Categories: NuusPublished On: 12th May 2025

Room van die oes is finaliste vir Jongboer van die Jaar

By 3 min read
508 words

Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar Finaliste 2025

Die Wes-Kaapse finaliste in die Jongboer van die Jaar-kompetisie is van links: Hermann Heins, Mario Lombard, Jaco Bruwer, Francois Rossouw, Musa Mfengu, Gordon Anderson, Andrè Swanepoel en Niel Bruwer.

Agt jong boere tussen die ouderdomme van 25 en 39 jaar  in die Wes-Kaap is pas aangewys as die finaliste in vanjaar se Jongboer  van die Jaar kompetisie. Om in aanmerking te kom vir die kompetisie moet jong boere jonger as 40 wees.

Die toekenning vier jong boere se uitnemendheid, leierskap en volgehoue toewyding tot die landboubedryf.

Volgens Inus Oosthuizen, die beoordelaars se sameroeper, is die finaliste jonk, maar reeds gevestigde boere wat ‘n waardevolle bydrae tot hulle gemeenskappe in die Wes-Kaapse landbou-ekonomie lewer. Jong boere moet onder 40 jaar oud wees.

Vanjaar se finaliste

Hermann Heins (25) bestuur ‘n boerdery met wingerd en 450 varksôe op ‘n plaas van 125 ha in die Stellenbosch-streek.

Jaco Bruwer (25) van Barrydale boer die afgelope vyf jaar met perskes, nektariens, pere, appelkose, suurlemoene en pampoene.

André Swanepoel (28) boer die afgelope sewe jaar in die Langeberg-gebied met sitrus, steenvrugte, wingerd en groente.

Francois Rossouw (30) boer ses en ‘n half jaar ondervinding met tafeldruiwe wat op 210 ha in die Hexriviervallei produseer word.

Gordon Anderson (36) boer die afgelope sestien jaar met appels en pere op 83 hektaar in die Overberg.

Niel Bruwer (37) van die Ceres/Hamlet-gebied het vyftien jaar ervaring van droevrugte op 90 ha en kernvrugte op 145 hektaar.

Musa Mfengu (39) van Tulbagh produseer al dertien jaar bloubessies op 36,6 hektaar.

Mario Lombard (39) boer al negentien jaar met avokado’s en vleisbeeste by George.

Opgewonde oor besoeke

Volgens Inus is die paneel van beoordelaars opgewonde oor die besoeke wat binne die volgende twee maande aan die finaliste se plase gebring gaan word.  “Elke jaar word ons verras deur die gehalte van jong boere in ons provinsie – en vanjaar is geen uitsondering nie,” sê hy.  Elkeen van die boere word op hulle plase besoek waar ‘n klompie

“Wat hierdie groep besonders maak is die diversiteit van boerderye wat ons gaan besoek wat strek vanaf bloubessies tot varke, en van tafeldruiwe tot avokado’s. Ek sien uit daarna om eerstehands te beleef hoe hierdie boere in hul onderskeie velde uitblink.”

Die wenner van vanjaar se Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar word op 11 Junie aangekondig. Die wenner dring saam met Jongboer-wenners uit ander provinsies deur na die Nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie wat later vanjaar plaasvind.

Dean Barnard van Waboomskraal, verlede jaar se Agri Wes-Kaap Jongboer van die jaar, se boodskap vir vanjaar se finaliste: ”Eerstens baie geluk aan elke Agri Wes-Kaap Jongboer-finaliste. Dit  is ‘n besondere prestasie en voorreg. Ek wil elke Jongboer sterkte toewens vir die finale beoordeling en mag die beste Jongboer wen.

“Die kompetisie bied ‘n geleentheid om nuwe jongboere te ontmoet en jou boerdery te meet teen van die land se beste Jongboere. Dit is ook ‘n geleentheid om nuwe vriende te maak en hulle plase te besoek.

“Ek het eers 2024 besef wat Agri Wes-Kaap werklik vir ons boere doen. Om Agri Wes-Kaap se Jongboer te wees en Agri Wes-Kaap op nasionale  vlak te verteenwoordig is ‘n baie groot voorreg. Mag vanjaar se Agri Wes-Kaap Jongboer die nasionale toekenning huis toe bring! Alle sterkte, finaliste, en mag die Here julle en julle boerderye seën.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0