Categories: Artikels, Grond, NuusPublished On: 3rd February 2026

SGS Nvirocrop bemagtig boere met die regte data, kennis en raad

By 6 min read
1232 words

SGS Nvirocrop-bakkies en -bore in ’n Wes Kaapse boer se lande.

Lank vergete is die dae waar boere saad in die grond sit, water gooi en hoop dat hul oes mooi sal uitdraai. Die gebede is nog daar, die handewerk is nog daar, maar deesdae doen ons dit net ’n bietjie slimmer.

In die afgelope paar jaar het die woord presisieboerdery meer traksie begin kry, en selfs opkomende en kleinskaalboere begin hulle nou tot presisietegnologie wend. Hierdie tegnologie kom in verskeie vorme, van implemente tot satelliet- en GPS-stelsels. Presisieboerdery gaan daaroor om presies te weet wat in jou grond aangaan, sodat jou insette vir jou grond kan werk om die beste opbrengs te verseker.

Dit is juis hier by jou grond waar ’n maatskappy soos SGS Nvirocrop jou kan inspireer en vir jou ’n hele nuwe wêreld van boerdery oopmaak.

Wie en wat is SGS Nvirocrop?

SGS is ’n onafhanklike landboukundige diensmaatskappy wat boere help om meer winsgewend te wees deur hul opbrengste en kwaliteit te verhoog. Hul kernbesigheid is om inligting in te samel op jou plaas en dit so te verwerk dat hulle vir jou raad kan gee oor hoe om jou hulpbronne te bestuur en die meeste daarvan te maak.

Net omdat al jou grond langs mekaar lê, beteken dit nie altyd dat al jou grond dieselfde komposisie, voedingstowwe of stand het nie.

“Ons kernbesigheid is dan nou grondklassifikasie, chemiese grid-werk, NDVI-beelde of satellietbeelde en plantontleding,” vertel SGS Nvirocrop se landboukundige in die Wes-Kaap, PD Koegelenberg.

Die kombinasie van al hierdie monsters stel dan ’n groter prentjie saam waar ’n boer kan leer presies hoe die grond op sy plaas lyk en werk.

“SGS werk ook met alle tipes gewasse, hetsy dit nou mielies, soja of sonneblom in die noorde is, of koring, kanola, wingerde, boorde, appels, pere, bloubessies, dadels of tafeldruiwe in die weste. Dit wat in die grond staan, en dit waarmee geboer word, help ons om meer winsgewend te bestuur en die optimale resultate van die grond te verkry.”

Wayne du Plessis van SGS Nvirocrop boor vir ’n grondmonster op ’n plaas in die Wes Kaap.

Grondklassifikasie

PD verduidelik dat hulle tydens grondklassifikasie die fisieke eienskappe van die profiele op jou lande uitlê. Hierdie eienskappe is dit wat jou plantwortels gaan ervaar en waarin jou plant staan.

“Die fisieke eienskappe van jou grond bepaal tussen 60% en 70% van jou plant se potensiaal. Daarom is dit baie belangrik dat jy weet wat onder die grond aangaan,” sê PD.

Hierdie klassifikasie kan op verskeie maniere gedoen word. PD verduidelik dit is duur en tydrowend om met ’n laaigraaf in te gaan en jou grond op te grou sodat die grondkundige agter die laaigraaf kan aanloop en toetse doen.

SGS Nvirocrop het spesiale bore wat hulle gebruik om onversteurde grondmonsters uit die grond te haal. Die buise met grondmonsters word dan op ’n sentrale plek geklassifiseer deur ’n grondkundige. Die proses laat hulle ook toe om monsters op verskillende plekke in jou lande te neem sonder om jou lande te versteur, dus kan hulle ’n volledige prentjie kry van die tipe grond wat op elke deel van jou lande beskikbaar is.

“Dit is in hierdie geval krities dat die grondkundige insig en ondervinding van die spesifieke area het sodat daar nie foute gemaak word nie. Die inligting wat ons uit daardie buise insamel is ongelooflik waardevol. Jy kan sien waar ’n verdigtingslaag is, hoe diep die grond is, hoe diep die wortels penetreer en wat die tekstuur en struktuur van die grond is,” vertel PD.

Dit help hulle om te bepaal wat die boer moet doen om die meeste van daardie grondprofiele te benut.

