Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 8th April 2024

Rooibos: Word wêreld se lieflingstee deur klimaatsverandering bedreig?

By 8 min read

rooibos 6

Reën wat in Julie 2023 groot skade aan infrastruktuur, boorde en wingerde in die noordwestelike deel van die Wes-Kaap aangerig het, het wonderbaarlik nie groot skade aan rooiboslande in die Sederberge veroorsaak nie. Dit is goeie nuus vir rooibosverbruikers. Of is dit?

Volgens Dawie de Villiers van Cape Natural Tea Products, ’n verskaffer en uitvoerder van grootmaat rooibos, het ’n lugopname aan die einde van 2023 getoon dat daar tans betekenisvol minder hektare rooibos as in vorige jare aangeplant is.

“Die regte hoeveelheid seisoenale reën speel ’n groot rol in die suksesvolle produksie van rooibos en die bogemiddelde reënval van 2023 was nie ideaal nie. Produsente het gesukkel met toegang tot hulle lande en rooibos wat in vlakker grond geplant was, het swaar gely onder die nat toestande.”

Volgens Dawie plant sowat 350 rooibosboere normaalweg tussen 10 000 en 20 000 hektaar per jaar tussen Malmesbury in die suide en Nieuwoudtville. Rooibos word aan nege verwerkers gelewer en die bedryf verskaf werk aan sowat 8 000 werkers.

Meer as 20 000 ton rooibos word jaarliks in die streek geproduseer waarvan sowat die helfte na meer as 45 lande wêreldwyd uitgevoer word. Japan, Frankryk, Duitsland, Nederland en die Verenigde Koninkryk is die grootste invoerders.

Verspreiding

Buiten ’n klein gebied by Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, kom rooibos (Aspalathus linearis) hoofsaaklik in die Sederberge rondom Clanwilliam voor.

Rooibos vorm deel van die fynbosbioom wat deel is van die Kaapse Floraryk en groei slegs in diep sand- en leemgrond in die sandveld, die Sederbergreeks, Gifberg en die Suid-Bokkeveld.

Rooibos groei net in die Sederberg-streek van die Wes-Kaap, wat die enigste deel van die wêreld bly waar dit kommersieel lewensvatbaar verbou word. Die Europese Kommissie het rooibos die status van ‘n Beskermde Oorsprong Benaming (Protected Designation of Origin – PDO) in hulle Geografiese Indikator-register gegee.

PDO’s erken die spesifieke herkoms van ’n produk en verseker verbruikers van die egtheid en gehalte daarvan. Die kombinasie van die Sederberg se klimaat, grond en mikro-organismes sorg vir ’n unieke terroir wat, net soos in die wynbedryf, ’n belangrike rol speel in die bepaling van die smaak, kleur en aroma van ’n produk van hoë gehalte. Daar is enkele voorbeelde waar daar probeer is om rooibos elders te kweek, maar sonder sukses.

Verbouing

Die hartland van die bedryf is die bergagtige gebiede weerskante van die Olifantsriviervallei en die hange en valleie van die Sederberge in die Wes-Kaapse winterreënvalgebied.

Die Mediterreense klimaat met koue winters en snikhete somers is ideaal vir die verbouing van rooibos. Navorsing bevestig dat rooibos die beste groei onder die regte omstandighede en sonder te veel inmenging van boere. Dit behels dat ligte of geen grondbewerking gedoen word nie en die aanplantings word ook nie besproei nie.

Rooibossaad, wat met die hand versamel word, word in Februarie en Maart in kwekerye ontkiem. Van Junie tot Augustus word saailinge in die landerye uitgeplant.

Die saailinge moet in goedgedreineerde grond geplant word. Ten tyde van die swaar reëns in Julie 2023 het die meeste boere gelukkig nog nie geplant nie, want die saailinge sou weggespoel het.

