Categories: NuusPublished On: 9th September 2020

SAPD wil ou groen vuurwapenlisensies ongeldig verklaar

By 2 min read
361 words

vuurwapen-lisensie

Die staatsprokureur het SA Jagters op 8 September 2020 skriftelik in kennis gestel dat hulle voorneme is om die hofinterdik van Junie 2009, wat die ou groen vuurwapenlisensies geldig gehou het, te herroep.

Die staatsprokureur is van mening dat vuurwapeneienaars met ou groen lisensies meer as genoeg geleentheid gehad om hul lisensie te hernu gedurende drie geleenthede waar amnestie aangebied is. Die huidige amnestietydperk is die laaste van die drie waarna hy verwys.

Verder stel die staatsprokureur voor dat SA Jagters die hoofaansoek van 2009 onttrek en instem om die interdik van 2009 te herroep. Die Raad van SA Jagters was hierdie stap te wagte en het sy lede reeds vooraf gemaan om solank bevoegdheid te bekom om aansoek te doen vir nuwe lisensies om die ou groen lisensies te vervang.

Daar is uiteraard ook heelparty lede van die publiek wat steeds staatmaak op die ou groen vuurwapenlisensies en wat in presies dieselfde omstandighede as lede van SA Jagters sal wees indien die staat wel die interdik herroep.

Die Raad van SA Jagters het reeds in gesprek getree met sy regspan om te besluit hoe om hierdie saak vorentoe te bestuur.

Na die beste inligting beskikbaar is daar ongeveer 670 000 ou groen lisensies wat nog geldig kan wees. SA Jagters dink nie dit is haalbaar om die huidige amnestie te gebruik om hierdie wapens in te handig en vir nuwe lisensies aansoek te doen nie.

In die ongeveer 100 werksdae wat oor is van die amnestietydperk beteken dit dat minstens 6 700 wapens per dag by die polisie ingehandig moet word. Dit is bo en behalwe die naastenby 3 000 wapens per dag waarvan die wit lisensies verval het wat ook in hierdie tydperk ingehandig moet word. ’n Ander werkbare oplossing sal gevind moet word.

SA Jagters sal saam met ander belangegroepe in die vuurwapeneienaargemeenskap werk en waar nodig met ander groepe en individue konsulteer om oplossings te vind. SA Jagters versoek belangegroepe en lede van die publiek om SA Jagters te nader sodat ons so wyd moontlik kan konsulteer.

ʼn Kopie van die Staatsprokureur se brief is op versoek beskikbaar.

SA Jagters sal lede en die publiek ingelig hou soos hierdie proses vorentoe ontwikkel.

Bron: SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0