Rovic stel nuwe geslag Syncroplant-mielieplanter bekend

IMG_3973
Willie Human, verkoopsbestuurder van Rovic in die Noordelike gedeelte van Suid-Afrika, het die nuutste Rovic-mielieplanter tydens vanjaar se Nampo by Bothaville in die Vrystaat bekend gestel.
Boere is opgewonde oor die nuutste Rovic-mielieplanter wat tydens vanjaar se Nampo by Bothaville in die Vrystaat bekendgestel is.
Willie Human, verkoopsbestuurder van Rovic in die Noordelike gedeelte van Suid-Afrika, sê Rovic is al die afgelope twaalf, dertien jaar verskaffers van die mielieplanter in die land en dit het met verloop van jare ontwikkel tot waar dit vandag is.
Die Syncroplant-mielieplanter is ‘n minimumbewerkingsplanter wat kunsmis en saad presies plaas sodat elke pit die beste kans op ontkieming en groei tot ‘n sterk, gesonde plant het.
Van die veranderinge aan die nuwegeslag-planter sluit onder meer nuwe tenks van plastiek in. Die planter se ou tenks was van vlekvrye staal vervaardig, terwyl die nuwe tenks van getoetste plastiek gemaak is. Die voordeel van die plastiek is dat dit bestand is teen die vretende uitwerking van vloeibare kunsmis.
Afhangend van die klant se behoeftes, kan een tipe kunsmis in die tenk geplaas word wat die planter uitmeet en agter die tand plaas. Alternatiewelik kan die stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) in drie afsonderlike tenks geplaas word. Die planter kalibreer die hoeveelhede, meet dit uit en stuur dit na die tande toe. Die drie afsonderlike tenks maak nie net presisiebewerking moontlik nie, dit bespaar tyd. As daar geplant moet word, is daar bie tyd vir omslagtigheid nie!

Verskeie verbeterings is aan die nuutste weergawe van Rovic se Syncroplant-mielieplanter aangebring, soos die tenks van vlekvryestaal wat vervang is met getoetste plastiektenks wat meer weerstand teen vretende vloeibare kunsmis bied.
Volgens Willie is daar ook veranderinge aan die tand se ontwerp aangebring. Dit is steeds ‘n getoetste stelsel, maar die meganismes is effens verander om grondbewerking te verbeter en om krag te absorbeer.
Daar is ook veranderinge aan die raam self om die planter meer modulêr te maak. Die ou buise wat ‘n klomp gesweiste afdelings gehad het, is verander na ‘n enkelplaat met die minimum sweispunte, wat dit natuurlik sterker maak.
Die wielstelsel is ook van dubbel- na enkelsilinders verander wat die voordeel inhou dat daar minder hidrouliese olie nodig is. Elke bietjie besparing help!
Agteraan is die betroubare, getoetste, wêreldbekende Precision Planting-karretjie, en die opsie bestaan om enige van Precision Planting se komponente daarop te kan monteer.
Volgens Willie bied Rovic in samewerking met Standard Bank verskillende finansieringsopsies tot en met prima minus 5% wanneer die boer die aankoop van die planter deur Standard Bank finansier.

Veranderings is aan die ontwerp van die tand van die minimum-bewerkingsplanter aangebring om groter presisie met die plasing van kunsmis en saad te verseker.
Die planter is by enige Rovic-handelaar beskikbaar. Kontak Rovic se naaste handelaar by www.rovic.com vir die beste diens.