SA se landbou-uitvoere daal met R2-miljard
SA se ergste droogte in dekades het die land miljarde rand gekos. Volgens die Agricultural Business Chamber (Agbiz) het die land se landbou-uitvoere in 2015 vir die eerste keer in 10 jaar gedaal.
Die land se landbou-uitvoere het van R106-miljard in 2014 tot R104-miljard in 2015 gedaal.
Die droogte het gelei tot ‘n verhoging in voedselpryse. Voedselinflasie het verhoog van 7% jaar-op-jaar in Januarie na 11% jaar-op-jaar in Junie.
Afrika is SA se grootste mark.
Die Europese Unie was die bestemming van 27% van SA se landbou-uitvoere in 2015, met Asië wat 12% opgeneem het en die Midde-ooste met 7%. Amerika en die res van die wêreld het 5% van SA se uitvoere opgeneem.
Die sterkste afname in uitvoere was na Asië waar landbou-uitvoere met 15% vanaf R14,4-miljard in 2014 tot R12,2-miljard in 2015 geval het. Dit was veral met betrekking tot mielies.
Uitvoere na Afrika het met 3,5% geval van R49-miljard in 2014 tot R47-miljard in 2015 as gevolg van die sterk daling in suiker-uitvoere.
In teenstelling met die afname in uitvoere na Asië en Afrika, het uitvoere na Europa van R26,2-miljard na R28,3-miljard verstewig, met vrugte as die hoofuitvoerproduk (60%) en wyn wat vir 20% van die uitvoere gesorg het.
Bron: Bdpro en Bizcommunity