Scania se nuwe reeks trokke – Hier kom ’n ding!

scania 1
Die Nuwe Generasie Scania-trokke het vir ’n paar voltreffers op hulle plattelandse skourit gesorg
Vier blinknuwe Scania-trokke, 2 256 spogrykilometer, een geesdriftige Scania-span en plattelandse gasvryheid was die suksesresep vir die New Generation Scania-skourit vanuit die Bloemfontein-streekkantoor.
“Ons weet boere is in hulle besige stroopseisoen, hulle bly ver en kon nie maklik die groot bekendstelling van die nuwe reeks Scanias in Johannesburg bywoon nie, toe vat ons maar die lorries na hulle toe,” vertel Morné Botha, hoofbestuurder, Sentraal- en Vrystaatstreek. Die roete het tussen die aartappelplase van Christiana deur tot in Upington se veewêreld en toe al die pad Port Elizabeth toe geloop.
“Dit was ook ons manier om ’n bietjie terug te ploeg in die gemeenskappe wat ons ondersteun, met funksies by plaaslike gholfklubs en gastehuise. Dit was heerlik om saam met ons kliënte te kuier in ’n omgewing waar hulle gemaklik is, amper soos kerkbasaar,” sê Morné.
Die vier Nuwe Generasie langafstandtrokke wat die sterre van die skourit was, is die R460, R560, G460 en G460XT. XT staan vir “eXtra Tough” en boere het die ekstra versekering wat die hoër grondvryhoogte en staalstamper bied, baie waardeer. Om van die plaas tot op die naaste nasionale pad te vorder is nie sonder uitdagings nie en Scania het met dié model bewys dat hulle voorwaar die toekenning as Internasionale Trok van die Jaar verdien het – nie net op Europa se hoofweë nie, maar ook in Afrika!
Morné sê die vaartbelynde voorkoms van die nuwe kajuite het eerste die kliënte se aandag getrek. Scania het reeds ’n bekende profiel gehad, maar nou is die wentrokke nog meer uitkenbaar, sê hy.
Daar is ’n reeks kajuite in die verskillende modelle beskikbaar, afhangend van die gebruiker se behoefte. Morné sê as jy net tussen die plaas en die silo ry, het jy nie ’n slaapkajuit nodig nie, maar as jy van die silo af Durban toe moet ry, sal die nuwe breër slaapbank ’n groot verskil maak.
Hy sê vlooteienaars en vervoermaatskappye verstaan die waarde van gerieflike kajuite vir hulle vragmotorbestuurders. ’n Bestuurder wat goed uitrus wanneer hy slaap, gerieflik sit wanneer hy bestuur, genoeg pakplek het vir sy persoonlike goed en die kontroles en instrumentasie gebruikersvriendelik vind, is ook ’n gelukkige bestuurder. Dit verminder uiteindelik die totale risiko van ’n vragmotor op die pad.

Die Nuwe Generasie Scanias het dit alles en nog meer!
Die ander groot pluspunt waaroor mense by die skouritgeleenthede baie uitgevra het, is brandstofbesparing.
Morné sê mense was verstom dat Scania dit kon regkry om nog meer brandstofbesparende eienskappe in te bou. “Scania was alreeds bekend as die mees ekonomiese trok op die langpad, en nou kan maatskappye hulle brandstofrekening nog verder besnoei.”
Hy sê brandstofverbruik hang baie af van die paaie wat gery word en van die bestuurder, maar Scania kan ook help met die opleiding van bestuurders om so ekonomies as moontlik te ry.
Nog ’n pluspunt wat baie positiewe kommentaar uitgelok het is die elektroniese kommunikasievermoë. Elke vragmotor se inligting word na ’n sentrale databasis gestuur waar daar tred gehou word met die lewensduur van komponente en die algemene gesondheidsprofiel van die vragmotor.
“Ons kan byvoorbeeld ’n kliënt bel en sê sy vragmotor gaan binnekort ’n nuwe dieselfilter benodig en daar is ’n filter gereed by sy volgende diensstasie waar hy net hoef in te trek en dan kan hy 20 minute later weer op die pad wees,” sê Morné.
Morné sê ondanks ekonomiese druk in die landbousektor en pro-bleme soos misdadigers wat trokke voorlê en paaie beskadig, is daar ’n ondernemingslus en die nuwe reeks trokke is met ope arms verwelkom.
“Ons bestelboek lyk goed, selfs van voor die amptelike bekendstelling af, en dit groei,” sê hy.
Soos altyd kan Scania met sy inhuisfinansieringsopsies mense ook help met planne om hulle vloot op te gradeer en hulle bied selfs goeie inruilpryse aan vir tweedehandse trokke van ander fabrikate.
Herstel- en onderhoudspakkette word saamgestel volgens die kliënt se behoefte en vermoë en veral in die landbousektor word die rol van seisoenale druk in ag geneem.
“Scania se tegnologie en diensondersteuning is net eenvoudig ligjare vooruit,” sê hy.
Vir meer inligting oor Scania se vervoeroplossings, skakel jou naaste Scania-handelaar of Scania se hoofkantoor by 011-661-9600 of skakel Christopher Magson by 072-122-5705, of besoek www.scania.co.za.