Proteas: Sukses begin by die regte grond en klimaat

A King or Giant Protea
A King or Giant Protea (Protea cynaroides), South Africa's national flower, growing in Table Mountain National Park, South Africa.
Proteas is een van Suid-Afrika se bekendste blomme en vorm deel van die land se unieke fynbos-erfenis. Buiten hul indrukwekkende voorkoms, is hulle ook ’n belangrike uitvoerproduk wat wêreldwyd gesog is.
Tog is proteas nie ’n gewas waarmee ’n boer ‘sommer net kan begin nie’. Om sukses te behaal, moet daar van die begin af aandag gegee word aan faktore soos grond, klimaat, watergehalte en marktoegang.
Proteas aard nie orals nie
Een van die belangrikste beginsels van suksesvolle proteaverbouing is om te bepaal of jou plaas werklik geskik is vir die gewas. Proteas is baie sensitief vir hul omgewing en verskillende spesies het elk unieke vereistes ten opsigte van grond, klimaat en watergehalte. Daarom behoort grondontledings en watertoetse die eerste stap van enige nuwe onderneming te wees. Net so belangrik is ’n deeglike begrip van die plaas se mikroklimaat, aangesien temperatuur, wind en reënval ՚n groot invloed op produksie het.
Regte aanplanting lê sterk grondslag
Proteas presteer die beste in sonnige, goed gedreineerde grond met goeie lugbeweging. Grond wat water ophoop, verhoog die risiko van wortelsiektes en swak plantontwikkeling. Wanneer plante gevestig word, moet die plantgat ruim voorberei word, sonder die toevoeging van kunsmis of kompos.
Proteas verkies natuurlik arm gronde met lae fosfaatvlakke, en oormatige bemesting kan skade aanrig. Nadat die plante gevestig is, is deeglike natmaak noodsaaklik om die grond rondom die wortels te vestig. Gedurende die eerste paar maande moet die plante gereeld water ontvang totdat nuwe groei sigbaar is.
Versorging bepaal uiteindelike opbrengs
Hoewel proteas as geharde plante bekend staan, vereis hulle steeds deeglike bestuur. ’n Deklaag van strooi of dennenaalde help om die wortels koel te hou, vog te bewaar en onkruid te onderdruk. Gedurende droë tydperke is aanvullende besproeiing belangrik, terwyl gereelde inspeksies vir plae en siektes voorkom dat klein probleme groot
verliese veroorsaak. Ná blomtyd behoort plante teruggesnoei te word om hul vorm te behou en toekomstige blomproduksie te stimuleer.
Begin met plantmateriaal van hoë gehalte
Die gehalte van die plantmateriaal speel ’n beduidende rol in die uiteindelike sukses van die onderneming. Gesonde,
gesertifiseerde steggies lewer sterker plante, beter blomgehalte en meer eenvormige produksie. Vir produsente wat die uitvoermarkte wil betree, word kultivars soos koningproteas (Protea cynaroides), baardsuikerbos (Protea neriifolia-hibriede), speldekussings (Leucospermum) en keëlbos (Leucadendron) algemeen aanbeveel. Internasionale kopers verwag eenvormige stingellengtes, konsekwente blomgroottes en betroubare blomtye.
Werk duur voort ná oestyd
Die werk is nie klaar wanneer die blom gesny word nie. Oestyd bepaal grootliks die gehalte wat uiteindelik by die koper aankom. Blomme moet op die korrekte stadium geoes, versigtig hanteer en onmiddellik afgekoel word om hul vaaslewe te verleng.
Daarna word stingels volgens lengte en blomgrootte gesorteer en volgens kopers se spesifikasies verpak. ’n Betroubare koueketting vanaf die plaas tot by die eindbestemming is noodsaaklik om die proteas se gehalte te behou.
Dink verder as net produksie
Baie suksesvolle proteaprodusente fokus nie net op die verbouing van blomme nie, maar probeer ook soveel moontlik van die waardeketting self bestuur. Deur eie plantmateriaal te produseer, blomme self te bemark en selfs uit te voer, kan waarde toegevoeg word en winsgewendheid verhoog word. Sertifisering speel ook ’n toenemend belangrike rol. Internasionale koers vereis dikwels standaarde soos GlobalGAP, wat bewys lewer van volhoubare produksie, naspeurbaarheid en verantwoordelike boerderypraktyke.
’n Langtermynbelegging
Proteaboerdery verg geduld. Anders as sommige eenjarige gewasse, is proteas ’n langtermynbelegging wat deeglike beplanning vereis. Wanneer die regte kultivars op geskikte grond geplant en goeie bestuurspraktyke gevolg word, kan
hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse blom dekades lank ’n winsgewende onderneming wees.
Met die groeiende vraag na proteas en fynbos op internasionale markte, is daar uitstekende geleenthede vir boere wat bereid is om in gehalte en volhoubaarheid te belê. Proteaboerdery is beslis nie ’n “plant-en- vergeet”- onderneming” nie. Dit verg deeglike beplanning, die regte grond en water, uitstekende plantmateriaal en noukeurige bestuur van plant tot uitvoer.
Vir boere wat bereid is om die nodige tyd en navorsing in te sit, bied hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse blom egter uitstekende langtermyngeleenthede – beide plaaslik en op die internasionale mark.
Bronne:
Africa. A guide to flower farming in South Africa. https://www.foodformzansi.co.za/a-guide-to-flower-farming-insouth-africa/
Food for Mzansi. Indigenous flowers: A new path to profit for SA farmers. https://foodformzansi.co.za/indigenousflowers-a-new-path-to-profit-for-safarmers
AIPH. Protea power driving South African floriculture. https://aiph.org/floraculture/news/protea-power-driving-south-africanfloriculture
Food for Mzansi[Pm2.1]. Protea & fynbos farming in South Africa: Inside the cut flower industry. https://www.foodformzansi.co.za/indigenous-flowers-anew-path-to-profit-for-sa-farmers/ (Foto’s: Envato)



