SA Stamboek Hoofbestuurder

sa stamboek
SA Stamboek, die leier in diereaantekening en verbetering in Suid-Afrika en omstreke lewer ongeëwenaarde beste dienste en produkte aan sy lede, stoettelers en ander veeboere. Die Uitvoerende Komitee (EXCO) van Stamboek, bestaande uit verteenwoordigers van Telersgenootskappe, en die bestuurspan sorg dat die kwaliteit en uitbreiding van dienste en produkte onverpoos voortgaan tot voordeel van die veebedryf.
Alhoewel Dr Japie van der Westhuizen, Hoofbestuurder van SA Stamboek reeds ’n paar jaar gelede die Vereniging se uittree-ouderdom bereik het, was sy kontrak jaarliks hernu. Dit het EXCO, en die lede in staat gestel om die pas van uitbreiding te versnel na die stabiliteit wat Dr Pierre van Rooyen, vorige Hoofbestuurder, vir die Vereniging gebring het.
Dr Japie het reeds vroeër hierdie jaar aangedui dat hy die tuig as Hoofbestuurder wil neerlê aan die einde van Januarie 2024. Dit het EXCO genoop om die normale prosesse te volg om ’n geskikte opvolger te identifiseer en uiteindelik aan te stel. Alhoewel uitstekende kandidate die sogenaamde kortlys bereik het, is een voorkeurkandidaat geïdentifiseer waarna ’n werksaanbod gemaak is. Ongelukkig het die persoon uiteindelik nie die aanbod aanvaar nie.
Aangesien werwing, onderhoude, psigometrie en finale evaluasie betyds afgeskop is, was die verwagting dat ’n verklaring, en uiteindelik finale aanstelling betyds sou kon volg. Na deeglike oorweging en kundige advies, het SA Stamboek se EXCO besluit om, in belang van
Stamboek en ons lede, met ’n nuwe werwingsproses te begin vir geskikte kandidate vir die vervanging van Dr Japie van der Westhuizen, huidige Hoofbestuurder.

Dr Japie van der Westhuizen
EXCO en Dr Japie van der Westhuizen het derhalwe gesamentlik besluit dat hy sy pos as Hoofbestuurder vir die interim sal bly beklee tot ’n geskikte plaasvervanger aangestel is. Soos vooraf ook beplan is, sal daar ten tye van die aanstelling ’n behoorlike proses gevolg word vir
induksie en bystand om die oorgang vlot te laat verloop.
SA Stamboek se Uitvoerende Komitee en Hoofbestuurder het waardering vir die Lede en eksterne raadgewers se bystand, raad en hulp met die besluite wat gemaak moes word. Ons is opgewonde en optimisties oor die toekoms van hierdie Vereniging en ons lede.
Die onderneming word gegee dat die Lede en die breë veebedryf op hoogte gehou sal word van verwikkelings.
Bron: SA Stamboek