ProAgri SA 313

Proagri_313_March_2026
Beste ProAgri-lesers,
Maart bring altyd ’n sekere rustigheid … ’n oomblik waar mens amper kan asem skep ná die gejaag van die seisoen. Tog is dit ook ’n tyd van voorbereiding, aanpassing en vooruitsigte vir die nuwe seisoen. Die seisoen is besig om te draai.
Dae raak stadig maar seker korter, die koeler weer is tasbaar in die lug en daar is vooruitsigte vir ’n nuwe seisoen. Baie boere maak gereed vir strooptyd en ook daarmee saam vir winter, en die nodige voorbereidings word nou noukeurig op plase in plek gestel.
Dit is ook tans lamtyd by ons op die plaas, ’n tyd wat my elke jaar weer stilmaak. Daar is iets besonders aan die geboorte van nuwe lewe, daardie klein, perfekte lammers wat hul eerste tree gee wat mens soveel nuwe hoop en perspektief gee. Dele van die land het baie goeie reën gekry, iets waarvoor ons opreg dankbaar is. In ander dele word die bek-en-klouseer-entstowwe reeds volstoom toegedien en diere word ingeënt. Dit bring ’n groot verligting vir baie boere en skep weer lig aan die einde van ’n lang en uitdagende tonnel. Ons dink egter steeds aan ons mede-boere wat nog swaarkry onder die druk van die siekte. Julle bly in ons gedagtes.
Ons wil ook ’n spesiale woord van dank rig aan elke veearts wat saam met boere hierdie pad stap: die wat ure insit, oplossings help bring, en dikwels agter die skerms werk om ’n verskil te maak. Jul rol in die landbougemeenskap is van onskatbare waarde. Vir my persoonlik is hierdie uitgawe ook besonders. Hierdie jaar merk my vyfde jaar by ProAgri en as ek terugkyk, is dit amper onwerklik hoe vinnig die tyd gevlieg het. Al het ek self op ’n plaas grootgeword en steeds aktief betrokke is by ons boerderye, het hierdie pad my ’n heel nuwe perspektief op landbou gegee.
Om deel te wees van ProAgri beteken om deel te wees van ’n veel groter landbougemeenskap, een wat strek oor provinsies, tale en verskillende boerdery-tipes. Ek het oor die jare nie net meer geleer oor tegnologie en praktyke nie, maar veral oor mense. Die stories van boere se deursettingsvermoë, geloof en harde werk bly my daagliks inspireer. Boerdery bly maar ’n saak van geloof … en om op jou knieë te bly. Mag hierdie seisoen vir elkeen nuwe moed, nuwe hoop en nuwe geleenthede bring.
ProAgri-groete!
Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za