ProAgri SA 304

Proagri_304 June2025_Internal Link_Cover
‘n Seisoen van saamstaan en vooruitkyk
NAMPO het weer eens bewys waarom dit die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond is. Vier dae lank het die landbousektor saamgekom – boere, verskaffers, kundiges en families – om die nuutste tegnologie te beleef, hande
te vat, en idees uit te ruil.
Die gees van samewerking en vernuwing was tasbaar in elke saal en op elke standplaas, tussen die proewe geplant en op elke paadjie tussen uitstallings. Die ProAgri-span het met trots mediadekking tydens die geleentheid gedoen, internasionale rolspelers ontmoet en inligting ingesamel om met ons boere en lesers te deel – en ons sê dankie vir elke boer, rolspeler en onderneming vir julle bydrae tot ’n ongelooflik suksesvolle week.
In hierdie uitgawe deel ons ’n paar van die NAMPO-hoogtepunte wat ons opgewonde maak oor die toekoms van landbou. Pioneer deel van hulle praktiese veldfeite en kundige raad wat boere help om ingeligte besluite op grondvlak te neem. Ons kyk ook na iets besonders: ’n boerbok met die naam Next Level wat onlangs vir ’n ongelooflike R2,3-miljoen verkoop is – ’n bewys van hoe genetika en teelwaarde ’n nuwe standaard in die bedryf stel.
Verder wys Gallagher vir ons dat sukses nie net in produkte gemeet word nie, maar ook in betrokkenheid. Hulle het pas gehelp om ’n bedreigde jagluiperd ’n nuwe tuiste te gee by die Karongwe Private Wildreservaat – ’n projek wat wys hoe landbou en bewaring hand aan hand kan gaan. NAMPO herinner ons telkens daaraan hoe veerkragtig en vooruitstrewend die landbougemeenskap is. En dit is presies wat ons nodig het – veral nou, soos ons besef: ons het die halfpadmerk van 2025 bereik.
Die eerste ses maande van die jaar het ons almal voor unieke uitdagings en geleenthede gestel – van onvoorspelbare weerpatrone tot skerp insetkostes, maar ook nuwe markte en sterker vennootskappe. Nou is dit tyd om asem te haal, terug te kyk, en strategies vorentoe te kyk. Wat het gewerk? Waar kan ons aanpas? Hoe bou ons voort op momentum? By ProAgri bly ons toegewyd daaraan om elke maand vir jou toepaslike, praktiese en vernuwende landbouinhoud te bring.
Ons wil jou nie net inlig nie – ons wil jou bemagtig. Mag die winter vir jou ’n tyd van voorbereiding wees – vir beplanning, vir grondherstel, en vir groei, sodat die tweede helfte van 2025 jou beste nog kan wees.
Landbou groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za