ProAgri SA 317

Proagri_317_July_2026
Elke boer weet dat sukses nie net bloot lê in harde werk nie, maar ook in die bereidwilligheid om voortdurend te leer, aan te pas en nuwe tegnologie te implementeer.
Ons span het onlangs Val Boeredag bygewoon, waar ons weer eerstehands kon beleef hoe vinnig landbou en landboutegnologie ontwikkel en ook met kundiges kon gesels. Om die ou veteraantrekkers weer in aksie te sien en dit te vergelyk met die gevorderde tegnologie, indrukwekkende implemente en presisieboerdery-oplossings wat vandag op plase gebruik word, laat ’n mens net een ding besef: landbou staan nie stil nie.
Dit is daarom gepas dat New Holland se nuwe T8-trekkerreeks die maand op die voorblad van ProAgri SA pronk. Hierdie reeks verteenwoordig die volgende stap in krag, doeltreffendheid en slim tegnologie vir die moderne boer.
Lees meer op bladsy 3 oor die indrukwekkende trekkerreeks.
Hierdie uitgawe bring egter veel meer as net meganisasie. Ons is opgewonde om met twee nuwe artikelreekse te begin wat oor die volgende paar uitgawes voortbou op praktiese kennis en nuwe geleenthede in die landboubedryf. Die eerste reeks fokus op die gebruik van hommeltuie in makadamiaboorde.
Hommeltuie het in ’n kort tyd ontwikkel van interessante tegnologie tot waardevolle bestuursinstrumente wat boere help om vinniger en meer ingeligte besluite te neem. In die eerste artikel kyk ons na hoe hierdie tegnologie reeds ’n verskil maak in die bestuur van makadamiaboorde en watter moontlikhede dit vir die toekoms inhou.
Ons begin ook met ons nuwe boer met blomme-reeks, waarin ons die wêreld van blomproduksie verken. Blomme bied interessante geleenthede vir diversifikasie en ons sien uit daarna om stories, praktiese raad en suksesverhale uit hierdie groeiende bedryf met ons lesers te deel.
By ProAgri glo ons dat kennis een van die belangrikste hulpmiddels op enige plaas is, en daarom bly ons daarna streef om die jongste tegnologie, nuwe tendense en beproefde praktyke na ons lesers te bring. Dit bly ’n voorreg om saam met die Suid-Afrikaanse landboubedryf te groei en die stories te vertel van die mense wat elke dag ’n verskil maak.
Ek hoop hierdie uitgawe bied nuwe idees, praktiese oplossings en inspirasie vir die seisoen wat voorlê.
Lekker lees!
Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za