Categories: NuusPublished On: 12th October 2023

Sagtevrugtebedryf steier onder vloedramp

By 2 min read

pear-3592969_1920

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf steier onder die impak van die onlangse oorstromings in belangrike produksiegebiede, veral in Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp (EGVV), dele van die Klein Karoo en Franschhoek.

Tydens ’n krisisgesprek met die Wes-Kaap Departement Landbou (WKDL) blyk dit dat die aanvanklike impak van die skade aan infrastruktuur tussen R400 tot R500 miljoen, net in die EGVV area, kan beloop. Die sagtevrugtebedryf is die grootste landbou kommoditeit wat in die streek verbou word.

Die WKDL het ’n selfoontoepassing geloods in ’n poging om kontak te maak met produsente wat skade gely het. Voorlopige data wat hierdeur ingesamel is, van 26 produsente in Grabouw-streek, dui daarop dat vloedskade in die omtrek van R160 miljoen beloop. Dit sluit nie Villiersdorp en Vyeboom in nie.

Infrastruktuurskade sluit in skade of vernietiging van: kragnetwerke, boorde, netstrukture, geboue, masjinerie, besproeiingstelsels en -toerusting, besproeiingskanale, asook paaie en brûe wat weggespoel het. Die afgelope naweek se reën het boonop verdere skade veroorsaak. Talle paaie en brûe op plase self, is totaal weggespoel.

Hortgro se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, sê dat bogrond en talle boorde ook in die slag gebly het. “Die produksieseisoen wat nou in alle erns begin, is erg ontwrig met spuitprogramme, asook bestuiwing, wat nie volgens skedule verloop nie en in die voorsiening van kritiese insette soos diesel.”

Van groot belang is om belangrike toegangspaaie en brûe in so mate te herstel dat produsente hulle werkers op die plase kan kry en steenvrugprodusente wat oor ’n paar weke begin oes, hulle vrugte by die markte kan kry. Daar is ook talle pakhuise in die EGVV vol kernvrugte bestem vir die uitvoermark, wat by die hawe moet kom, het Rabe gesê.

Die herstel en vervanging van besproeiingskanale, waterpype en -pompe is krities om die seisoen te probeer red. Kragtoevoer en selfoonopvangs is nog nie 100% herstel nie, wat dit logisties moeilik maak om hulp te verleen. Glaudi Skog, EGVV-landbou verteenwoordiger, het gesê die humanitêre nood in die streek is groot, met verskeie gemeenskappe wat kos en drinkwater benodig.

Hortgro het reeds R250 000 aan die Gift of the Givers geskenk wat kospakkies en ander nooditems in die onderskeie streke gaan versprei.
Daar word ’n beroep op die publiek gedoen om verdere skenkings aan Gift of the Givers te maak, om die mense van die EGVV en ander vloedrampgebiede by te staan.

Bron: HORTGRO

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment