Radium Engineering se maroen masjiene pronk by NAMPO

DSC_0182
Radium Engineering se kunsmis- en kalkstrooier is die grootste van sy soort in Suidelike Afrika. Hy hou twintig ton sodat jy kan strooi en klaarkry sonder knaende onderbrekings om aan te vul, en hy strooi perfek volgens die behoefte van elke deel van die land.
Vindingrykheid, betroubaarheid en voorslag-vakmanskap is die gedagtes wat by ՚n boer opkom by die aanhoor van die naam, Radium Engineering.
Grant Roest se oupa het Radium Engineering 45 jaar gelede begin, en die handelsnaam spog sedertdien by elke NAMPO. “My pa het by my oupa oorgeneem en na sy afsterwe het ek ingetree. Ek en my vennoot, Jaco Orsmond, wil die onderneming van krag tot krag neem,” vertel Grant. Hy is tans die uitvoerende hoof en sy vennoot is die hoofbedryfsbeampte.
Radium Engineering se produkreeks bestaan uit grondbewerkingstoerusting, strooiers, graafmasjiene, voermengers en snyers. Een van die maroen masjiene wat tydens NAMPO van nader bekyk kon word was die 20 ton kunsmisstrooier. Hierdie vlaagskip-model het verstellings wat verseker dat die boer wenakkerbeheer kan toepas en dat presies die regte hoeveelheid kalk of kunsmis op die regte plek in die land gestrooi word. Daarvoor sorg die wisselbare toediening.
“Wat hierdie werktuig uniek maak, is sy kapasiteit,” sê Grant. “Dit is een van die grootstes wat die mark bied. Die neiging deesdae is dat groter ook beter is. Boere moet meer produktief wees, meer geld bespaar en minder brandstof gebruik. Om meer kunsmis vinnig op een slag te strooi sonder knaende onderbrekings om te hervul, help om hierdie doel bereik.
“Wat die strooier van ander onderskei, is die kettingvervoerband wat ons gebruik en hidrouliese skywe wat meer akkuraatheid gee in die strooipatroon. Dit strooi ook wyer. Daar is ՚n dubbel-as en breë wiele sodat dit maklik deur die and beweeg met die minimum grondverdigting.”

Hierdie strooier het ՚n kamera sodat die operateur nie heeltyd hoef om te kyk om te sien wat met die werktuig gebeur nie. Daar is ook bykomende ligte sodat jy van vroegdag tot laat kan werk, selfs wanneer die son vroeg sak in die winter.
“Vir ons gaan dit alles oor diens — dit is nie net ՚n produk wat verkoop word nie; ons lewer gehalte naverkopediens en onderdele is 24/7 beskikbaar. Maak nie saak hoe oud jou Radium-werktuig is nie, ons tegnici is altyd beskikbaar om hom volstoom aan die loop te hou. Waar ons nie onderdele beskikbaar het nie, is ons in die posisie om dit self te maak,” sê Grant. “Dit is een van die voordele van plaaslik vervaardigde produkte. Ons maak seker dat ՚n werktuig selfs twintig jaar nadat jy dit gekoop het, steeds hou en werk.

“Die strooier is al vir sewe jaar op die mark, maar daar was drie jaar se proewe in samewerking met kontrakteurs omdat hulle aansienlik meer materiaal deur ՚n strooier sit as ՚n boer in ՚n tydperk van ՚n paar jaar.
“Onder ons grondbewerkingsprodukte is die Powerrip baie gewild vir die Afrika-mark. Dit kan die grond diep bewerk. Omdat Afrika-boere staatmaak op grondvog, help diep bewerking om water meer doeltreffend te absorbeer en op te berg,” verduidelik Jaco.
“Ons werktuie is gehard en sal nie maklik breek nie. Dit is swaarder, maar ook sterker as ander. ՚n Skeurploeg, byvoorbeeld, moet teen ՚n redelike spoed en met die krag van die trekker harde grond losbreek. Dit moet ook nie breek wanneer dit ՚n groterige klip in die grond tref nie,” sluit Jaco af.
Om meer uit te vind oor Radium Engineering se werktuie wat die boer se lewe makliker maak, besoek hulle webtuiste by www.radium.co.za. Stuur gerus ՚n e-pos aan Shannon Michelle by shannon@radium.co.za of skakel haar by +27(0)76-687-1339.
Kyk die volledige video op ProagriMedia: