Reinke spilpunte ondersteun besproeiingsboerdery in die Vrystaat

WhatsApp Image 2025-09-29 at 09.52.34
Kanola in die Vrystaat! Ja dit is moontlik en die bewyse is by Wesley Smit op Johan Claasen Boerdery se plaas buite Bothaville waar die kanola ryg onder die Reinke spilpunte groei.
Op die plaas van Johan Claasen Boerdery buite Bothaville speel moderne besproeiing ‘n sentrale rol in die sukses van die boerdery se gewasproduksie. Wesley Smit, algemene bestuurder van die boerdery se besproeiingseenheid, deel sy insigte oor die implementering van Reinke spilpunte en hoe dit bydra tot effektiewe watergebruik, betroubare besproeiing en die uitbreiding van gewasrotasie in die Vrystaat.
Wesley is deel van die Johan Claasen Boerdery Groep en bestuur die dag-tot-dag aktiwiteite van die besproeiingseenheid. Die boerdery self is ‘n familiebesigheid wat oor die jare uitgebrei het tot ‘n uitgebreide boerdery met vyf hoofgewasse. In die winter word koring en kanola geplant, terwyl aartappels, sojabone en mielies die somergewasse vorm. Hierdie jaar het hulle die vyfde gewas, kanola, verder geïntegreer as deel van hulle winterrotasie.
Die besluit om kanola in die Vrystaat te plant, is volgens Wesley goed deurdag. “Ons het ‘n gewas gesoek om nog ‘n wintergraan by te voeg. Kanola bring waarde nie net primêr nie, maar ook sekondêr deur die grondgesondheid te verbeter. Ons ondersoek dit nog, maar hierdie jaar wys dat ons ons kanse goed benut het. Kanola het definitief ‘n plek as wisselgewas in die Vrystaat.”
Wesley beklemtoon dat kanola se waterbehoeftes relatief laag is in vergelyking met ander gewasse. “Op ons koring besproei ons tussen 700 en 750 mm, maar vir Kanola is tussen 400 en 450 mm voldoende. Dit was ‘n groot motivering in die besluit om die gewas hier te plant.” Die grootste uitdaging is egter die regte planttyd vasstel, aangesien kanola se blomtyd sensitief is vir temperatuurfluktuasies. “Hy hou van koue aande en warm dae, maar nie van vinnige delta-temperatuurveranderings nie,” verduidelik Wesley.
Om die watergebruik optimaal te benut en energiekoste laag te hou, het die boerdery besluit om spilpuntbesproeiing in te stel. Johan Claasen Boerdery het 8 Reinke-spilpunte, wat in ‘n tydperk van 18 maande opgerig is. Die Reinke-spilpunte besproei al die gewasse en wissel in grootte van 50 ha tot 6,5 ha. Die eerste drie Reinke-eenhede is twee jaar gelede geïnstalleer, en die vyf nuwe eenhede is in hulle eerste seisoen vanjaar in gebruik.
Wesley sê die besluit om met Reinke saam te werk het oor meer as net die tegnologie gegaan. “Die kompetisie is goed, maar Reinke se struktuur is sterk en stewig. Nog belangriker is dat dit voel of ons met familie praat wanneer ons met Patrick en sy span werk.” Die beplanning, installasie en implementering van die spilpunte het vlot verloop. Van uitpak tot volledige werking neem minder as ‘n dag.
Die praktykbeoordeling toon dat die Reinke-spilpunte die boerdery se besproeiing betroubaar en doeltreffend maak. “Opbrengsgewys is dit nog te vroeg om definitief te sê, maar omdat die masjiene betroubaar is, is daar geen staantyd nie. Jy weet jou oes gaan suksesvol wees,” sê Wesley. Verder het Wesley se spilpunte laer inlaatdrukke, wat energieverbruik verminder sonder om die gewasse se waterbehoefte te benadeel. Hierdie kombinasie van doeltreffendheid en betroubaarheid maak ‘n merkbare verskil in water- en insetbestuur.

Wesley Smit is die algemene bestuurder op die besproeiingsplaas buite Bothaville wat deel is van die JCB-groep.
‘n Unieke voordeel van Reinke se ontwerp is die strukturele integriteit wat die spilpunt sterk maak sonder om onnodige struktuur op te rig wat in die pad van die water kan wees. Die ligter struktuur beteken dat die wielspoor nie te diep trap nie, en die spuitpakket werk baie effektief. Op Johan Claasen Boerdery gebruik hulle ‘n 12 mm spuitpakket, wat volgens Wesley die naaste aan natuurlike reëndruppels kom.
Die persoonlike ervaring van Wesley met Reinke se ondersteuning is besonder positief. “Die ondersteuning van Reinke maak dat dit net ‘n fees is om met hulle te werk. Hulle familiewaardes stem ooreen met ons eie. As ek hulle aan ander boere moes aanbeveel, sou ek sê: ‘Gaan maak ‘n draai by Reinke want hulle maak reeds draaie hier by my.’”
Sedert die Reinke-spilpunte in gebruik geneem is, het die boerdery se kapasiteit om presies te beplan wanneer en hoeveel water toegepas word, aansienlik verbeter. Dit laat Johan Claasen Boerdery toe om water meer effektief te benut, risiko’s te verminder en insetkoste te optimaliseer. Vir besproeiingsboere in die Vrystaat bied hierdie tipe tegnologie dus ‘n duidelike voordeel, nie net in gewasproduksie nie, maar ook in langtermyn volhoubaarheid van boerderypraktyke.
Met die sukses van die kanola en die ondersteuning van Reinke-spilpunte, is Johan Claasen Boerdery se besproeiingsplaas ‘n voorbeeld van hoe moderne boerdery en gesonde vennootskappe hand aan hand kan gaan om produktiwiteit en waterdoeltreffendheid te optimaliseer.
Vir navrae oor enige van Reinke se produkte of dienste, kontak Patrick Ellis by (+27)87-654-5828 stuur ‘n e-pos na salesrsa@reinke.com.