Rudi Delport: Vernuwende wildboer flink vooruit
Rudi Delport (48) is onlangs aangewys as Wildlife Ranching SA se Wildboer van die Jaar 2024 in die kategorie beste wildlewe-toerismeonderneming.
En as ՚n mens kyk wat hy sedert 2014 op Swa-Zulu, sy wildonderneming by Beestekraal tussen Brits en Thabazimbi in Noordwes verrig het, kan jy verstaan dat die dinamiese man berge kan versit. In ՚n kort tydjie het hy ՚n sterk volhoubare en winsgewende wildonderneming ontwikkel wat meer as 1 500 besoekers per jaar lok, en dit terwyl hy voltyds as IT-spesialis vir ՚n onderneming met kantore in Johannesburg en Pretoria werk en terselfdertyd boer.
Wildteling
“Ons is baie, baie trots daarop om WRSA se toekenning vir die beste wildlewe-toerisme-onderneming te ontvang,” vertel die groot man met die sagte hart. “Ek en my span het baie hard gewerk die afgelope sewe jaar.” Hoewel hy die plaas in 2014 gekoop het, het hy eers vanaf 2017 begin om dit as ՚n kommersiële wildsplaas-onderneming te bedryf. Die onderneming bestaan uit vier bene, naamlik wildteling, jag, ekotoerisme, verblyf en onthaal, asook brandhout maak.
“Ons wildteling maak ons uniek,” vertel Rudi.
“Ons het tans 24 spesies op die plaas, maar spesialiseer in die teel van blouwildebeeste, buffels en gemsbokke. Ons teel al die verskillende kleurvariante van die blouwildebeeste, wat die gewone blouwildebees en gouewildebees insluit, asook die koningswildebees en die witwildebees.”
Hy is ook trots daarop dat Swa-Zulu een van die min plase in die Bosveld is wat swartwildebeeste suksesvol teel. Volgens wet moet swart- en blouwildebeeste in afsonderlike kampe aangehou word om inteling te voorkom. Hy is net so trots op die teel van gewone, goue- en rooigemsbok. Die teling van Oos-Afrika-buffels is ՚n nuwe onderneming waarmee hy twee jaar gelede begin het. “Ons is trots op die genetika waaroor ons tans beskik.”
Jag
“Ons doen ook jag om ons wildgetalle te beheer en oorbeweiding uit te skakel. Veertig van die 120 groepe per jaar
is jagters. Ongebruikte produkte van die diere wat gejag word, word op ՚n sentrale punt uitgesit vir ons aasdiere. Dit weerhou die roofdiere daarvan om die nuwe aanteelt in ons teelkampe te vang.” Hulle gebruik ook donkies om jakkalse uit die teelkampe te hou.
Luukse jagtershutte
Daar is ook blyplek vir 98 gaste in drie lodges. Hy is besig om ՚n vierde lodge te bou wat teen April volgende jaar klaar behoort te wees en ՚n vyfde een wat teen Julie klaar sal wees. Dan sal hy 200 gaste kan huisves. Hulle hou ook funksies en tagtig van die 120 groepe maak gebruik van hulle onthaalgeriewe vir verjaarsdae of ander funksies. Hulle kry gemiddeld tussen 1 400 en 1 500 gaste per jaar en die gaste bly een of meer nagte oor op Swa-Zulu.
Vernuwende idees
Hulle maak gebruik van boerbokke om nuwe, ongewenste plantegroei op te vreet eerder as om gif te spuit. “Die boerbokke word bestuur en beheer deur die werkers. Met die boerbokboerdery gee die plaas vir hulle iets terug wat hulle vir hulself kan opbou.”
In die wildteelkampe word die inheem-se, vinniggroeiende rooiboswilg (Combretum apiculatum) uitgekap en in groot hoeveelhede verpak om die weidingskapasiteit te verhoog. Al die hout wat in die teelkampe en op die oop plaas uitgekap word, word verpak en 10 000 pakkies word op bestelling aan groot verskaffers gelewer. “Ons is ook baie trots op die gebruik van sonpanele by ons hoofingang en ander hekke, die elektriese heining en by die lodges. Dit help ook om die verbruik van Eskomkrag te verminder.”
Klein begin
Swa-Zulu beslaan tans sowat 1000 ha wat bestaan uit drie plase of eenhede langs mekaar. Die eenhede word afsonderlik bestuur vir wildteling en vir jag. Daar is 400 ha vir jag, 300 ha wat in sewe kampe opgedeel is vir teel en die ander 300 ha, wat ook in kampe opgedeel is, is oop vir ekotoerisme.
Die veld is bekend as middelveld en bestaan uit merendeels soetveld, maar daar is ook suurveld op golwende topografie met granietgrond en lieflike granietkoppies. Die Likkewaarspruit vloei 4 km deur die plaas. Rudi het die plaas opgebou van ՚n klein wegbreekplekkie met diere, sy groot liefde, waarheen hy naweke van sy werk in die stad kon ontsnap. “Ek het ook ՚n visie gehad om dit op te bou sodat die plaas homself kan betaal.”
Hy woon voltyds op die plaas, maar ry Dinsdae Johannesburg toe en Woensdae Pretoria toe vir sy werk by ՚n prominente bankgroep. Die res van die week werk hy van die plaas af.
Uitdagings
Volgens Rudi het elkeen van die afdelings sy eie uitdagings, maar hy en sy span stryk dit uit met die doel om net die beste vir hulle gaste te lewer. “Ons het geleer om saam te staan en saam te werk. Ons pak die uitdagings aan en omskep dit in ՚n geleentheid.
“Soos die keer toe ons ՚n groep van dertig toeriste gehad het wat almal saam agterop ՚n oop voertuig op ՚n wildkykrit wou gaan. Ons bestaande voertuie sou nie werk nie, maar toe maak ons binne ՚n uur ՚n plan en omskep een van ons sleepwaens in ՚n groot wildritwa wat ons agteraan ons gewone wildritvoertuig gehaak het.” Die verblyf word uitgebrei met die doel om uiteindelik beskikbaar te wees vir troues waar hulle tussen 200 en 250 gaste in die onthaalruimtes kan huisves.
Altyd iets nuuts
Swa-Zulu se toekomsvisie is om elke jaar te verbeter op die vorige jaar. “Meer as 90% van ons gaste is gaste wat keer op keer en selfs meer as een keer per jaar terugkeer hierheen. Ons wil elke keer vir hulle iets nuuts wys of met hulle deel. Dit wys dat al die inkomste uit die plaas weer teruggaan in die plaas om dit beter te maak vir ons gaste en ons diere.”
Kontak Rudi Delport by (+27)82-899-9900 of info@swazulu.com of besoek die webtuiste by https://swazulu.com/