Categories: ArtikelsPublished On: 14th April 2025

Rooi Case-trekker: Simbool van landbou

By 3 min read
665 words

Ivan by trekker

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou by die bloedrooi Case IH Puma-trekker waarmee hy vanaf Groentemarkplein in die hartjie van Kaapstad na die Parlementsgebou gery het om sy begroting van meer as R1 miljard voor te lê. (Bron: Verskaf)

Hoe rooier, hoe mooier, en die rooi Case IH Puma-trekker waarmee die Wes-Kaapse Minister van Landbou onlangs deur Kaapstad gery het, het beslis die koppe gedraai.

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het met ‘n bloedrooi Case IH Puma-trekker vanaf Groentemarkplein in Kaapstad die sowat 500 m na die Parlement afgelê om sy 2025/2026-begroting van meer as R1 miljard voor te lê.

“Hierdie simboliese trekkerrit beklemtoon die belangrikheid van landbou in die Wes-Kaap. Groentemarkplein het ‘n historiese verbintenis tot landbou, en die rooi trekker verteenwoordig die produsente en markte. Die parlement moet na die boere en werkers in die Wes-Kaap luister,” het dr Meyer gesê. Die simboliese gebaar onderstreep ook die Wes-Kaapse wetgewer se verbintenis met en toewyding tot die sektor.

Dr Meyer het veral erkenning gegee vir die baanbreker-vennootskap tussen die Departement van Landbou en die werktuigreus Case IH wat onderneem om navorsing en tegnologie in landbou te ontwikkel. Die vennootskap sal navorsing en presisieboerdery by die departement se sewe navorsingsplase in die Wes-Kaap ondersteun en daarmee die weg baan vir ekonomiese groei en werkskepping.

En dit alles, in die woorde van dr Meyer: “Uit liefde vir landbou!”

Dit is ook uit liefde vir landbou en in erkenning van die reusebydrae wat landbou tot die Wes-Kaap se ekonomiese en sosiale ontwikkeling maak dat dr Meyer sy begroting van R1 021 484 000 namens die boere van die Wes-Kaap voorgelê het.

Volgens hom speel die landbou en verwante verwerkingsektore ‘n belangrike rol in die Wes-Kaapse ekonomie en dra 11% by tot die provinsie se Bruto Nasionale Produk (BNP). “Dit onderstreep die belangrikheid van die sektor vir ons ekonomie. Altesaam 313 081 mense, of 11% , van die werksgeleenthede in die provinsie, is in landbou, en 66% van die Wes-Kaapse landbouprodukte word uitgevoer.” Nasionaal is die landbou in die Wes-Kaap ook belangrik: Die provinsie dra 55% van die Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere by en agt van die top tien uitvoerprodukte kom uit die Wes-Kaap.

Volgens dr Meyer is die Wes-Kaapse Groei vir Werk-strategie gemik op ondersteuning van landbou, landbou-sakeondernemings, voedselsekerheid en marktoegang. Dit alles is gemik op die bevordering van werksgeleenthede.

Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Departement Landbou, Wes-Kaapse regering saam met dr Ivan Meyer. (Bron: Verskaf)

Die begroting van R1 021 484 000 sluit in:

  • Administrasie R161,1 m
  • Volhoubare hulpbrongebruik en bestuur R143,9 m
  • Landbouprodusente-ondersteuning en ontwikkeling R305,6 m
  • Veeartsenydienste R117,8 m
  • Tegnologie- en navorsingsontwikkeling R155,5 m
  • Landbou-ekonomiese dienste R47,2 m
  • Landbou onderwys en opleiding R69,2 m
  • Landelike ontwikkeling R20,9 m

Ander belangrike aankondigings sluit in:

Altesaam 30 000 ha landbougrond sal gerehabiliteer word wat tot 1 100 groen werkgeleenthede sal lei.

Memorandum van ooreenkomste met kommoditeitsorganisasies sal binne 100 dae hernu word.

Tesame met projekvennote Casidra en die Sagtevrugte Ontwikkelingstrust sal die departement 3 800 boere adviseer en 50 vaardigheidsoudits van landbou-ondernemings uitvoer. Die program beplan om 2 750 huishoudings met voedselproduksie-inisiatiewe te ondersteun.

Die Wes-Kaapse Veeartseny Provinsiale Laboratorium sal sy Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasie by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling voortsit en beskerm as die Voedselveiligheid- en veeartseny-toetslaboratorium vir residu-analise, mikrobiologiese toetsing en siekte-diagnostiek. Die doel hiervan is die voortsetting van die vlak van kontrole van vleisveiligheid en die onderhoud van voldoende abattoir-kapasiteit vir die prdouksie van veilige vleis in die provinsie.

Die Wes-Kaapse kantoor vir veeartsenykundige uitvoersertifikasie sal verder uitgebrei word ten einde die doeltreffendheid en deursigtigheid in uitvoersertifikasie te verbeter.

‘n Memorandum van onderneming met die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) vorder fluks, wat die Uitvoersertifikaat-kantoorstelsel (ECOS) vir uitvoer van vis sal toelaat.

Inisiatiewe vir ontwikkeling van plaaslike en internasionale markte word voortgesit ten einde landbou en geprosesseerde produkte te bevorder.

Agri-prosessering bly ‘n sleutel-katalisator vir groei. Klem sal geplaas word op die ondersteuning van klein, medium en mikro-ondernemings met behulp van kapasiteitsontwikkeling, advies en tegniese ondersteuning, as ook fasilitering van finansiële ondersteuning.

Die Wes-Kaapse Prestige Agriwerker-kompetisie word in die onderskeie streke voortgesit.

Volgens dr Meyer is landbou is die mees kompeterende sektor in die ekonomie van die vyf landelike distrikte van die Wes-Kaap; toerisme gegrond op landbou is die tweede grootste.  “Hierdie begroting ondersteun die landbou- en toerismebedryf se groei en potensiaal om werk te skep.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0