Reinke Afrika bou saam aan die toekoms van landbou by Hoërskool Volkskool

IMG_6971
Die Hoër Volkskool in Potchefstroom het tydens hul onlangse oesdag op 26 Februarie ’n besondere mylpaal bereik met die eerste suksesvolle oes van groen mielies op die skool se terrein. Hierdie prestasie is die resultaat van harde werk, gemeenskapsamewerking en veral die volgehoue betrokkenheid van Reinke Afrika – ’n vennoot wat veel meer as net ’n borg is.
Die landbousektor by die hoërskool is tans in sy derde bestaansjaar en het in ’n kort tydperk merkwaardig ontwikkel. Op 4,5 hektaar op die skoolterrein is ’n Reinke-spilpunt geïnstalleer – ’n belegging wat die grondslag lê vir volhoubare produksie en praktiese landbou-opleiding.

Mielies vir die dag se verkope.
Vennootskap maak beduidende verskil
PW van Aswegen, hoof van die Hoër Volkskool, sê Reinke se betrokkenheid is veel meer as net ondersteuning – dit is ’n vennootskap wat tasbare resultate lewer.

Die Hoër Volkskool se pragtige gebou.
“Die Hoërskool Volkskool is nie net ryk aan tradisie nie, maar ook doelgerig in ons visie vir die toekoms,” sê hy. “Reinke het nie bloot ’n spilpunt geïnstalleer en daarna onttrek nie. Hulle bly aktief betrokke, ondersteun ons landboudepartement deurlopend en stap die pad saam met ons. Ons eerste oesseisoen het beter gevaar as wat ons ooit sou kon droom. Dit dien as ’n duidelike bewys van hoe doeltreffend en betroubaar Reinke se besproeiingstegnologie werklik is.”
Hy verwys na ’n lewensles wat hy by sy pa geleer het: “Hoe nader aan die grond, hoe nader is jy aan die Skepper.” Volgens hom weerspieël hierdie ingesteldheid presies wat by die hoërskool gebeur. Reinke het van die begin af in dié droom geglo. “Hulle het nie gehuiwer nie – hulle het gesê: ‘Ons glo in wat julle hier probeer bou.’ Dit was nooit net ’n eenmalige belegging nie. Hulle het deel van die proses geword, raad gegee, ondersteuning verleen en saam met ons gegroei.”

PW van Aswegen, die Hoër Volkskool se hoof.
Van Aswegen beklemtoon verder dat die projek enorme potensiaal ontsluit – nie slegs vir die leerders nie, maar ook vir die breër gemeenskap. Die Hoër Volkskool is bekend daarvoor dat hulle teruggee, en ’n gedeelte van die groen mielie-oes is reeds aan ouetehuise en welsynsorganisasies geskenk as ’n gebaar van dankbaarheid teenoor die gemeenskap wat die skool ondersteun.
Hul langtermynvisie is duidelik: om die skool meer selfonderhoudend te maak, terwyl leerders terselfdertyd deeglik voorberei word vir die werklikhede van moderne voedselproduksie.
“In die landbousektor daar buite is die druk enorm,” sê Van Aswegen. “Hier kan leerders reeds prakties leer, eksperimenteer en selfs foute maak op ’n kleiner skaal. Teen die tyd dat hulle die skool verlaat, is hulle nie net teoreties toegerus nie – hulle is prakties gereed.”
Praktiese blootstelling verander lewens
Vir die Volkies-leerders beteken die projek veel meer as net nog ’n skoolaktiwiteit – dit het iets persoonlik geword, iets waarvan hulle deel voel.

Johannes Lombard en Phillip Niemand twee graad 12 landbou-leerders by Hoër Volkskool.
Johannes Lombard, wat nie uit ’n boerdery-agtergrond kom nie, vertel hoe die praktiese blootstelling sy perspektief verander het.
“Ek kom nie van ’n plaas af nie, so vir my beteken dit baie om hier by die skool eerstehands te kan sien hoe alles werk. Om self by die spilpunt betrokke te wees en prakties te leer, maak ’n groot verskil. Dit was ongelooflik om te sien hoe vinnig die mielies binne net ’n week gegroei het, ek het een week nog tussen die lande geloop met nie eers ’n kop wat uitsteek nie en toe die volgende week staan die mielies al.”
“Dit is toe ek besef het regtig hoe groot die impak van die besproeiing is.”
Vir Phillip Niemand, wat wel van ’n plaas kom, het die projek selfs nuwe insigte gebring.
“Ek het grootgeword op ’n plaas, maar hierdie projek het my ’n dieper insig gegee van hoe alles stap vir stap gedoen word. Die praktiese deel maak dit anders – jy leer goed wat jy nie net in ’n klaskamer op papier lees nie. Dit gee vir ons ’n heel nuwe leerkurwe.”
Die leerders besef ook dat hulle ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van die landbou-afdeling. As die eerste groep wat hierdie projek help vestig, stel hulle die standaard vir wat in die toekoms moontlik is. Phillip sê trots: “Eendag wil ek met my kinders hier verby ry en vir hulle wys ek was deel van hierdie projek. Dit is iets waarop ’n mens trots kan wees.”

