Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 13th November 2025

ProAgri SA 309

By 2 min read
397 words

Proagri_309_November_2025-Voorblad-

Beste ProAgri leser,
November is die maand waar die belofte van somer al voelbaar is — die reuk van vars grond, reën wat al geval het, nuwe groei, en daardie unieke afwagting vir wat die seisoen gaan bring. Dit is ook die tyd van die jaar waar ons dikwels terugkyk, maar ook met nuwe hoop vorentoe kyk.

In hierdie uitgawe bring ons vir jou ’n paar stories wat lig laat skyn op die mense agter die landbou — die ware harte en hande van die bedryf. Een van hierdie inspirerende stories is dié van Shannon Robertson, die 25-jarige assistentbestuurder van Boschendal se lewendehawe-afdeling, wat onlangs as die 2025 Wes-Kaapse Prestige Agriwerker-wenner aangewys is. Shannon is ‘n ware toonbeeld van passie en deursettingsvermoë — ’n herinnering dat landbou nie net oor grond en diere gaan nie, maar oor mense met vuur in hulle oë en ’n liefde vir groei. Haar verhaal is ’n inspirasie vir jong mense wat hulle plek in landbou probeer vind. Lees meer op bladsy 14.

Ons kyk ook na ’n belangrike oorgang by Yara, waar Ig Ferreira, ná 38 jaar in diens van die maatskappy, aan die einde van Desember die leisels oorhandig aan Wikus Grové. Ig se loopbaan was ’n bewys dat ware leierskap spruit uit diensbaarheid, verhoudings, en die wete dat “niks is ’n gegewe nie.” Sy opvolger bou nou voort op dié sterk grondslag, met die wete dat volhoubare groei altyd begin by mense wat glo in hulle produk, hulle span en hulle boere. Lees meer op bladsy 6.

Ons voorbladstorie fokus op Dux Agri, ’n maatskappy wat nie net produkte verkoop nie, maar werklik ‘n verskil in die grond maak. Dux Agri lei die pad na regeneratiewe boerdery en glo dat gesonde grond die beginpunt is van volhoubare voedselproduksie. Hulle toegewydheid aan die boer en sy grond weerspieël hulle missie om boerderypraktyke te bevorder wat herstel, beskerm en groei, nie net vir vandag nie, maar vir die toekoms van
ons landboubedryf.

Terwyl ons hierdie stories deel, word dit al hoe duideliker dat landbou se krag lê in mense wat saamstaan, aanpas en steeds glo… ten spyte van uitdagings, droogtes, insetkoste en politieke onsekerheid. Oral in die land sien ons boere wat plant, oes, herstel en hoop. En dit is presies daardie gees wat ProAgri elke maand wil vier.

Groete vanaf die ProAgri-span!
Bianca Pretorius
bianca@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0