Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 5th August 2025

ProAgri SA 306

By 2 min read
438 words

Proagri_305_August_2025_Front Cover

Vir my is die landboubedryf nie net deel van my werk nie, dit is ’n leefwyse. En die landboubedryf is nie net ‘n woord nie, dit is iets wat diep in my gewortel is. Ek is gebore op die plaas, in ‘n landbougemeenskap grootgeword, tussen ploegvore, diere en plaashekke, en vandag het ek die voorreg om stories te vertel van mense wat daagliks hulle hele hart in hierdie bedryf sit.

Hierdie maand is vir my ekstra spesiaal, want dis Vrouemaand. In Augustus staan ons vroue in die kollig, en hoe
besonders is dit nie om te sien hoe sterk en vasberade ons boervroue en vroue in die landboubedryf regoor Suid-Afrika is nie!

In hierdie uitgawe het ons sommer ’n paar stories ingepak wat my hoendervleis gegee het. Vroue wat hulle staal wys – nie omdat hulle iets het om te bewys nie, maar omdat hulle met oorgawe en liefde doen wat hulle doen. Dit is vroue wat ondernemings bestuur, vroue wat voor vat, vroue wat families grootmaak én plase aan die stuur en aan die gang hou; vroue wat agter die skerms skitter en die wat hulle merk in die veld en bestuurstafels los, en ons is ongelooflik trots om hulle stories in hierdie uitgawe en deur die loop van die maand op ons webwerf en sosiale media platforms met jou te deel.

Ek moet ook sê…as vrou in die landboubedryf voel ek dikwels só geseënd. Dit is nie elke dag dat ’n mens kan sê jy werk in ’n bedryf waarvoor jy hart en siel omgee nie. Dit is ’n bedryf van mense wat reguit, eerlik en passievol
is. Dit is mense wat glo in harde werk, in mekaar, en in die Here se voorsiening. En dit gee my hoop.

Nog ‘n hoogtepunt in hierdie maand se uitgawe, is die 30ste Val Boeredag wat plaasgevind het, wat ’n mylpaal! Hierdie dag het oor die jare vir baie boere ’n hoogtepunt op die landboukalender geword. ’n Dag waar boere weer skouers skuur, bietjie kan gesels, leer oor nuwe (en ouer) tegnologie en sommer net weer daaraan herinner word hoekom jy doen wat jy doen. Die Val Boerevereniging het regtig iets besonders gebou, en om 30 jaar te vier is ’n groot prestasie. Ons gee jou in hierdie uitgawe ’n kykie na die hoogtepunte van die dag. Blaai na bladsy 24 vir meer.

So vat jou koffie (of tee) en sit rustig – ons het vir jou ’n lekker volgepakte uitgawe vol stories en landbou inligting.

Tot volgende keer, bly warm en lekker boer!

Landbou groete!

Bianca Henning – bianca@proagri.co.za

 

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1