Na sowat 18 maande is ’n nuwe land rooibos gereed om geoes te word. Daarna kan dit jaarliks vir sowat vier tot vyf jaar geoes word. Alhoewel rooibos bekend is daarvoor dat dit stikstofvlakke in grond kan verbeter, is dit steeds belangrik om optimale grondgesondheid te verseker. Om hierdie rede word die lande na die vyfjaar-groeisiklus beplant met dekgewasse soos korog en lupiene wat noodsaaklike voedingstowwe in die grond terugsit.

Die rooibos word met die hand gesny en werkers dra die gerwe uit die landerye. (Bron: SA Rooibosraad)

Reënval

Volgens Martin Bergh, voorsitter van die Rooibosraad, is tipiese reënval in die rooibosproduksiegebied tussen 200 mm en 600 mm per jaar.

Die rooibosplantseisoen val saam met die aanvang van die winter, wanneer die winterreënval begin, aangesien die plant genoeg vog nodig het wanneer dit van die kwekerye af in die lande uitgeplant word. Die boere se tydsberekening moet goed wees, want teen die einde van Augustus moet die plantjies in die grond wees om voordeel te trek uit die verdere reën van die winterseisoen.

Gevestigde landerye is ook afhanklik van winterreënval en ’n goeie balans tussen reën en sonskyn is nodig vir gesonde ontwikkeling.

Hoër reënval is tot voordeel van hoërliggende rooiboslanderye teen die berghange waar die diep, goedgedreineerde grond met ’n lae klei-inhoud tot gesonde groei lei sodra dit warmer raak.

Volgens Martin groei die wortels tot sowat ’n meter diep. Waar die grond vlakker is en op 60 tot 80 cm kleierig raak, dreineer die grond nie so goed nie en die plante kan doodgaan. Op die vlakker grond kan net twee oeste afgehaal word voordat die grond uitgeput is. Die grootste probleem na goeie reëns is om onkruid te beheer.

Rooibos vorm deel van die fynbosbioom van die Kaapse Floraryk en groei slegs in diep sand- en leemgrond in die sandveld, die Sederbergreeks, Gifberg en die Suid-Bokkeveld. (Bron: SA Rooibosraad)

Klimaatsverandering

Hy sê boere was dankbaar vir die reën en die vol damme, veral in die lig van die moontlike El Niño-siklus gedurende die tweede helfte van die jaar. Die gevreesde El Niño-effek het gedurende 2015/16 groot droogte tot gevolg gehad.
“Klimaatkenners kan nie regtig voorspel wat die komende seisoen inhou nie en boere moet voorbereid wees op die moontlike gevolge van die klimaat. Klimaatmodelle dui daarop dat El Niño in die toekoms meer dikwels kan voorkom en tot uiters droë, warm toestande kan lei.”

Die gebied waar rooibos verbou word is nog altyd deur droogte geteister, maar hoër gemiddelde temperature kan in die toekoms die groei en fisiologie van die plant beïnvloed. “Die bedryf hou nogal ’n oog daarop,” sê Martin.

“Klimaatsmodelle voorspel ’n gemiddelde toename van 2,7 tot 3,2 grade Celsius per jaar, terwyl die winterreënvalvoorspellings wissel van 52 mm minder per jaar, tot 32 mm meer per jaar.

Hy sê die Model vir Interdissiplinêre Navorsing oor die Klimaat (MIROC) verskaf meer konserwatiewe voorspellings met minder dramatiese temperatuurstygings en hoër reënval.”

Dit dui daarop dat vir die tydperk tussen 2041 en 2070 die toestande vir rooibos op die hoërliggende dele van die tradisionele kweekgebied dieselfde sal bly. Aan die Weskus nader aan die see en veral in laerliggende gebiede waar die grond vlakker is, sal toestande minder gunstig wees, terwyl dit in hoërliggende, bergagtige gebiede in die suide meer konstant sal wees.

Dit beteken dat rooibosverbouing in die toekoms in die koeler, natter gebiede beter oeste behoort te lewer.