Landbou-leerders voor hul mielielande.
Wat egter die grootste indruk laat, is die entoesiasme en passie waarmee die leerders oor die projek praat. Dit is duidelik dat landbou nie net nóg ’n vak op hul rooster is nie, maar iets veel groter. Daar heers ’n sterk gevoel van trots en verantwoordelikheid wat verder strek as net punte en assesserings.
Johannes en Phillip vertel dat dit veral tydens aktiwiteite op die landerye is waar ’n mens kan sien hoe die groep saamstaan. “Ons werk sommer saam,” verduidelik hulle. “As iemand iets nie verstaan nie, help die ander dadelik. Ons ruil idees uit en leer by mekaar.”
Volgens hulle het die projek ’n sterk gevoel van gemeenskap onder die leerders geskep. “Dis nie net elkeen vir homself nie – ons leer saam, werk saam en groei saam,” sê hulle. Die meer ervare leerders neem vanself leiding, terwyl ander nuuskierig vrae vra en nuwe vaardighede aanleer. “Mens voel deel van iets groter,” sê hulle.

Dames landbou-leerders voor Reinke spilpunt se beheerkas.
Verder noem hul dat hierdie samewerking het ’n nuwe kultuur in die landbou-afdeling geskep. Volgens hulle sou dit nie moontlik gewees het sonder Reinke se spilpunt nie. “As die besproeiing nie hier was nie, sou ons nie hierdie geleenthede gehad het nie,” sê hulle.
Vir hulle gaan die projek dus oor meer as net leer – dit gee hulle ’n gedeelde droom vir die toekoms.
Doelgerigte onderwys
Mnr. Johan Herbst, landboutegnologie-onderwyser wat reeds 16 jaar aan die skool verbonde is, beskryf die projek as ’n droom wat bewaarheid is.
“Reinke was die ‘kickstart’ van hierdie ongelooflike projek. Selfs voordat die grond volledig bewerk was, het hulle in die droom geglo. Sonder hul ondersteuning sou ons nie hierdie oes gehad het nie, veral aangesien ons grond nie ideaal was vir aanplantings nie.”
Hy verduidelik dat besproeiing deel vorm van die gr. 12-sillabus, en dat die installasie van die spilpunt ’n reusevoordeel vir die leerders is om prakties te kan leer.

Johan Herbst, landboutegnologie-onderwyser.
“Hulle hoef nie meer na eksterne plase te gaan om praktiese blootstelling te kry nie. Alles gebeur hier op ons eie grond en stel die leerders in staat om te sien en vinnig te leer oor die belangrikheid van waterskaarsheid tot die doeltreffende benutting daarvan. Dit maak die leerproses tasbaar en meer opwindend as om in ’n klaskamer te sit.”
Die suksesvolle oes stel die landboudepartement nou in staat om verder uit te brei en nuwe geleenthede te skep, soos die ontwikkeling van voerkrale. Die inkomste wat uit die oeste gegenereer word, kan weer terug in die departement geploeg word om volhoubare groei te verseker. Geleenthede soos die oesdag is van onskatbare waarde, want sulke dae bied nie net praktiese leergeleenthede vir die leerders nie, maar dra ook direk by tot die ontwikkeling en uitbreiding van die landbou-afdeling op die skool se eie terrein.
Herbst beklemtoon ook die belangrike rol wat landbou speel vir leerders wat nie noodwendig so sterk in die akademie is nie omdat hulle meer prakties aangelê is.

Gr. 12-leerders in die mielielande tussen hul indrukwekkende mielies.
’n Breër visie vir Suid-Afrika
Phillip Coetzer, verkoopsbestuurder van Reinke Suid-Afrika, sê dit is vir die maatskappy noodsaaklik om by skole betrokke te raak.
“Ons moet die boere van môre reeds vandag begin ontwikkel. Deur leerders bloot te stel aan moderne besproeiingstegnologie, wys ons vir hulle hoe vinnig landbou ontwikkel en hoe belangrik innovasie is, en om met alles op datum te probeer bly.”

Phillip Coetzer, Reinke SA se verkoopsverteenwoordiger.
Hy beklemtoon ook die groter konteks van voedselsekerheid.
“Dit is belangrik dat jongmense reeds op skoolvlak verstaan hoe groot die uitdaging van voedseltekorte is en watter rol tegnologie speel om dit aan te spreek.”
Vir Reinke gaan hierdie betrokkenheid dus oor meer as net infrastruktuur – dit gaan oor volhoubaarheid, kennisdeling en ’n langtermynbelegging in Suid-Afrika se landboutoekoms.

Volkies leerders besoek die Reinke stalletjie.
Meer as ’n borgskap
Reinke Afrika se betrokkenheid by die Hoër Volkskool wys duidelik dat hulle nie bloot as ’n borg optree nie. Hulle is ware ondersteuners van ’n baie blink toekoms.
Die sukses van die eerste groen mielie-oes is nie net ’n landbouprestasie nie, dit is ’n belegging in mense, vaardighede en die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.
En vir die Hoër Volkskool is dit maar net die begin …

Reuse-mielies in die lande.