Categories: Nuus, Vee en WildPublished On: 15th June 2018

RPO Noord-Kaap-kongres: Boere weer positief na die kongres

By 4 min read
RPO

DSC_0813 reg

Johan van der Colff , voorsitter van die RPO Noord-Kaap tydens die kongres in Kimberley.

“Die afgelope jaar het die rooivleisboere voor verskeie uitdagings te staan gekom in hulle bedryf. Die tydperk is veral gekenmerk deur die ergste droogte in dekades, onsekerheid op die politieke front met verwysing na onteiening sonder vergoeding, asook die onlangse uitbreking van listeriose,” het Johan van der Colff, voorsitter van die RPO (Rooivleisprodusente-organisasie) Noord-Kaap, by die organisasie se kongres in Kimberley gesê.

Johan het in sy voorsittersrede oor die drie bogenoemde risiko’s gepraat. “Daar het reёn in meeste gebiede geval, maar die ramp van die droogte is nog nie verby nie. Ek bedank graag almal wat hulle hande oopgemaak het sodat ons op ons plase kon bly,” voeg Johan by.

Verder was listeriose ’n groot probleem vir almal wat betrokke is by vleisproduksie. Johan sê dat 196 mense hieraan dood is. Die RPO se mening is ook dat Artikel 25 met betrekking tot die beskerming van eiensdomreg nie moet verander nie. “Die grond wat die staat gekoop het moet verdeel word aan die wat wel wil boer,” sê hy.

Die volgende sprekers was by die kongres:

Van die sprekers by die RPO NKkongres was dr Roelof Botha; JJ Scholtz (Koning); vise-voorsitter van die RPO Noord-Kaap; Johan van der Colff ; Tineil Hurter; Koos van der Ryst en dr Gustav Gous.

Henk van Wyk van Agri Noord-Kaap het gepraat oor Agri SA se skadebeperkingsplan vir onteiening sonder vergoeding. Agri SA het verskeie raadgewers, kenners, regs- en ekonomiese adviseurs gewerf om hulle in die saak by te staan.

Dr Pieter Vervoort van die Nasionale Dieregesondheidsforum het boere toegespreek oor uitvoere vanaf die plaashek. Hy het gepraat oor die slenkdalkoors wat uitgebreek het in Jacobsdal en dat boere bang moet wees. “Insekte is nie normaal vir hierdie tyd van die jaar nie. Boere moet voorbereid wees op wat kom, want bloutong kan ook uitbreek,” sê hy.

Hy het bygevoeg dat dinge so vinnig verander dat as jy oor vyf jaar toepas wat jy nou in jou boerdery toepas, jy nie gaan oorleef nie. Verder het hy redes vir die uitvoer van plaasprodukte bespreek. “Dit verseker voedselsekuriteit, verskaf werkskepping, verskaf buitelandse verdienste en bring geld in die land in. Landbou is die grootste bron van werkskepping, daarom moet ons gehalte produseer vir uitvoer,” sê hy. Daar word byvoorbeeld geen volstruisvleis meer uitgevoer nie, as gevolg van die voёlgriep.

Dr Roelof Botha, ekonoom, het gepraat oor die strategiese rol van landbou. “Ons probleme het minder te doen met staatskaping en meer met onbevoegdheid. Die politiek is besig met ’n omdraaiproses. Van die probleme in Afrika-lande, insluitend Suid-Afrika, is werkloosheid, gesondheid, onderrig, paaie, water, misdaad en sekuriteit, voedseltekort, elektrisiteit, korrupsie, behuising en sosiopolitieke geweld,” sê hy.

Tineil Hurter, ‘n MSc(Agric) Landbou-ekonomie student aan die Universiteit van Pretoria, het oor gehaltemerke, geografiese aanduiders en handelsmerke gepraat. Dit is van belang vir die verbruiker. “Die gehalte-eienskappe van vleis wat die verbruiker koop is die ervaring, smaak, varsheid, genot en sagtheid,” sê sy. Volgens haar neem ’n produk se gewildheid af as die handelsmerk nie sy beloftes nakom nie. “As jy iets negatief ervaar, hoor tot dertien mense dit, maar as jy iets positief ervaar, hoor net twee of drie mense dit.”

Sy sê iets soos Lamb in a box waar jy aanlyn vir jou skaapvleis kan bestel en dan kom lewer hulle dit by jou huis af beteken dat die verbruiker weet waar die vleis vandaan kom, omdat hulle direk met die verskaffer te doen kry en nie net die winkelrak nie.

Koos van der Ryst van die Nasionale RPO het oor die pad vorentoe gesels. Hy sê die RPO se doel is ’n mededingende en volhoubare rooivleisbedryf waarin daar vir boere waarde toegevoeg word en hulle waarde kan ontsluit.

Daar was ook soos elke jaar ’n motiveringspreker, om boere weer positief te maak om te boer. Dr Gustav Gous se tema was “Fiks vir die lewe” en hy het vir boere gevra of hulle werklik lewe en elke dag 100% benut.

Vir meer inligting oor die RPO se werksaamhede of om ’n lid te word, besoek gerus hulle webblad by www.rpo.co.za.

Johan van der Colff , konstabel JM Jullius, luitenant-kolonel Des Dick en brigadier Dick de Wahl by die dinee van die RPO se kongres. De Aar was die beste veediefstaleenheid in die Noord-Kaap.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0