Rooibos word aan nege verwerkers gelewer wat die takkies en blare verwerk om uiteindelik die gesogte rooibostee te lewer wat wêreldwyd in aanvraag is. (Bron: SA Rooibosraad)

Bedryfsliggame

Die SA Rooibosraad (SARC), verteenwoordigend van die verwerkers en verpakkers in die bedryf en die Rooibosprodusentevereniging, verteenwoordigend van die boere in die bedryf, sien om na die belange van hulle onderskeie lede, sowel as die rooibosbedryf as geheel. Volgens Marthané Swart van die SARC twee liggame aansluit. “Die Rooibosraad se bedrywighede word befonds deur ’n vrywillige heffing wat aangewend word om die mandaat van die Raad te vervul,” sê sy.

Marthané meen dat die toename van verskillende tipes rooibosprodukte op winkelrakke goed is vir die bedryf. “Die volumes van rooibos het oor die afgelope vier tot vyf jaar van ongeveer 19 000 tot 22 000 ton gegroei. Die oorgrote meerderheid van die volumes word steeds gebruik in tee. Alhoewel daar baie produkte op die mark is, moet ՚n mens in ag neem dat die produkte meestal klein hoeveelhede rooibos gebruik, so dit word nie as ’n uitdaging vir die teemark gesien nie.”

Volgens Dawie is die toekoms van rooibos darem verseker. “Rooibos word al ongeveer 100 jaar kommersieel verbou. Bestaande kundigheid, verbeterde praktyke en vernuwing sorg vir die voortbestaan van die produk.”

Die rooibos word met ’n masjien in ewe lang stukkies gesny en gekneus voor die gistingsproses begin. (Bron: SA Rooibosraad)

Kontakbesonderhede

Kontak Marthané Swart by Marthane@skaa.co.za of besoek die webtuiste https://sarooibos.co.za/vision/.

Die volumes van rooibos het oor die afgelope vier tot vyf jaar van ongeveer 19 000 tot 22 000 ton gegroei. (Bron: SA Rooibosraad)

Bronverwysings

Genis, A. (2023) Rooibosboer span die natuur in teen struikelblokke. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/tuinbou/rooibosboerspan-die-natuur-in-teen-struikelblokke-20230203

Smith, N. (2024) Rooibos: Bemes só vir hoogste opbrengs. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/akkerbou/rooibos-bemes-sovir-hoogste-opbrengs-20240202

Smith, J., Hardie, A. (2024) Determination of optimal soil Hand nutrient concentrations for cultivated rooibos tea using the boundary line approach. https://doi.org/10.1080/02571862.2023.2259860

Trenchard, T. (2023) Trendy rooibos tea finally brings revenues to Indigenous South African farmers. NPR.org
https://www.npr.org/sections/goatsandsoda/2023/05/27/1176439193/local-farmers-in-south-africa-were-cutout-of-rooibos-tea-cash-now-changeis-bre

Van Schalkwyk, R, Hofman, J.E., Hardie, A., Van Zyl, J.L. (2023) Soil water dynamics and biomass production of young rooibos (Aspalathus linearis) plants https://www.nature.com/articles/s41598-023-416665.pdf#:~:text=It%20was%20reported%20by%20Stassen7%2C%20who%20did%20research,can%20increase%20stored%20soil%20water%20by%20conserving%20rainfall

Gedurende die gistingsproses word die rooibos op die droogblaaie uitgesprei en meganies omgekeer om dit te deurlug. Dit word natgegooi en in hope gestoot om tussen tien en veertien uur lank teen tussen 34 en 38 ºC te sweet. Die gistingsproses behels oksidasie wat aangehelp word deur ensieme wat in die plant teenwoordig is. Die proses verkleur die tee van groen tot geelbruin terwyl die besondere geur ontwikkel word. Die tee word dan versamel en in ’n verwerkingsaanleg gepasteuriseer. (Bron: SA Rooibosraad)

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment