwesgebied. Die vooruitsigte vir ՚n tipiese sterk midsomerdroogte is groot, inaggenome dat grondvogvlakke aan die begin van die komende seisoen, as ons nie die voorspelde reën gaan kry nie, op plekke laer sal wees as die afgelope 2022/23-seisoen.

Kan ek sojabone plant, gemeet aan die weerverwagtings?

In die veld is daar verdeelde gevoelens ten opsigte van sojabone vir die seisoen wat voorlê. ՚n Mens kan dit vergelyk met die afgelope seisoen waar produsente nie wou sonneblom aanplant nie, of hektare verminder het as gevolg van die vorige seisoen se sclerotiniaprobleme. Die uiteinde; ՚n sclerotiniavrye oes in die silo. Ek kan verstaan dat toetreders van die afgelope drie tot vier jaar baie vrae het oor wat die gewas in die droogte gaan doen. Dit is interessant dat die ouer sojaprodusent se beplanning steeds sojabone gaan insluit, dalk ՚n paar hektaar minder, maar hy weet watter grond en watter land. Die uitdaging vanjaar is om die nuwe toetreders van die afgelope drie jaar positief te laat dink oor die komende seisoen se uitdagings en aanplanting.

Kultivarkeuse

Paar vereistes as dit kom by sojaaanplantings:

  • Fosfaat
  • Saadbehandeling en soja-entstof

Hierdie punte moet in gedagte gehou word as daar beplan word vir ՚n warm, droë seisoen wat voorlê.

Agronomiese voordele van wisselbou met sojabone en mielies in Noordwes

Verskeie plaaslike en internasionaal nagevorste en opgetekende studies se data bestaan oor die agronomiese voordele wat sojabone inhou in wisselbou met mielies. Dit sluit in verhoging van grondvrugbaarheid, afname in grondgedraagde siektes en verhoging van daaropvolgende mielieopbrengste.

P64T39R

Tradisioneel verbou die westelike boere mielies-op-mielies, of mieliesafgewissel met sonneblom. Sojawisselbou word wêreldwyd aanvaar as ՚n volhoubare manier om grondvoedingstatus te verbeter, veral omdat dit die vermoë besit om atmosferiese stikstof in die grond te bind (Franke et al. 2018; Uzoh et al. 2019; Khojely et al. 2018). Sojareste is ryk aan stikstof en kalium. Dit word gewoonlik aangewend as dierevoeding, maar dit kan tot voordeel van die grond ingewerk word om die grond organies te bemes (Kermah et al. 2018).

Dit is algemeen bekend dat gewasrotasie met sojabone, wat volg op ՚n langtermyngeskiedenis van mielie- en sonneblomrotasie, die siektekringloop van verskeie grondgedraagde siektes versteur en verhinder in daaropvolgende gewasse. Die produsent kan diversifiseer tussen gewasse en stelsels ontwikkel wat weerstand bied teen siektefaktore (FAO, 2019).

Ongelukkig is die agronomiese voordele en volhoubaarheid van so ՚n sojawisselboustelsel nie maklik meetbaar nie en moet dit oor die langtermyn en oor seisoene gemeet word. Die maklikste manier om jou te vergewis dat jy op die regte pad is, is die baan waar mielies-op-mielies en mielies-opsojabone verbou word in dieselfde land – “SIEN IS GLO”.

Sojaboonwaterverbruik kernpunte:

Die totale seisoenale waterbehoefte van sojabone wissel tussen 500 mm en 660 mm (Krantz & Specht, 2012). Meer as 60% van die behoefte is kritiek nodig gedurende R1- tot R6-groeistadium.

Die grootste gedeelte van wateropname by sojabone vind plaas binne die boonste 60 tot 90 cm van die grondprofiel.

Voldoende water is nodig tydens die mees kritieke stadium van peulvul (R3 tot R6). ՚n Sojaplant beskerm hom teen waterstremming deur die boonste blare onderstebo te draai. Dit stel die onderkant van die blaar bloot aan sonlig wat hittestraling terugkaats. Dit koel die plant af, wat dan fotosintese laat afneem en die behoefte aan water neem dienooreenkomstig af.

P64T39R

Sojaboonworteldiepte en -wateropname

՚n Goed ontwikkelde wortelstelsel is kritiek vir groei en ontwikkeling. Ligte tot gematigde vogstremming gedurende die vegetatiewe ontwikkelingstadium het min tot geen uitwerking op opbrengs nie. Voldoende water gedurende die vegetatiewe groeistadiums lei tot uitermatige vegetatiewe groei met min verhoging in opbrengs.

Volgens die LNR is die wateromsettingsvermoë tussen 4 kg en 7 kg graan per hektaar per millimeter water, afhangende van die genetiese potensiaal van die aangeplante variëteit. As die beskikbare vog dus 500 ml/ha is en met ՚n omsetting van 5,5 kg/millimeter water realiseer, behoort jy 2 750 kg/ha (2,75 t/ha) te behaal.

Gegewe die weervoorspelling van moontlike reënbuie gedurende Augustus tot Oktober 2023, behoort aanplantings vroeg en op goeie grondvogprofiele te geskied. Indien sojabone vanaf 15 tot 30 November geplant word, beteken dit dat die plante gedurende middel-Januarie sal blom — reg in die middel van die normale midsomerdroogte.

