Categories: NewsPublished On: 26th September 2017

Sagtevrugtebedryf vier toewyding en volharding ondanks droogte

By 3 min read
529 words

group2

Die bedryfswenners vir 2017 is van links agter: Lucille Botha (Izethelo), André Roux (Innovasie Toekenning) en Leopoldt van Huyssteen (Voorloper Toekenning). Voor van links is Kammies Goliath (Spesialis Landbouwerker), Tumiza Nganunu (Gevorderde Landbouwerker), Errol April (Beste Nuweling), Jan van Wyk (tweede plek: Gevorderde Landbouwerker), Ricardo Theodore (tweede plek: Spesialis Landbouwerker) en Sonja Plaatjies (Algemene Landbouwerker 2017).

Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf het by hulle 42ste jaarlikse gala-aand op 22 September 2017 toekennings vir uitsonderlike prestasie in landbou gedoen. Sagtevrugte sluit appels, pere, appelkose, perskes, nektariens, pruime en pruimedante, kersies, tafeldruiwe en gedroogde druiwe in. Hierdie vrugte word hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou en gegewe die huidige droogte is dit betekenisvol dat daar erkenning gegee word aan toewyding en volharding.

Vier mense het toekennings vir uitsonderlike prestasie vir hulle werk op sagtevrugteplase ontvang en drie vir hulle regstreekse en onregstreekse bydrae tot die bedryf:

Tumiza Nganunu, junior produksiebestuurder op Steenebrug buite Piketberg, het die merietetoekenning ontvang vir Gevorderde Landbouwerker van die Jaar vir sy uitsonderlike prestasie in ’n bestuursrol. Die veeltalige Tumiza het ’n positiewe uitkyk op die lewe, hoë standaarde en het vinnig tot in hierdie pos gevorder. Hy bestuur twee voormanne en 150 toesighouers. Hy het verlede jaar die Landbouwerker van die Jaar-wedstryd van die Bergrivier Tafeldruiweprodusente-vereniging gewen.

Kammies Goliath van Eselfontein naby Ceres het die Spesialislandbouwerker van die Jaar-merietetoekenning ontvang vir uitsonderlike prestasie deur ’n intern opgeleide landbouwerker wat nou ’n spesialis in die veld is. Kammies werk al 39 jaar met plaagbeheer op die plaas. Hy bestuur ses spuitoperateurs wat nagskofte werk en klim self nog op die trekker wanneer sy spanlede rus nodig het. Sy jare ervaring, toegewyde belangstelling en aandag aan die fyner besonderhede is sy gewig in goud werd.

Sonja Plaatjies van die Wildekrans-landgoed in die Botrivier-omgewing het die Algemene Landbouwerker van die Jaar-merietetoekenning ontvang vir haar uitsonderlike werk, sterk persoonlikheid en goeie spanwerk. In haar drie jaar op die plaas het sy haar as betroubaar bewys en sy voer haar take met toewyding en na die beste van haar vermoë uit. Sy neem ook deel aan sosiale bedrywighede en speel in die gemeenskap se netbalspan.

Errol April van Amanzi naby Greyton het die Nuweling-toekenning ontvang as ’n nuwe sagtevrugteboer vir uitsonderlike prestasie in sy eerste vyf jaar in die bedryf. Die afgelope vier jaar het hy aansienlike persoonlike en sakeontwikkeling getoon onder moeilike omstandighede en met geen ondervinding van boerdery voor 2013 nie.

André Roux, direkteur van volhoubare hulpbronbestuur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het die Innovasie-toekenning ontvang vir sy tegniese bydrae om die uitdagings en probleme tot voordeel van die sektor en die groter gemeenskap te beredder. Sy agtergrond in ingenieurswese en kennis van landbou het gelei tot vernuwende besproeiingspraktyke om water, elektrisiteit en kunsmis te bespaar.

Leopoldt van Huyssteen, bedryfshoof van die Stellenbosse Universiteit, het die Voorloper-toekenning ontvang vir sy leierskaprol in die landbousektor oor ’n tydperk van 40 jaar. In dié tyd het hy op verskeie komitees en rade gedien en was hy drie jaar lank voorsitter van die Raad van die Grondkundevereniging van Suid-Afrika.

Lucille Botha het die Izethelo-mediatoekenning vir landboujoernalistiek ontvang. Sy het as algemene verslaggewer by Die Burger begin en het later bedryfsverslaggewer vir sagtevrugte en wyn by Landbouweekblad geword. Sedert 2013 is sy assistent-redakteur van laasgenoemde en ook betrokke by die handelsmerkuitbreiding Landbou Boerekos.

In 2016 het die sagtevrugtebedryf 2 252 boere ingesluit met ’n totale omset van R13,63-miljard per jaar. Uit die oogpunt van wêreldproduksie, val Suid-Afrika onder die top tien vir pere, die top twintig vir appels, appelkose, perskes, nektariens en pruime, en 64ste vir kersies.

Bron: Hortgro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0