Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 22nd May 2024

Rekordgetal besoekers by NAMPO 2024

By 3 min read
502 words

IMG_4660

Met groot geesdrif stroom derduisende boere elke jaar na NAMPO-oesdag by Bothaville in die goeie ou Vrystaat om die nuutste neigings in landbou te aanskou.

Graan SA se NAMPO-oesdag het oor die jare heen gegroei van ‘n klein begin in 1967 tot die reuse landbouhandelstentoonstelling van wêreldformaat wat dit vandag is. Maar waar het dit alles begin?

Die Oesdag het ontstaan te danke aan die inisiatief van drie boere van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann. Vir mielieboere was die sestigerjare ‘n oorgangstyd na grootskaalse meganisasie en losmaathantering van graan en daar was ‘n wesenlike behoefte om trekkers en werktuie op ‘n groter skaal in werkende toestande te sien en te vergelyk as net een maatskappy wat sy produkte op jou plaas demonstreer.

Op 7 en 8 Junie 1967 is die eerste SAMPI Oesdag op Donkerhoek – die plaas van Hannes van Wyk – naby Bloemfontein gehou. Altesaam agt uitstallers het deelgeneem en 203 mense het dit bygewoon. In die daaropvolgende jare is die skou op verskeie plase gehou, totdat dit in 1974 groot genoeg geword het vir ‘n permanente tuiste by NAMPO-park naby Bothaville.

NAMPO se vee-afdeling, wat beeste, skape, varke en bokke insluit, verteenwoordig byna honderd persent van die groot- en kleinveerasse.

Hierdie beskeie begin was die ontstaan van ‘n landbougefokusde, behoeftegedrewe handelskou wat konstant gegroei het tot ‘n nuwe rekordgetal besoekers van 86 474 vanjaar. ‘n Nuwe rekordbywoning op een dag is vanjaar op Woensdag, 15 Mei, aangeteken met 25 505 besoekers en altesaam 865 uitstallers. 298 vastevlerkvliegtuie en 75 helikopters het deur die loop van die week by NAMPO geland.

Baie mense wil weet of diegene wat invlieg boere is. “Dit is ‘n verskeidenheid van mense, wat insluit sake-eienaars en internasionale besoekers wat invlieg. Tussen 30 en 40% van diegene wat invlieg is boere,” meen Dirk Strydom, hoof van NAMPO se Bemarking en Navorsingsontwikkeling.

Die 56ste aanbieding van die Oesdag het vanjaar vanaf 14 tot 17 Mei te NAMPO=park, Bothaville plaasgevind. Met heerlike sonskynweer was dit die warmste NAMPO in jare, wat beslis ook tot die goeie bywoning bygedra het.

NAMPO bied boere ’n goue geleentheid om toegang te verkry tot inligting en interaksie te hê met verskaffers van dienste en produkte wat verband hou met produksie, masjinerie, voedselverwerking, insette, presisielandbou, tegnologie, finansiële oplossings en meer.

Die tema van NAMPO vanjaar was “Landbou in ’n digitale era” en uitstallers het behoorlik uitgehaal en met die nuutste, wêreldklas-landboutegnologie gespog.

Dirk meen: “NAMPO speel ’n belangrike rol om die landbousektor te verbind deur aan boere ’n eenstop-omgewing te bied vir interaksie en om sake met klein en groot besighede en relevante rolspelers te doen.”

NAMPO Kaap & ALFA

NAMPO Kaap word op Bredasdorp aangebied vanaf 11 tot 14 September en NAMPO ALFA, die lewendehawe-, jag- en buitelewe-ekspo vanaf 17 tot 19 Oktober op NAMPO-park.

2025 NAMPO-oesdag

NAMPO se datums vir aanstaande jaar is reeds vasgestel op 13 tot 16 Mei 2025 op NAMPO-park buite Bothaville. Besoek www.nampo.co.za vir meer inligting of volg hulle op sosialemediaplatforms.

Met heerlike sonskynweer was dit die warmste NAMPO in jare, wat beslis ook tot die goeie bywoning bygedra het. (Foto: NAMPO Facebookblad).

 

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1