ProAgri SA 305

Proagri_305_July_2025_Front Cover
Beste ProAgri-leser,
Die winter lê koud en styf oor die land, maar ons boere se gees bly vurig. Ons bevind ons tans in ՚n tyd van groot onsekerheid – veral met die uitbreking van bek-en-klouseer wat druk plaas op veeboere in verskeie dele van die land. Hierdie siekte se impak strek wyd: nie net oor gesondheid en produksie nie, maar ook oor toegang tot markte en die vertroue in ons plaaslike voedselketting. Ons moedig alle veeboere aan om aan te hou volstaan, om hul protokolle streng na te kom en om mekaar in die tyd te ondersteun.
Tog bring die seisoen ook hoop … oral begin boere voorberei en plant vir die komende seisoen. Ons wens elkeen van julle krag, reën en vrugbare oeste toe. Mag daar in elke landbou-akker nuwe lewe en seën groei.
In hierdie nuwe uitgawe fokus ons op temas wat reg in die hart van boere lewe. Op ons voorblad pryk New Holland se indrukwekkende groot trekkers en ons kyk hoe hierdie trekkers en tegnologie jou boerdery tot die volgende vlak kan neem. Ons gesels ook met TLU SA en werp lig op die belangrikheid van deelname aan georganiseerde landbou – nou meer as ooit, het boere ’n kollektiewe stem nodig.
’n Besonderse storie in hierdie uitgawe is die van ‘n unieke artisjokboerdery in die hart van die Klein-Karoo. Ons kyk ook na die uitdagings waarmee melkboere tans worstel: van insetkoste tot wisselvallige pryse – en hoe boere in hierdie sektor maniere vind om steeds te oorleef en te floreer.
Elke storie, elke artikel in hierdie uitgawe is met sorg saamgestel – vir jou, die boer wat nooit tou opgooi nie. Dankie dat jy deel is van die ProAgrifamilie. Bly vasberade, bly begeester – en boer met hoop! Ons wil graag van jou hoor. Reik uit na ons, deel jou storie met ons; ons kom kuier graag by jou met ՚n beker boeretroos op jou plaas.
Landbou groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za