Categories: NuusPublished On: 1st September 2025

Rekordbywoning, unieke uitstallings en top vermaak by Boerebemarkingsdag 2025!

By 2 min read
316 words

536686166_1258973912696235_3453595101324312393_n

Die Vivo Boerebemarkingsdag 2025, wat op 22 en 23 Augustus plaasgevind het, het sy reputasie as Limpopo se grootste landbou-ekspo bevestig. Met ‘n bywoning van sowat 5 000 mense, insluitend kleuters en laerskoolkinders wat gratis toegang geniet het, het die ekspo weer eens bewys hoe belangrik en invloedryk hierdie jaarlikse geleentheid vir die streek is.

Dié dinamiese geleentheid, aangebied deur CVO Skool Vivo, is meer as net ‘n fondswerwingsinisiatief. Dit is ‘n belangrike ontmoetingspunt vir boere, entrepreneurs, gesinne, besighede en die plaaslike gemeenskap.

Die ekspo het meer as 100 landbou-uitstallers gehuisves, met ‘n fokus op tegnologie, tegniek en bemarkingsgeleenthede in die landbousektor. Besoekers het ook gesmul aan plaaslike lekkernye en handgemaakte produkte by die gewilde MammaMall met 66 uitstallers, asook 16 kosstalletjies wat heerlike plaaslike disse aangebied het. Vanjaar is geskiedenis gemaak met die grootste aartappelsakkie-uitstalling in Suid-Afrika, sowel as die eerste en grootste boerekep-uitstalling nog.

Besigheidspaneelbesprekings het diepte en insig gebied, met sprekers soos Izak du Plessis, Ernst Roets, en Bennie van Zyl, en Maroela Media wat aktief deelgeneem het aan gesprekke oor boerdery, media en bemarking.

Die naweek was propvol vermaak: Eloff het Vrydagaand die verhoog betree met ‘n energieke vertoning, terwyl Ricus Nel Saterdagaand die skare behoorlik aan die dans gekry het. André Kock en Seuns Veeveilings het ook ’n lewendige en suksesvolle veiling aangebied, wat baie belangstelling getrek het onder plaaslike boere en kopers. Vir jong besoekers was daar hope interaktiewe en opvoedkundige aktiwiteite, wat die geleentheid werklik gesinsvriendelik gemaak het.

Verskeie kompetisies het regdeur die naweek plaasgevind, en plaaslike talent en kreatiwiteit is behoorlik gevier. Die kompetisiewenners sal later amptelik aangekondig word. Hou ons sosiale media en ander mediakanale dop vir die finale bekendstellings!

’n Spesiale dankie aan al ons uitstallers wat die Boerebemarkingsdag moontlik gemaak het. Julle insette en betrokkenheid het vanjaar se ekspo ’n ongelooflike sukses gemaak. Ons waardeer elkeen se harde werk en passie, en kan nie wag om julle weer terug te verwelkom in 2026 nie!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0