Categories: NuusPublished On: 12th May 2025

Sjina skort invoer van SA rooivleis op

By 3 min read
620 words

steaks-2588760_1920

Die Rooivleisbedryfdienste (RMIS) het oor die naweek kommer uitgespreek oor Sjina se besluit om rooivleis en verwante produkte vanuit Suid-Afrika tydelik te verbied.

Die besluit word toegeskryf aan die voortslepende voorkoms van bek-en-klouseer in Kwazulu-Natal, asook ‘n nuwe uitbreking in Mpumalanga en Gauteng die afgelope twee weke.

Volgens dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is die besluit Vrydag tydens ‘n vergadering met die nasionale Departement van Landbou bekend gemaak.

Volgens Maré is die inligting oor die besluit maar skraps en die bedryf sal moet wag en sien hoe die situasie verder ontwikkel. Volgens die inligting word alle vleis afkomstig van diere met gesplete hoewe tydelik opgeskort en die verbod is onmiddellik van krag.

Maré het die hoop uitgespreek dat Sjina se opskorting van invoere nie die breër rooivleis-waardeketting in die land sal beïnvloed nie. Hy meen wel dat Suid-Afrikaanse slagpale wat direk aan Sjina verslag doen, waarskynlik erger geraak kan word. Die moontlikheid bestaan dat besendings rooivleis wat reeds  na Sjina onderweg is, dalk sal moet terugdraai.”

RMIS

Volgens RMIS het Sjina, die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse rooivleis, die afgelope jaar 45 782 ton rooivleis ter waarde van R2,9 miljard vanuit Suid-Afrika ingevoer.

Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van RMIS, beklemtoon Sjina se besluit om die invoer van rooivleis op te skort opnuut die verwoestende uitwerking van bek-en-klouseer en die gevolge wat dit vir die rooivleisbedryf inhou.

Dewald meen die rimpeleffek van die verbod het verreikende gevolge en raak nie net die voortbestaan van produsente, slagpale, uitvoerders en talle ander in die waardeketting nie, maar kompliseer ook biosekerheid en vererger ekonomiese onsekerheid.

“Die verbod maak ons opnuut bewus van die kwesbaarheid van ons uitvoere in die lig van biosekerheidsrisiko’s. Ons respekteer Sjina se biosekerheidsprotokol, maar die ekonomiese uitwerking op Suid-Afrikaanse boere en die ganse rooivleis-waardeketting is ernstig en ontmoedigend.”

Die terugslag is veral pynlik in die lig van die Memorandum van Verstandhouding wat verlede jaar September deur Suid-Afrika  en Sjina onderteken is met die oog op beter bilaterale handel, veral in die lig van die voorkoming en beheer van bek-en-klouseer in provinsies wat vry van die siekte.

“Ons het gehoop die memorandum sal die weg baan vir ‘n meer genuanseerde reaksie op BKS-uitbrekings sodat BKS-vrye provinsies kan voortgaan met uitvoere. Die opskorting beklemtoon hoe moeilik dit is om ooreenkomste toe te pas tydens ‘n krisistyd.”

Volgens Dewald moes die ooreenkoms juis vertroue in Suid-Afrika se dieresiekte-beheermaatreëls skep om die risiko  van opskorting van handelsooreenkomste in die geval van ‘n uitbreking te verminder. Die huidige toedrag van sake beklemtoon die behoefte aan praktiese toepassing van regionalisering en beter siektebeheerstelsels.

Dewald is vol lof vir die Departement van Landbou se vinnige reaksie met betrekking tot biosekerheidsmaatreëls om die siekte aan bande te lê, en veral die noue samewerking met RMIS.

“Ons stel die gesprek met adjunkdirekteur-generaal  Dipepeneneng Serage en sy span op prys want dit verseker ‘n gesamentlike respons en dat die  bedryf gehoor en in ag geneem word met betrekking tot beleid en krisisbestuur.”

Dewald meen dit is tyd vir vernuwende, innoverende en plooibare benaderings wat verseker dat siektebeheer en ekonomiese volhoubaarheid in balans is.

Volgens hom is RMIS is ‘n voorstander van verskerpte naspeurbaarhaad – en biosekerheidsprotokolle om handelsvennote gerus te stel. Dit sluit in die praktiese toepassing van streeksgerigtheid wat uitvoere uit onbesmette sones kan laat voortgaan en openbare-privaat vennootskappe wat waarneming en vinnige reaksie versterk.

“Ons het oplossings nodig wat ons eie bedryf en ons handelsvennote beskerm. Dit is nodig om vars te dink en nie net uitbrekings te bestuur nie, maar om almal in die rooivleisbedryf-waardeketting se voortbestaan en toekomstige uitvoere te beskerm.”

Kontakbesonderhede

Kontak Sara-Lea van Eeden by sara-lea@s-ellepr.com vir meer inligting of besoek www.rmis.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0