Daar is nie groot verskille tussen mielies en sojabone in waterverbuik oor die seisoen nie. Die groot verskil lê daarin dat sojabone baie vinniger klaarmaak in waterbehoefte as mielies. Mielies het ՚n geleidelike afname in waterbehoefte, terwyl sojabone se waterbehoefte aan die einde van hulle lewensiklus skerp daal. As sojabone in R3- tot R6-stadium van hulle lewensiklus is, sal jy in die veld sien hoe vinnig en aggressief hulle water onttrek.

Kultivarkeuse

Die komende seisoen gaan daar duidelike opbrengsverskille wees tussen grondtipes, veral as dit kom by die rooi, goedgedreineerde gronde sonder ՚n keerlaag (nie-watertafels). Hoe droër die seisoen, hoe groter die verskille en die prestasie van sommige basters.

P71T74R is juis ՚n baster wat hou van droogtes, stywer gronde en hitte. P64T39R gaan beter vaar op die sandgrond, oorlê- en watertafellande.

Vanjaar het jy ook meer groenstam gekry op sommige basters. Solank daar vog teenwoordig is en die baster is onbepaald, sal die sojaplant steeds nuwe groei aanlê. As dit sou reën in die najaar sal dieselfde simptome geld, maar ons vermoed met minder vog en warmer toestande sal die gewas meer egalig afdroog en stroop vergemaklik. Sommige gewasse is meer vatbaar vir strobulienswamdoders as ander, met ander woorde, die plant sal meer groenstam tot gevolg hê met dié tipe swamdoders. Gebruik die nuutste sojaboonkultivaraanbevelings vir 2022/2023 om jou keuse op ՚n stabiele baster te vergemaklik.

Fosfaatbemesting

Daar is verskeie persone wat sal verskil, maar vir my is dit ononderhandelbaar om tydens plant fosfaat in die voor toe te dien. Fosfaat is die energiebron vir sojabone sowel as mielies. Ek het altyd positiewe ervarings gehad met fosfaat, veral in vogstremmende jare in vergelyking met goeie reënvalseisoene. Dit sal beter wees om fosfaat te bandplaas as om dit te strooi. Bemesting van tussen 10P en 15P word aanbeveel.

Maxifos 18 kan toegedien word teen83 kg/ha vir 15P in laefosfaatgronde of 56 kg/ha 10P in goeie fosfaatstatusgronde. Omnia se 4:9:18(35) is ՚n duur, maar ՚n uitstekende mengsel vir sojabone, veral as dit nog vooraf in die winter ’geplant’ word. Die kalium in die produk is wat die prys opjaag, maar chemiese ontledings toon ՚n afname in kaliuminhoud in die ondergrond.

Ons vergeet dat die verwydering van kalium deur sojabone ՚n direkte invloed het op mielie-opbrengste.

Tabel 1. FERTASA. Bemestingshandleiding, bl 156.

Entstof en saadbehandelde swamdoders

Droër toestande het hoër grondoppervlaktemperature tot gevolg. Indien laat in die seisoen geplant word, is die grond gewoonlik droër en warmer. Rhizoctonia saailingverwelk floreer in hierdie toestande, Sorg dus dat jou saad behandel word met “Apron plus Beans”; dit is ՚n moet. Weens die koeler, vogtige toestande die afgelope paar seisoene kon min met die oog waargeneem word en was rhizoctonia nie ՚n groot probleem nie.

Dit word afgeraai dat Apron plus Beans en die rhizobium-entstof saam in ՚n mengsel aangemaak en dan op die saad gesit word. Die etiket waarsku daarteen. Probeer die saad eers met Apron plus Beans behandel, en die dag met plant sit jy entstof op die saad en in die voor. Dis die enkel grootste vereiste as dit kom by sojaboonverbouing, dit help nie om hier geld te probeer bespaar nie.

Begrotings

Teen ՚n Safex-sojaboonprys van R7 808/t in Mei 2024 moet jy 1,5 t/ha stroop. Die kostes sluit duur kunsmis, duur aalwurmmiddel en oesversekering op 1,5 t-mikpunt in. As die mieliemikpunt 5 t/ha is met ՚n Julie 2024-prys van R4 050 /t, is daar min verskil tussen die twee gewasse in winsgewendheid. Let daarop dat ՚n deeglike begroting deel van die sukses is vir sojaverbouiing.

Samevatting

Die totale vogbehoefte van mielies en sojabone verskil min. Soos verduidelik, lê die groot verskil in die vinnige afplat aan behoefte vir water wat soja aan die einde van die groeiseisoen het in vergelyking met mielies. Onder huidige insette en kommoditeitspryse is daar min verskil tussen mielies en sojabone se winsgewendheid. Sonneblom teen ‘n opbrengs van 1,7 t/ha maak tans meer wins.

Die agronomiese voordele van sojabone in wisselbou met mielies is die rede hoekom daar nie minder sojabone aangeplant moet word nie. Dit is ‘n langtermynbelegging met hoë winste in grondvrugbaarheid en mielie-opbrengste.

Bronnelys

Senwes Safex

Graan SA gewasbegrotings

Kranz, W.L., and J.E. Specht. 2012. Irrigating Soybean. NebGuide G1367. University of Nebraska-Lincoln Extension.

Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com of www.pioneer.com/za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0