“Kan hy byvoorbeeld die grond dieper bewerk met sy skeurploeg om die gronde dieper te maak en meer water vas te hou, of moet hy dreineer in sekere areas waar die gronde dalk versuip? Natuurlik is daar ook plekke waar ons laer potensiaalgrond kan uitwys waar verdere ontwikkeling ’n mors van tyd sal wees.”

Hierdie tipe klassifikasie word gewoonlik op droëlande gedoen, maar kan ook handig te pas kom in areas waar permanente gewasse gevestig moet word.

’n Grondmonster van ’n plaas in die Wes Kaap.

Chemiese eienskappe van jou grond

Die chemiese eienskappe van die grond is dit wat jy nie met die oog kan sien nie, die pH, kalsium, magnesium, kalium, natrium, fosfaat en spoorelemente, onder meer.

“Dit is die kos wat die plant se wortel in die hande kan kry nadat hy die beste moontlike omgewing gekry het om in te groei. Selfs die verskillende fisieke grondeienskappe het ook variasies. Indien ons op hierdie land een monster sou neem om ’n gemiddeld te kry, sou ons net ’n uiters gemiddelde resultaat kry. Wanneer ons 50 of 25 of 10 op die minste monsters neem, dan haal ons ten minste 10 variasies uit.”

So kan SGS Nvirocrop presies vir boere vertel waar om byvoorbeeld kalk toe te dien. Daar kan byvoorbeeld dele wees wat drie ton kalk kry en ander wat geen kalk kry nie. Dieselfde geld vir ander chemiese stowwe.

“So spaar die boer weer, maar ons weet ook jy spaar nie sommer jouself ryk nie. Deur die regte goed te doen en genoeg van ’n sekere regstelling op ’n plek toe te dien of glad nie toe te dien nie, spaar die boer, maar hy maak juis geld omdat hy regstellings aan sy grond maak waar dit nodig is.”

’n Omvattende prentjie

Dan verskaf SGS Nvirocrop ook genormaliseerdeverskil-plantegroei-indeks (NDVI)-beelde. Dit is satellietbeelde en, in meer intensiewe gevalle, hommeltuigbeelde, om te wys waar jou plante die beste groei en fotosinteer, asook waar hulle swaarkry.

“Dit gee vir ons ’n baie goeie idee watter sones op jou lande ons moet besoek om te sien wat daar aangaan. Wanneer ons dan daardie sones besoek, vat ons blaarmonsters in die goeie gedeeltes van jou lande, asook die swakker gedeeltes. Dit help ons om vas te stel of daar ’n voedingsprobleem is.”

Indien dit nie ’n blaarprobleem is nie, kan dit dan byvoorbeeld ’n dreinerings- of aalwurmprobleem wees. Die samestelling van al hierdie monsters help die SGS Nvirocrop-span om by die probleem uit te kom.

Hoewel al die inligting wat versamel is in ’n hardebandkopie aan die boer verskaf word, weet SGS Nvirocrop dat die wêreld al meer digitaal raak. Daarom het SGS Nvirocrop hul SGS Precision Gateway bekend gestel. Die app verskaf ’n platform waarop boere al die ingesamelde inligting op een plek kan sien.

Dus kan jy die verskillende kaarte met hierdie app alles op mekaar pas, en met  jou foon se GPS kan jy vinnig die app oopmaak en al die inligting vir daardie spesifieke gedeelte van jou land op een plek sien.

SGS Nvirocrop se landboukundige in die Wes-Kaap, PD Koegelenberg, gesels oor hul maatskappy se dienste.

SGS Nvirocrop: Hier om te help

SGS Nvirocrop is ’n onafhanklike maatskappy, en hoewel die woord onafhanklik maklik in die veld rondgegooi word, verskaf SGS Nvirocrop slegs diens en raad. Dit beteken hulle is nie gekoppel aan enige insetverskaffers nie, en die boer kies self sy  insetverskaffer.

Die maatskappy word verteenwoordig regoor Suid-Afrika, sowel as groot dele van Afrika en dan ook die res van die wêreld. SGS Nvirocrop het meer as 90 000 werknemers, so wanneer jy die regte inligting benodig, kan SGS Nvirocrop jou help.

Besoek gerus hul webtuiste by www.sgs.com om meer oor hulle te leer of om met die span in verbinding te tree.

SGS Nvirocrop is onafhanklike diensverskaffers.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0