ProAgri SA 312

Proagri_312_February_2026-voorblad
Beste ProAgri-lesers, Februarie bring vanjaar nie net die ritme van ‘n nuwe seisoen nie, maar ook ’n swaar realiteit waarmee ons landboubedryf tans gekonfronteer word. Bek-en-klouseer is in die kollig, en die impak daarvan strek veel verder as net die plase waar uitbrekings aangemeld word. Dit raak boere se inkomste, veilings, uitvoermarkte, logistiek, en uiteindelik ook die ekonomie van ons land.
Vir baie veeboere beteken dit onsekerheid… oor bewegingsbeperkings, oor marktoegang, oor die toekoms van kuddes wat oor jare opgebou is. Vir ander rolspelers in die waardeketting beteken dit vertraging, finansiële druk en moeilike besluite. As landbougemeenskap verstaan ons dat ’n siekte soos hierdie nie net ’n veeartseny-kwessie is nie, dit is ’n nasionale saak wat verantwoordelikheid, dissipline en samewerking van almal vereis.
Ons by ProAgri dink in hierdie tyd spesifiek aan elke boer en elke gesin wat direk geraak word. Ons weet hoeveel toewyding, opoffering en harde werk in elke dier, elke hektaar en elke besigheid lê. Mag ons in hierdie uitdagende tyd mekaar ondersteun, inligting verantwoordelik deel, en saamstaan om die bedryf te beskerm wat ons almal voed.
Te midde van hierdie uitdagings was dit egter bemoedigend om te sien hoe sterk die jaar afgeskop het. Balfour Hooidag en Ermelo Hooidag het weer bewys dat Suid-Afrikaanse boere nie terugstaan vir innovasie en vooruitgang nie. In die veld by hierdie Hooidae kon boere die voorste hooitoerusting en landboumasjinerie in aksie sien.
Die balerresies was ook weer ’n hoogtepunt! ’n Kombinasie van tegnologie, vaardigheid en gesonde kompetisie. Vir ons as landboumedia is sulke dae goud werd. Dit gee ons die geleentheid om nie net oor toerusting te skryf nie, maar om dit in die veld te sien werk, saam met die boere wat dit daagliks gebruik.
Ons is ook opgewonde om ’n nuwe lid van die ProAgri-familie te verwelkom. Nicole Fourie het onlangs by ons aangesluit as junior landboujoernalis. Nicole bring vars energie, nuuskierigheid en ’n passie vir landbou.
Ons dink aan elke boer, elke werker en elke gesin wat deur bek-en-klouseer geraak word. Mag daar wysheid wees in besluitneming, spoed in oplossings, en ’n hernieude eenheid in ons bedryf.
ProAgri-groete!
Bianca Pretorius
bianca@proagri.co.za